1. Vandag gaan ons voort om die tema van oorsaak en gevolg te ontwikkel. 2Jy is nie die slagoffer van die wêreld wat jy sien nie, want jy het dit self uitgedink. 3Jy kan dit net so maklik opgee as wat jy dit gemaak het. 4Jy sal dit óf sien óf nie sien nie, soos jy dit verlang. 5Solank jy dit wil hê, sal jy dit sien; wanneer jy dit nie meer wil hê nie, sal dit nie meer daar wees vir jou om te sien nie.

2. Vandag se idee is, soos die voriges, op jou innerlike en uiterlike wêrelde, wat in werklikheid dieselfde is, van toepassing. 2Omdat jy hulle egter as verskillend sien, sal die oefenperiodes vir vandag weer twee fases behels, die een wat betrekking het op die wêreld wat jy buite jou sien, en die ander een op die wêreld wat jy in jou geestesdenke sien. 3Probeer tydens vandag se oefeninge die idee tuisbring dat beide in jou eie verbeelding bestaan.

3. Ons sal weer die oefenperiodes vir die oggend en aand begin deur vandag se idee twee of drie keer te herhaal, terwyl jy om jou heen kyk na die wêreld wat jy as buite jouself sien. 2Sluit dan jou oë en kyk rond in jou innerlike wêreld. 3Probeer om beide so gelykwaardig moontlik te behandel. 4Herhaal vandag se idee sonder haas so dikwels jy wil, terwyl jy die beelde wat jou verbeelding aan jou bewussyn voorlê, dophou.

4. Vir die langer oefenperiodes word drie tot vyf minute, maar nie minder as drie nie, aanbeveel. 2Jy kan meer as vyf bestee as jy die oefening rustig vind. 3Om dit te vergemaklik, kan jy ’n tyd kies wanneer jy min steurings verwag, en jy self redelik gereed daarvoor voel.

5. Hierdie oefeninge moet gedurende die dag voortgesit word, so dikwels moontlik. 2Die korter toepassings bestaan daaruit om die idee stadig te herhaal, soos jy hetsy jou innerlike hetsy jou uiterlike wêreld ondersoek. 3Dit maak nie saak watter een jy kies nie.

6. Vandag se idee moet ook onmiddellik toegepas word op enige situasie wat jou bekommerd mag maak. 2Pas die idee toe deur vir jouself te sê:

              3Ek het hierdie situasie soos ek dit sien, self uitgedink.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 32: I have invented the world I see. (ACIM, W-32)