1. Vandag se idee is natuurlik die rede waarom jou manier van sien jou nie alléén beïnvloed nie. 2Jy sal opmerk dat die idees wat verband hou met denke soms dié wat verband hou met persepsie voorafgaan, terwyl die volgorde met ander tye omgekeerd is. 3Die rede is dat die volgorde nie saak maak nie. 4Denke en die resultate daarvan vind in werklikheid gelyktydig plaas, want oorsaak en gevolg is nooit geskei nie.

2. Ons beklemtoon weer vandag die feit dat almal se geestesdenke met mekaar verbind is. 2Aan die begin is die idee selde heeltemal welkom, want dit blyk ’n enorme gevoel van verantwoordelikheid mee te bring, en kan selfs as ’n “inbreuk op privaatheid” beskou word. 3Nogtans is dit ’n feit dat daar geen private gedagtes bestaan nie. 4Ten spyte van jou aanvanklike weerstand teen hierdie idee, sal jy uiteindelik begryp dat dit waar moet wees vir verlossing om hoegenaamd moontlik te wees. 5En verlossing moet moontlik wees, want dit is die Wil van God.

3. Die minuut of meer wat vandag se ondersoek van die geestesdenke vereis, moet met geslote oë gedoen word. 2Vandag se idee moet eers herhaal word en die geestesdenke daarna versigtig ondersoek word vir die gedagtes wat dit op daardie tydstip bevat. 3Noem die sentrale persoon of tema daarin soos jy elkeen oordink, en terwyl jy dit in jou geestesdenke vashou, sê:

              4Ek ervaar nie die gevolge van hierdie gedagte oor _______ alleen nie.

4. Die vereiste om so min as moontlik onderskeid te tref in die keuse van onderwerpe vir oefenperiodes behoort nou al vir jou redelik bekend te wees, en gaan nie meer elke dag herhaal word nie, alhoewel dit af en toe as ’n aanmaning ingesluit sal word. 2Moet egter nie vergeet dat die willekeurige keuse van onderwerpe vir alle oefenperiodes deurgaans noodsaaklik bly nie. 3Die gebrek aan rangorde in hierdie opsig sal jou uiteindelik die betekenis van ’n gebrek aan rangorde by wonders laat insien.

5. Afgesien van die toepassing van vandag se idee “na behoefte”, word ten minste drie oefenperiodes vereis, waarvan die tydsduur, indien nodig, verkort kan word. 2Moenie meer as vier probeer nie.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 19: I am not alone in experiencing the effects of my thoughts. (ACIM, W-19)