Vandag se hersiening sluit die volgende in:
1. (21) Ek is vasbeslote om dinge anders te sien.
2Wat ek nou sien, is slegs tekens van siekte, rampspoed en dood. 3Dit kan voorwaar nie wees wat God vir Sy geliefde Seun geskep het nie. 4Die blote feit dat ek sulke dinge sien, bewys dat ek God nie begryp nie. 5Daarom begryp ek ook nie Sy Seun nie. 6Wat ek sien, sê vir my dat ek nie weet wie ek is nie. 7Ek is vasbeslote om die getuies van waarheid in my te sien, eerder as dié wat my ’n illusie van myself wys.
2. (22) Wat ek sien, is ’n vorm van wraak.
2Die wêreld wat ek sien, is beswaarlik ’n weergawe van liefdevolle gedagtes. 3Dit is ’n beeld van hoe alles mekaar aanval. 4Dit is alles behalwe ’n weerspieëling van die Liefde van God en die Liefde van Sy Seun. 5Dit is my eie aanvalsgedagtes wat tot hierdie beeld aanleiding gee. 6My liefdevolle gedagtes sal my van hierdie persepsie van die wêreld red, en my die vrede gee wat God vir my bestem het.
3. (23) Ek kan aan hierdie wêreld ontsnap deur aanvalsgedagtes op te gee.
2Verlossing lê hierin, en nêrens anders nie. 3Sonder aanvalsgedagtes sou ek nie ’n wêreld van aanval kon sien nie. 4Soos vergifnis my weer bewus laat word van liefde, sal ek ’n wêreld van vrede, veiligheid en vreugde sien. 5En dít is wat ek verkies om te sien, in plaas van dit waarna ek nou kyk.
4. (24) Ek sien nie wat in my eie beste belang is nie.
2Hoe kan ek my hoogste belang ken as ek nie weet wie ek is nie? 3Wat ek dink in my eie belang is, bind my bloot meer aan die wêreld van illusies vas. 4Ek is gewillig om die Gids wat God my verskaf het, te volg om uit te vind wat in my eie hoogste belang is, omdat ek besef dat ek hulle uit myself alleen nie kan sien nie.
5. (25) Ek weet nie waarvóór enigiets daar is nie.
2Vir my is die doel van alles om te bewys dat my illusies oor myself werklik is. 3Vir hierdie doel probeer ek almal en alles gebruik. 4Dit is wat ek glo die doel van die wêreld is. 5Daarom herken ek nie sy werklike doel nie. 6Die doel wat ek aan die wêreld gegee het, het tot ’n vreesaanjaende beeld daarvan aanleiding gegee. 7Laat ek my geestesdenke vir die wêreld se werklike doel oopstel deur die een wat ek daaraan gegee het, te onttrek, en die waarheid daaroor te leer.
✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:
“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”
Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.
Lesson 55: Review (21-25). (ACIM, W-55)


