Etiket: Geestelike Oefening

Les 40 – Ek is geseënd as ’n Seun van God.

1. Vandag sal ons begin aanspraak maak op sommige van die gelukkige dinge waarop jy geregtig is, omdat jy is wat jy is. 2Geen lang oefenperiodes word vandag verlang nie, maar baie herhaalde kortetjies is nodig. 3Een elke tien minute sou baie wenslik wees, en jy word aangemoedig om hierdie rooster te volg en waar enigsins moontlik, daarby te hou. 4As jy vergeet, probeer weer. 5As daar lang onderbrekings voorkom, probeer weer. 6Wanneer jy ook al onthou, probeer weer.

2. Jy hoef nie jou oë vir die oefenperiodes te sluit nie, alhoewel jy dit heelwaarskynlik nuttiger sal vind as jy dit wel doen. 2Jy mag jou nogtans gedurende die dag in ’n aantal situasies bevind waar dit nie wenslik sou wees om jou oë toe te maak nie. 3Moenie ’n oefenperiode as gevolg hiervan mis nie. 4Jy kan heel goed onder enige omstandighede oefen, as jy regtig wil.

3. Vandag se oefeninge vra min tyd en geen inspanning nie. 2Herhaal die idee vir vandag, en voeg dan verskeie van die eienskappe by wat jy met ’n Seun van God assosieer, en pas hulle dan op jouself toe. 3’n Oefenperiode kan, byvoorbeeld, uit die volgende bestaan:

              4Ek is geseënd as ’n Seun van God.

                5Ek is gelukkig, tevrede, liefdevol en voldaan.

6’n Ander een kan dalk hierdie vorm aanneem:

              7Ek is geseënd as ’n Seun van God.

                8Ek is kalm, rustig, selfversekerd en vol vertroue.

9As jy slegs ’n kort tydjie tot jou beskikking het, sal dit voldoende wees om net vir jouself te sê dat jy geseënd is as ’n Seun van God.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 40: I am blessed as a Son of God. (ACIM, W-40)

Les 37 – My heiligheid seën die wêreld.

1. Hierdie idee bevat die eerste glimpie van jou ware funksie in die wêreld, oftewel die rede waarom jy hier is. 2Jou doel is om die wêreld deur jou eie heiligheid te sien. 3So word jy en die wêreld tesame geseën. 4Niemand verloor nie, niks word van enigeen weggevat nie, iedereen baat by jou heilige visie. 5Dit dui die einde van opoffering aan, want dit bied aan elkeen alles wat hom toekom. 6En hy is geregtig op alles, want dit is sy geboortereg as ’n Seun van God.

2. Daar is geen ander manier waarop die idee van opoffering uit die wêreld se denke verwyder kan word nie. 2Enige ander manier van sien sal onvermydelik ’n prys vra van iemand of iets. 3As gevolg daarvan sal die waarnemer verloor. 4Ook sal hy geen idee hê waarom hy verloor nie. 5Maar hy word opnuut bewus van sy heelheid deur jou visie. 6Jou heiligheid seën hom deur niks van hom te vra nie. 7Wie hulleself as heel sien, stel geen eise nie.

3. Jou heiligheid is die verlossing van die wêreld. 2Dit laat jou die wêreld onderrig dat dit één met jou is, nie deur vir die wêreld te preek nie, nie deur dit enigiets te vertel nie, maar bloot deur jou stille insig dat in jou heiligheid alle dinge saam met jou geseënd is.

4. Vandag se vier langer oefenperiodes wat elk drie tot vyf minute se oefening moet behels, begin met die herhaling van die dag se idee, gevolg deur vir ongeveer ’n minuut lank om jou heen te kyk terwyl jy die idee toepas op wat jy ook al sien:

              2My heiligheid seën hierdie stoel.

              3My heiligheid seën daardie venster.

            4My heiligheid seën hierdie liggaam.

5Sluit dan jou oë en pas die idee toe op enige persoon wat by jou opkom, deur sy naam te gebruik en te sê:

              6My heiligheid seën jou, (naam).

5. Jy kan die oefenperiode voortsit met geslote oë; jy mag jou oë weer oopmaak en vandag se idee op jou uiterlike wêreld toepas as jy wil; jy kan die idee afwisselend toepas op wat jy om jou sien en op wie in jou gedagtes is; of jy kan enige kombinasie van hierdie twee toepassingsfases, soos jy verkies, gebruik. 2Die oefenperiode moet afgesluit word met ’n herhaling van die idee met geslote oë, onmiddellik gevolg deur nog een met jou oë oop.

6. Die korter oefeninge bestaan daaruit om die idee so dikwels moontlik te herhaal. 2Dit is veral nuttig om dit stilweg toe te pas op enigeen wat jy ontmoet, deur sy naam te noem soos jy dit doen. 3Dit is noodsaaklik om die idee te gebruik as enigiemand ’n vyandige reaksie in jou wakker maak. 4Bied hom onmiddellik die seëning van jou heiligheid aan, sodat jy kan leer om dit in jou eie bewussyn te bewaar.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 37: My holiness blesses the world. (ACIM, W-37)

Les 32 – Ek het die wêreld wat ek sien, self uitgedink.

1. Vandag gaan ons voort om die tema van oorsaak en gevolg te ontwikkel. 2Jy is nie die slagoffer van die wêreld wat jy sien nie, want jy het dit self uitgedink. 3Jy kan dit net so maklik opgee as wat jy dit gemaak het. 4Jy sal dit óf sien óf nie sien nie, soos jy dit verlang. 5Solank jy dit wil hê, sal jy dit sien; wanneer jy dit nie meer wil hê nie, sal dit nie meer daar wees vir jou om te sien nie.

2. Vandag se idee is, soos die voriges, op jou innerlike en uiterlike wêrelde, wat in werklikheid dieselfde is, van toepassing. 2Omdat jy hulle egter as verskillend sien, sal die oefenperiodes vir vandag weer twee fases behels, die een wat betrekking het op die wêreld wat jy buite jou sien, en die ander een op die wêreld wat jy in jou geestesdenke sien. 3Probeer tydens vandag se oefeninge die idee tuisbring dat beide in jou eie verbeelding bestaan.

3. Ons sal weer die oefenperiodes vir die oggend en aand begin deur vandag se idee twee of drie keer te herhaal, terwyl jy om jou heen kyk na die wêreld wat jy as buite jouself sien. 2Sluit dan jou oë en kyk rond in jou innerlike wêreld. 3Probeer om beide so gelykwaardig moontlik te behandel. 4Herhaal vandag se idee sonder haas so dikwels jy wil, terwyl jy die beelde wat jou verbeelding aan jou bewussyn voorlê, dophou.

4. Vir die langer oefenperiodes word drie tot vyf minute, maar nie minder as drie nie, aanbeveel. 2Jy kan meer as vyf bestee as jy die oefening rustig vind. 3Om dit te vergemaklik, kan jy ’n tyd kies wanneer jy min steurings verwag, en jy self redelik gereed daarvoor voel.

5. Hierdie oefeninge moet gedurende die dag voortgesit word, so dikwels moontlik. 2Die korter toepassings bestaan daaruit om die idee stadig te herhaal, soos jy hetsy jou innerlike hetsy jou uiterlike wêreld ondersoek. 3Dit maak nie saak watter een jy kies nie.

6. Vandag se idee moet ook onmiddellik toegepas word op enige situasie wat jou bekommerd mag maak. 2Pas die idee toe deur vir jouself te sê:

              3Ek het hierdie situasie soos ek dit sien, self uitgedink.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 32: I have invented the world I see. (ACIM, W-32)

Les 20 – Ek is vasbeslote om te sien.

1. Ons was tot dusver redelik vry en ongedwonge betreffende ons oefenperiodes. 2Daar is feitlik geen poging aangewend om die tyd te beheer om hulle uit te voer nie, ’n minimum inspanning is vereis, en selfs nie eens aktiewe samewerking en belangstelling is gevra nie. 3Hierdie benadering was opsetlik en baie sorgvuldig beplan. 4Ons het nie die dwingende belangrikheid van die ommekeer van jou denke uit die oog verloor nie. 5Die verlossing van die wêreld hang daarvan af. 6Maar solank jy sou voel dat jy onder dwang staan en daarom sou kon toegee aan wrewel en verset, sou jy nie sien nie.

2. Dit is dus nou die eerste keer dat moeite gedoen word om struktuur in te bring. 2Moet dit nie verkeerd opvat as ’n poging om dwang of druk uit te oefen nie. 3Jy wil verlossing hê. 4Jy wil gelukkig wees. 5Jy wil vrede hê. 6Jy beskik nie nou daaroor nie, want jou geestesdenke is totaal ongedissiplineerd, en jy kan nie tussen vreugde en verdriet, plesier en pyn, liefde en vrees onderskei nie. 7Jy leer nou hoe om hulle uit mekaar te ken. 8En jou loon sal voorwaar groot wees.

3. Al wat vir visie nodig is, is jou besluit om te sien. 2Wat jy wil hê, is joune. 3Moenie die geringe inspanning wat van jou gevra word, verkeerdelik opneem as ’n teken dat ons doel min waarde sou hê nie. 4Kan die verlossing van die wêreld ’n onbenullige doel wees? 5En kan die wêreld verlos word, as jy nie verlos word nie? 6God het één Seun, en hy is die opstanding en die lewe. 7Sy wil geskied, want aan hom is alle mag in die Hemel en op aarde gegee. 8In jou vasbeslotenheid om te sien, word visie aan jou gegee.

4. Die oefeninge vir vandag bestaan daaruit dat jy jou die hele tyd deur die dag daaraan herinner dat jy wil sien. 2Vandag se idee hou stilswyend die erkenning in dat jy nie nou sien nie. 3Soos jy dus vandag se idee herhaal, verklaar jy dat jy vasbeslote is om jou huidige toestand na ’n beter een te verander, en een wat jy regtig wil hê.

5. Herhaal vandag se idee stadig en positief ten minste twee keer per uur, en probeer om dit elke halfuur te doen. 2Moenie bekommerd raak as jy vergeet om dit te doen nie, maar wend regtig ’n poging aan om te onthou. 3Die ekstra herhalings moet toegepas word op elke situasie, persoon of gebeurtenis wat jou ontstel. 4Jy kan hulle anders sien, en jy sal ook. 5Wat jy verlang, sal jy sien. 6Dit is die werklike wet van oorsaak en gevolg, soos dit in die wêreld werk.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 20: I am determined to see. (ACIM, W-20)

All quotes are from A Course in Miracles, Third Edition.
Copyright © 2007 by the Foundation for Inner Peace, copyright holder and publisher.
448 Ignacio Blvd., #306, Novato, CA 94949, acim.org, used with permission.

© 2026 Hemelbewus

Patternstorm Designs