Vandag word die volgende idees hersien:

1.             (16) Ek het geen neutrale gedagtes nie.

2Neutrale gedagtes is onmoontlik, want alle gedagtes beskik oor krag. 3Hulle sal óf ’n vals wêreld maak óf hulle sal my na die werklike een lei. 4Maar gedagtes kan nie sonder gevolge wees nie. 5Soos die wêreld wat ek sien, voortspruit uit my denkfoute, sal die werklike wêreld voor my oë verrys as ek my foute laat korrigeer. 6My gedagtes kan nie nóg waar nóg onwaar wees nie. 7Hulle moet óf die een óf die ander wees. 8Wat ek sien, wys my wat hulle is.

2.             (17) Ek sien geen neutrale dinge nie.

2Wat ek sien, getuig van wat ek dink. 3As ek nie gedink het nie, sou ek nie bestaan het nie, want lewe is denke. 4Laat ek na die wêreld wat ek sien, kyk as ’n weerspieëling van my eie stand van geestesdenke. 5Ek weet dat die toestand van my geestesdenke kan verander. 6En dus weet ek verder dat die wêreld wat ek sien, ook kan verander.

3.             (18) Ek ervaar nie die gevolge van my sien alleen nie.

2As ek geen private gedagtes het nie, kan ek nie ’n private of afgesonderde wêreld sien nie. 3Selfs die dwase idee van skeiding moes gedeel word voordat dit die basis kon word van die wêreld wat ek sien. 4Maar daardie verdeling was die deling van niksheid. 5Ek kan egter ook ’n beroep doen op my werklike gedagtes, wat alles met almal deel. 6Net soos my gedagtes van skeiding ander se gedagtes van skeiding aanroep, laat my werklike gedagtes die werklike gedagtes in hulle ontwaak. 7En die wêreld wat my werklike gedagtes vir my wys, sal verrys voor sowel hulle oë as myne.

4.             (19) Ek ervaar nie die gevolge van my gedagtes alleen nie.

2Ek is in niks alleen nie. 3Alles wat ek dink of sê of doen, onderrig die hele universum. 4’n Seun van God kan nie vergeefs dink of praat of doen nie. 5Hy kan in niks alleen wees nie. 6Dit is dus binne my mag om elkeen se geestesdenke saam met myne te verander, want aan my behoort die krag van God.

5.             (20) Ek is vasbeslote om te sien.

2Omdat ek insien dat my gedagtes altyd met ander gedeel word, is ek vasbeslote om te sien. 3Ek wil na die getuies kyk wat my sal wys dat die denke van die wêreld verander het. 4Ek wil die bewys aanskou dat wat deur middel van my gedoen is, die liefde in staat gestel het om vrees te vervang, lag in staat gestel het om trane te vervang en oorvloed in staat gestel het om verlies te vervang. 5Ek wil die werklike wêreld sien, en my daardeur laat leer dat my wil en die Wil van God één is.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 54: Review (16-20). (ACIM, W-54)