1. Die lig het gekom. 2Jy is genees en jy kan genees. 3Die lig het gekom. 4Jy is verlos en jy kan verlos. 5Jy het vrede, en jy bring vrede saam met jou, waar jy ook al gaan. 6Duisternis en onrus en dood het verdwyn. 7Die lig het gekom.
2. Ons vier vandag die gelukkige einde van jou lang droom van rampspoed. 2Daar is nou nie meer somber drome nie. 3Die lig het gekom. 4Vandag begin die tyd van lig vir jou en iedereen. 5Dit is ’n nuwe tydperk waarin ’n nuwe wêreld gebore word. 6Die ou een het verbygegaan sonder om ’n spoor agter te laat. 7Ons sien vandag ’n ander wêreld, want die lig het gekom.
3. Vandag se oefeninge sal van gelukkige aard wees, waarin ons dank betuig vir die verbygaan van die oue en die aanbreek van die nuwe. 2Geen skaduwees uit die verlede het oorgebly om ons sig te vertroebel en die wêreld wat vergifnis ons bied te verberg nie. 3Ons sal vandag die nuwe wêreld aanvaar as dit wat ons wil sien. 4Wat ons begeer, sal ons gegee word. 5Ons wil die lig sien; die lig het gekom.
4. Ons langer oefenperiodes sal daaraan gewy word om te kyk na die wêreld wat ons vergifnis ons wys. 2Dit is wat ons wil sien, en dit alleen. 3Ons eenduidige doelstelling maak ons mikpunt onafwendbaar. 4Die regte wêreld verrys vandag in blydskap voor ons op, om uiteindelik gesien te word. 5Ons het sig gekry, nou dat die lig gekom het.
5. Ons wil nie vandag die ego se skaduwee op die wêreld sien nie. 2Ons sien die lig, en daarin sien ons hoe die Hemel se spieëlbeeld oor die wêreld lê. 3Begin die langer oefenperiodes deur jouself die goeie tyding van jou bevryding te vertel:
4Die lig het gekom. 5Ek het die wêreld vergewe.
6. Moenie vandag by die verlede stilstaan nie. 2Hou jou geestesdenke volledig oop, skoongewas van alle idees uit die verlede en skoon van elke idee wat jy gemaak het. 3Jy het vandag die wêreld vergewe. 4Jy kan dit nou bekyk asof jy dit nog nooit tevore gesien het nie. 5Jy weet egter nog nie hoe dit lyk nie. 6Jy wag net eenvoudig dat dit aan jou gewys moet word. 7Terwyl jy wag, herhaal jy verskeie kere stadig en met die grootste geduld:
8Die lig het gekom. 9Ek het die wêreld vergewe.
7. Besef dat jou vergifnis jou op visie geregtig maak. 2Begryp dat die Heilige Gees nooit versuim om die gawe van sig te gee aan diegene wat vergewe nie. 3Glo dat Hy jou nie nou in die steek sal laat nie. 4Jy het die wêreld vergewe. 5Hy sal met jou wees terwyl jy wag en kyk. 6Hy sal jou dit wys wat ware visie sien. 7Dit is Sy Wil, en jy het jou met Hom verbind. 8Wag geduldig op Hom. 9Hy sal daar wees. 10Die lig het gekom.11Jy het die wêreld vergewe.
8. Sê vir hom dat jy weet jy kan nie faal nie, omdat jy op Hom vertrou. 2En sê vir jouself dat jy in sekerheid wag om die wêreld te sien wat Hy jou belowe het. 3Van nou af aan sal jy anders sien. 4Die lig het vandag gekom. 5En jy sal die wêreld sien wat jou belowe was sedert tyd begin het, en waarin die einde van tyd verseker is.
9. Ook die korter oefenperiodes sal vreugdevolle herinneringe van jou bevryding wees. 2Herinner jouself elke kwartier of wat daaraan dat vandag ’n tyd vir spesiale feesviering is. 3Sê dankie vir die genade en die Liefde van God. 4Verbly jou in die krag van vergifnis om jou sig heeltemal te genees. 5Wees vol vertroue dat daar vandag ’n nuwe begin is. 6Sonder die duisternis van die verlede oor jou oë kan jy nie vandag misluk om te sien nie. 7En wat jy sien, sal so welkom wees dat jy vandag graag vir ewig sou laat duur.
10. Sê dan:
2Die lig het gekom. 3Ek het die wêreld vergewe.
4As jy in versoeking sou kom, sê vir almal wat lyk asof hulle jou die duisternis in wil terugtrek:
5Die lig het gekom. 6Ek het jou vergewe.
11. Ons dra hierdie dag op aan die kalmte waarin God wil hê jy moet wees. 2Bewaar dit in jou bewustheid van jouself en sien dit vandag oral, terwyl ons die begin van jou visie en die sig van die werklike wêreld vier wat gekom het om die plek in te neem van die onversoenlike wêreld wat jy gedink het werklikheid was.
✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:
“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”
Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.
Lesson 75: The light has come. (ACIM, W-75)


