Laat ons vandag die volgende idees hersien:

1.             (31) Ek is nie ’n slagoffer van die wêreld wat ek sien nie.

2Hoe kan ek die slagoffer van ’n wêreld wees wat volledig ongedaan gemaak kan word as ek so verkies? 3My kettings is losgemaak. 4Ek kan hulle laat afval deur bloot so te wens. 5Die tronkdeur staan oop. 6Ek kan vertrek deur eenvoudig uit te loop. 7Niks hou my in hierdie wêreld vas nie. 8Slegs my wens om te bly, hou my gevange. 9Ek sal my waansinnige wense opgee en uiteindelik die sonlig in loop.

2.             (32) Ek het die wêreld wat ek sien, self uitgedink.

2Die tronk, waarin ek myself sien, is my eie maaksel. 3Al wat ek hoef te doen, is om dit in te sien, en ek is vry. 4Ek het myself wysgemaak dat dit moontlik is om die Seun van God gevange te neem. 5Ek het my bitterlik in hierdie oortuiging wat ek nie langer wil hê nie, misgis. 6Die Seun van God moet vir ewig vry wees. 7Hy is soos God hom geskep het en nie wat ek van hom wil maak nie. 8Hy is waar God wil hê hy moet wees, en nie waar ek gedink het om hom gevange te hou nie.

3.             (33) Daar is ’n ander manier om na die wêreld te kyk.

2Aangesien die doel van die wêreld nie die een is wat ek daaraan toegeken het nie, moet daar ’n ander manier wees om daarna te kyk. 3Ek sien alles onderstebo, en my gedagtes is die teenoorgestelde van die waarheid. 4Ek sien die wêreld as ’n gevangenis vir God se Seun. 5Dan moet dit dus so wees dat die wêreld in werklikheid ’n plek is waar hy bevry kan word. 6Ek wil die wêreld beskou soos dit is, en dit sien as ’n plek waar die Seun van God sy vryheid vind.

4.             (34) Ek sou vrede in plaas hiervan kan sien.

2Wanneer ek die wêreld as ’n plek van vryheid sien, besef ek dit weerspieël die wette van God in plaas van die reëls wat ek daarvoor opgemaak het waaraan hy moet gehoorsaam. 3Ek sal begryp dat vrede daarin woon, en nie stryd nie. 4En dan sal ek sien dat vrede ook woon in die harte van almal wat hierdie plek met my deel.

5.             (35) My geestesdenke is deel van God se Geestesdenke. 2Ek is baie heilig.

3Soos ek die vrede van die wêreld met my broers deel, begin ek begryp dat hierdie vrede van diep binne myself kom. 4Die wêreld waarna ek kyk, het die lig van my vergifnis aangeneem, en straal vergifnis na my terug. 5In hierdie lig begin ek sien wat my illusies oor myself verborge gehou het. 6Ek begin die heiligheid van al wat leef, myself ingeslote, en hulle éénheid met my, te begryp.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 57: Review (31-35). (ACIM, W-57)