Etiket: Daaglikse lesse

Les 41 – God gaan met my, waar ek ook al gaan.

1. Vandag se idee sal uiteindelik die gevoel van eensaamheid en verlatenheid wat alle geskeidenes ervaar, volledig oorwin. 2Depressie is ’n onvermydelike gevolg van skeiding. 3So ook angs, bekommernis, ’n diep gevoel van hulpeloosheid, ellende, lyding en intense vrees vir verlies.

2. Die geskeidenes het baie “geneesmiddels” uitgevind vir wat hulle glo die “kwale van die wêreld” is. 2Maar die een ding wat hulle nie doen nie, is om die werklikheid van die probleem te bevraagteken. 3En aangesien die probleem nie werklik is nie, kan geen geneesmiddel help vir die gevolge daarvan nie. 4Vandag se idee het die krag om al hierdie dwaasheid vir altyd te beëindig. 5En dwaasheid is dit inderdaad, ondanks die ernstige en tragiese vorms wat dit kan aanneem.

3. Diep in jou is alles wat volmaak is, gereed om deur jou na die wêreld uitgestraal te word. 2Dit sal alle smart en pyn en vrees en verlies genees, want dit sal die geestesdenke genees wat gedink het dat hierdie dinge werklik was, en gely het as gevolg van sy trou daaraan.

4. Jy kan nooit van jou volmaakte heiligheid ontneem word nie, want die Bron daarvan gaan waar jy ook al gaan. 2Jy kan nooit ly nie, want die Bron van alle vreugde gaan met jou waar jy ook al gaan. 3Jy kan nooit alleen wees nie, want die Bron van alle lewe gaan met jou waar jy ook al gaan. 4Niks kan die vrede van jou geestesdenke versteur nie, want God gaan met jou waar jy ook al gaan.

5. Ons begryp dat jy dit nie alles glo nie. 2Hoe kan jy, wanneer die waarheid diep in jou weggesteek is onder ’n swaar wolk van waansinnige gedagtes, dig en verhullend, maar nogtans alles verteenwoordig wat jy sien? 3Vandag sal ons ons eerste egte poging aanwend om by hierdie donker en swaar wolk verby te kom en deur dit na die lig daaragter te gaan.

6. Daar sal vandag net een lang oefenperiode wees. 2Sit in die oggend, indien moontlik sodra jy opstaan, stil vir so drie of vyf minute met jou oë toe. 3Herhaal vandag se idee baie stadig aan die begin van die oefenperiode. 4Doen daarna geen moeite om aan enigiets te dink nie. 5Probeer in plaas daarvan om ’n gevoel van inkeer tot jouself te kry, verby al die nuttelose gedagtes van die wêreld. 6Probeer om jou eie geestesdenke baie diep binne te gaan, en dit skoon en vry te hou van enige gedagtes wat jou aandag mag aflei.

7. Jy kan die idee van tyd tot tyd herhaal, as jy dit nuttig vind. 2Maar probeer bowenal om na binne af te sink, weg van die wêreld en al die dwase gedagtes daarvan. 3Jy probeer verder reik as al hierdie dinge. 4Jy probeer om alle skyn agter te laat en al nader te kom aan die werklikheid.

8. Dit is heeltemal moontlik om God te bereik. 2Dit is in werklikheid baie maklik, want dit is die natuurlikste ding ter wêreld. 3Jy kan selfs sê dat dit die enigste natuurlike ding in die wêreld is. 4Die pad sal vir jou oopgaan, as jy glo dat dit moontlik is. 5Hierdie oefening kan verbysterende resultate oplewer, selfs al met die eerste poging, en is vroeër of later altyd suksesvol. 6Op die fyner besonderhede van hierdie oefening sal daar na gelang van vordering ingegaan word. 7Maar dit sal nooit heeltemal misluk nie, en onmiddellike sukses is moontlik.

9. Gebruik vandag se idee dikwels deur die dag deur dit stadig te herhaal, verkieslik met geslote oë. 2Dink aan wat jy sê, en wat die woorde beteken. 3Konsentreer op die heiligheid wat hulle oor jou impliseer, op die altyd aanwesige kameraadskap wat jou deel is, op die volledige beskerming wat jou omring.

10. Jy kan inderdaad bekostig om te lag oor vreesgedagtes, wanneer jy onthou dat God met jou gaan, waar jy ook al gaan.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 41: God goes with me wherever I go. (ACIM, W-41)

Les 36 – My heiligheid omvou alles wat ek sien.

1. Vandag se idee brei gister se idee uit vanaf die waarnemer na dit wat waargeneem word. 2Jy is heilig, want jou geestesdenke is deel van God se Geestesdenke. 3En omdat jy heilig is, moet jou sig ook heilig wees. 4“Sondeloos” beteken sonder sonde. 5Jy kan nie ’n bietjie sonder sonde wees nie. 6Jy is sondeloos of nie sondeloos nie. 7As jou geestesdenke deel van God se Geestesdenke is, moet jy sondeloos wees, of anders sou ’n deel van Sy Geestesdenke sondig moes wees. 8Jou sig hou verband met Sy Heiligheid, nie met jou ego nie, en daarom ook nie met jou liggaam nie

2. Vier oefenperiodes van drie tot vyf minute elk is vandag nodig. 2Probeer om hulle redelik eweredig te versprei, en doen die korter toepassings dikwels om jou beskerming dwarsdeur die dag te verseker. 3Die langer oefenperiodes moet soos volg gedoen word:

3. Sluit eers jou oë en herhaal vandag se idee ’n paar maal stadig. 2Maak dan jou oë oop en kyk stadig om jou heen deur die idee spesifiek op wat jy in jou ondersoek terloops opmerk, toe te pas. 3Sê byvoorbeeld:

              4My heiligheid omvou daardie mat.

              5My heiligheid omvou daardie muur.

              6My heiligheid omvou hierdie vingers.

              7My heiligheid omvou daardie stoel.

              8My heiligheid omvou daardie liggaam.

              9My heiligheid omvou hierdie pen.

10Sluit jou oë verskeie kere tydens oefenperiodes en herhaal die idee vir jouself. 11Maak dan jou oë oop en gaan soos voorheen voort.

4. Wat die korter oefenperiodes betref, sluit jy jou oë en herhaal die idee; kyk om jou heen soos jy dit weer herhaal; en eindig met nog ’n herhaling met geslote oë. 2Alle toepassings moet natuurlik heel stadig gedoen word, met so min inspanning of gejaagdheid as moontlik.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 36: My holiness envelops everything I see. (ACIM, W-36)

Les 35 – My geestesdenke is deel van God se Geestesdenke. Ek is baie heilig.

1. Vandag se idee beskryf nie die manier waarop jy jouself tans sien nie. 2Dit beskryf egter wel wat visie jou sal wys. 3Dit is moeilik vir enigeen wat dink dat hy in hierdie wêreld is, om dit van homself te glo. 4Tog is die rede waarom hy dink hy in hierdie wêreld is, juis omdat hy dit nie glo nie.

2. Jy sal glo jy is deel van waar jy dink jy is. 2Dit is omdat jy jouself omring met die omgewing wat jy wil hê. 3En jy wil dit hê om die beeld van jouself wat jy gemaak het, te beskerm. 4Die beeld is deel van hierdie omgewing. 5Wat jy sien terwyl jy glo dat jy daarin is, word deur die oë van die beeld gesien. 6Dit is nie visie nie. 7Beelde kan nie sien nie.

3. Vandag se idee verskaf ’n heel ander siening van jouself. 2Deur jou Bron vas te stel, stel jy jou Identiteit vas, en dit beskryf jou soos jy in waarheid werklik moet wees. 3Ons gebruik vandag ’n ietwat ander soort toepassing vir die dag se idee, omdat die klem op die waarnemer val in plaas van op dit wat hy waarneem.

4. Begin by elkeen van die drie oefenperiodes van vyf minute vandag, om die idee van die dag vir jouself te herhaal, en sluit dan jou oë en ondersoek jou geestesdenke vir die verskillende soorte beskrywende terme waarvolgens jy jouself sien. 2Sluit al die ego-gebaseerde kenmerke in wat jy aan jouself toeken, positief of negatief, gewens of ongewens, verhewe of platvloers. 3Almal is ewe onwerklik, want jy kyk nie na jouself deur heilige oë nie

5. Aan die begin van jou periode van geestesdenke-ondersoek sal jy heelwaarskynlik meer klem lê op wat jy as die meer negatiewe aspekte van jou persepsie van jouself beskou. 2Teen die einde van die oefenperiode mag egter meer positiewe beskrywende indrukke van jouself jou geestesdenke te binne skiet. 3Probeer insien dat die rigting en aard van jou fantasieë oor jouself nie saak maak nie. 4Illusies het in werklikheid geen rigting nie. 5Hulle is eenvoudig nie waar nie.

6. ’n Geskikte ongeselekteerde lys vir die toepassing van die idee vir vandag sou soos volg daar kon uitsien:

            2Ek sien myself as misbruik.

            3Ek sien myself as depressief.

            4Ek sien myself as ’n mislukking.

            5Ek sien myself as bedreigd.

            6Ek sien myself as hulpeloos.

            7Ek sien myself as oorwinnaar.

            8Ek sien myself as verloorder.

            9Ek sien myself as mensliewend.

            10Ek sien myself as deugsaam.

7. Moenie in abstrakte terme aan hierdie stellings dink nie. 2Hulle sal by jou opkom soos verskillende situasies, persoonlikhede en gebeure waarin jy ’n rol speel, jou geestesdenke te binne skiet. 3Kies enige spesifieke situasie wat by jou opkom, identifiseer die beskrywende term of terme wat jy voel betrekking het op jou reaksies in daardie situasie, en gebruik hulle om vandag se idee op toe te pas. 4Nadat jy elkeen opgenoem het, voeg jy by:

            5Maar my geestesdenke is deel van God se Geestesdenke. 6Ek is baie heilig.

8. Gedurende die langer oefenperiodes sal daar heelwaarskynlik pouses wees waartydens niks besonders by jou opkom nie. 2Moenie jou forseer om spesifieke dinge uit te dink om die pouse te vul nie, maar ontspan bloot en herhaal vandag se idee stadig totdat iets weer by jou opkom. 3Alhoewel niks wat by jou opkom uit die oefeninge weggelaat moet word nie, moet niks moedswillig “uitgegrawe” word nie. 4Nóg dwang nóg diskriminerende onderskeid moet gebruik word.

9. So dikwels as wat dit gedurende die dag moontlik is, moet ’n spesifieke eienskap en eienskappe wat jy op daardie oomblik aan jouself toeskryf, geneem word, vandag se idee op hulle toegepas word, en die idee soos dit in die bogenoemde vorm gestel word, by elkeen van hulle gevoeg word. 2As daar niks besonders by jou opkom nie, herhaal die idee bloot vir jouself met geslote oë.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 34: I could see peace instead of this. (ACIM, W-35)

Les 34 – Ek sou vrede in plaas hiervan kan sien.

1. Vandag se idee begin om die voorwaardes te beskryf wat geld vir die ander manier van sien. 2Vrede van die geestesdenke is duidelik ’n innerlike saak 3Dit moet met jou eie gedagtes begin en dan na buite toe uitbrei. 4Juis vanuit die vrede van jou geestesdenke vloei ’n vreedsame persepsie van die wêreld voort.

2. Drie langer oefenperiodes word vir vandag se oefeninge vereis. 2Een in die oggend en een in die aand word aanbeveel, met ’n bykomende een enige tyd tussenin wanneer jy ten beste gereed voel daarvoor. 3Alle toepassings moet met geslote oë gedoen word. 4Dit is jou innerlike wêreld waarop vandag se idee toegepas moet word.

3. Ongeveer vyf minute se ondersoek van jou geestesdenke is nodig vir elkeen van vandag se langer oefenperiodes. 2Ondersoek jou geestesdenke vir vreesgedagtes, angswekkende situasies, “aanstootlike” persoonlikhede of gebeure, of enigiets anders waaroor jy liefdelose gedagtes koester. 3Neem hulle almal ongedwonge en terloops waar, herhaal vandag se idee stadig terwyl jy hulle in jou geestesdenke sien opkom en laat elkeen dan gaan, om deur die volgende een vervang te word.

4. As jy dit moeilik begin vind om aan spesifieke onderwerpe te dink, moet jy voortgaan om die idee rustig vir jouself te herhaal, sonder om dit op iets in die besonder toe te pas. 2Maak egter seker om nie iets opsetlik uit te sluit nie.

5. Die korter toepassings moet veelvuldig wees, en moet telkens gedoen word wanneer jy voel dat die vrede van jou geestesdenke enigsins bedreig word. 2Die bedoeling is om jou deur die hele dag teen versoekings te beskerm. 3As ’n spesifieke soort versoeking in jou bewussyn opkom, moet die oefening hierdie vorm aanneem:

              4Ek sou vrede in hierdie situasies kon sien, in plaas van wat ek nou daarin             sien.

6. As dié dinge wat inbreuk maak op jou innerlike vrede ’n algemene vorm van nare emosies aanneem soos depressie, angs of bekommernis, moet die idee in sy oorspronklik vorm gebruik word. 2As jy vind dat jy meer as een toepassing van vandag se idee benodig om te help om jou geestesdenke in enige spesifieke opsig te help verander, probeer om ’n hele paar minute te neem en te bestee aan die herhaling van die idee totdat jy ’n gevoel van verligting ervaar. 3Dit sal ook help as jy spesifiek vir jouself sê:

            4Ek kan my gevoelens van depressie, angs of bekommernis (of my gedagtes oor             hierdie situasie, persoonlikheid of gebeurtenis) vervang met vrede.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 34: I could see peace instead of this. (ACIM, W-34)

Les 32 – Ek het die wêreld wat ek sien, self uitgedink.

1. Vandag gaan ons voort om die tema van oorsaak en gevolg te ontwikkel. 2Jy is nie die slagoffer van die wêreld wat jy sien nie, want jy het dit self uitgedink. 3Jy kan dit net so maklik opgee as wat jy dit gemaak het. 4Jy sal dit óf sien óf nie sien nie, soos jy dit verlang. 5Solank jy dit wil hê, sal jy dit sien; wanneer jy dit nie meer wil hê nie, sal dit nie meer daar wees vir jou om te sien nie.

2. Vandag se idee is, soos die voriges, op jou innerlike en uiterlike wêrelde, wat in werklikheid dieselfde is, van toepassing. 2Omdat jy hulle egter as verskillend sien, sal die oefenperiodes vir vandag weer twee fases behels, die een wat betrekking het op die wêreld wat jy buite jou sien, en die ander een op die wêreld wat jy in jou geestesdenke sien. 3Probeer tydens vandag se oefeninge die idee tuisbring dat beide in jou eie verbeelding bestaan.

3. Ons sal weer die oefenperiodes vir die oggend en aand begin deur vandag se idee twee of drie keer te herhaal, terwyl jy om jou heen kyk na die wêreld wat jy as buite jouself sien. 2Sluit dan jou oë en kyk rond in jou innerlike wêreld. 3Probeer om beide so gelykwaardig moontlik te behandel. 4Herhaal vandag se idee sonder haas so dikwels jy wil, terwyl jy die beelde wat jou verbeelding aan jou bewussyn voorlê, dophou.

4. Vir die langer oefenperiodes word drie tot vyf minute, maar nie minder as drie nie, aanbeveel. 2Jy kan meer as vyf bestee as jy die oefening rustig vind. 3Om dit te vergemaklik, kan jy ’n tyd kies wanneer jy min steurings verwag, en jy self redelik gereed daarvoor voel.

5. Hierdie oefeninge moet gedurende die dag voortgesit word, so dikwels moontlik. 2Die korter toepassings bestaan daaruit om die idee stadig te herhaal, soos jy hetsy jou innerlike hetsy jou uiterlike wêreld ondersoek. 3Dit maak nie saak watter een jy kies nie.

6. Vandag se idee moet ook onmiddellik toegepas word op enige situasie wat jou bekommerd mag maak. 2Pas die idee toe deur vir jouself te sê:

              3Ek het hierdie situasie soos ek dit sien, self uitgedink.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 32: I have invented the world I see. (ACIM, W-32)

Les 27 – Meer as enigiets anders wil ek tog net kan sien.

1. Vandag se idee druk iets sterkers as blote vasberadenheid uit. 2Dit gee aan visie voorrang bo jou ander begeertes. 3Jy mag huiwerig voel om die idee te gebruik, bloot omdat jy nie seker is dat jy dit werklik bedoel nie. 4Dit maak nie saak nie. 5Die doel met vandag se oefeninge is om die tydstip wanneer die idee volkome waar sal wees, ’n bietjie nader te bring.

2. Die versoeking mag nogal groot wees om te glo dat ’n soort opoffering van jou gevra word wanneer jy sê dat jy meer as enigiets anders tog net wil sien. 2As jy ongemaklik raak oor die gebrek aan voorbehoud daarin, voeg dan by:

              3Visie kos niemand iets nie.

4As die vrees vir verlies nie wil wyk nie, voeg verder by:

              5Dit kan slegs ’n seën wees.

3. Vandag se idee benodig baie herhalings vir maksimale voordeel. 2Dit behoort ten minste elke halfuur gebruik te word, en meer indien moontlik. 3Jy kan elke 15 of 20 minute probeer. 4Dit word aanbeveel dat jy, wanneer jy wakker word, of kort daarna, sal bepaal hoeveel tyd jy het om die idee toe te pas en probeer om deur die hele dag daarby te bly. 5Dit sal nie moeilik wees om dit te doen nie, selfs tydens gesprekke of as jy besig is. 6Jy kan altyd ’n kort sinnetjie vir jouself herhaal sonder om enigiets te versteur.

4. Die regte vraag is: hoe dikwels sal jy onthou? 2Hoe graag wil jy hê dat vandag se idee waar moet wees? 3Beantwoord een van hierdie vrae en jy het die ander ook beantwoord. 4Jy sal heelwaarskynlik verskeie toepassings mis, en miskien selfs taamlik baie. 5Moet jou nie hierdeur laat ontstel nie, maar probeer wel om daarna by jou program te hou. 6As jy selfs net een keer gedurende die dag voel dat jy volkome opreg was toe jy vandag se idee herhaal het, kan jy seker wees dat jy jouself baie jare se moeite gespaar het.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 27: Above all else I want to see. (ACIM, W-27)

Les 10 – My gedagtes beteken niks nie.

1. Hierdie idee is van toepassing op al die gedagtes waarvan jy bewus is, of bewus van word tydens die oefenperiodes. 2Die rede waarom die idee op hulle almal van toepassing is, is dat hulle nie jou werklike gedagtes is nie. 3Ons het al voorheen hierdie onderskeid gemaak, en sal dit weer doen. 4Jy het tot nog toe nog nie ’n basis vir vergelyking nie. 5Sodra jy het, sal jy geen twyfel daaroor hê dat wat jy eers geglo het jou gedagtes was, niks beteken het nie.

2. Dit is die tweede keer dat ons hierdie soort idee gebruik. 2Die vorm alleen is ’n bietjie anders. 3Hierdie keer word die idee begin met “My gedagtes” in plaas van “Hierdie gedagtes”, en word nie uiterlik en by name verbind met die dinge rondom jou nie. 4Die klem is nou op die gebrek aan werklikheid van wat jy dink jy dink.

3. Hierdie aspek van die korreksieproses het begin met die idee dat die gedagtes waarvan jy bewus is, betekenisloos is, en eerder buite jou as binne jou was; en daarna is beklemtoon dat hulle status in die verlede gelê het eerder as in die hede. 2Nou beklemtoon ons dat die teenwoordigheid van hierdie “gedagtes” juis beteken dat jy nie dink nie. 3Dit is bloot ’n ander manier om ons vorige stelling te herhaal dat jou geestesdenke in werklikheid leeg is. 4Om dit te erken, beteken om te erken dat jy niks sien nie, as jy dink dat jy dit sien. 5As sodanig is hierdie erkenning die voorwaarde vir visie.

4. Sluit jou oë vir hierdie oefeninge, en begin hulle deur vandag se idee redelik stadig vir jouself te herhaal. 2Voeg dan by:

              3Hierdie idee sal help om my te bevry van alles wat ek nou glo.

4Die oefeninge bestaan, soos voorheen, daaruit om jou geestesdenke te ondersoek vir alle gedagtes wat daar beskikbaar is, sonder om te kies of te oordeel. 5Probeer om enige soort indelings te vermy. 6As dit jou sou help, kon jy jou trouens voorstel dat jy ’n eienaardig saamgestelde optog sien verbybeweeg wat vir jou min of geen persoonlike betekenis het nie. 7En soos elke gedagte deur jou geestesdenke gaan, sê jy:

              8My gedagte oor __________ beteken niks nie.

              9My gedagte oor __________ beteken niks nie.

5. Vandag se idee kan vanselfsprekend nuttig wees vir enige gedagtes wat jou op ’n gegewe tydstip kwel. 2Vyf oefenperiodes word bykomend aanbeveel, nie een langer as ongeveer ’n minuut se ondersoek van die geestesdenke nie. 3Dit word nie aanbeveel dat hierdie tydsduur oorskry word nie, en dit moet na ’n halwe minuut of korter verminder word as jy ongemak ervaar. 4Onthou egter om die idee stadig te herhaal voordat dit spesifiek toegepas word, en ook om by te voeg:

            5Hierdie idee sal help om my te bevry van alles wat ek nou glo.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 10: My thoughts do not mean anything. (ACIM, W-10)

All quotes are from A Course in Miracles, Third Edition.
Copyright © 2007 by the Foundation for Inner Peace, copyright holder and publisher.
448 Ignacio Blvd., #306, Novato, CA 94949, acim.org, used with permission.

© 2026 Hemelbewus

Patternstorm Designs