1. Vandag pas ons gister se idee in werklikheid spesifiek toe. 2In hierdie oefenperiodes sal jy ’n reeks duidelik omskrewe verbintenisse maak. 3Die vraag of jy hulle in die toekoms gaan nakom, gaan ons nie hier aan nie. 4As jy nou ten minste gewillig is om hulle te maak, het jy begin om hulle na te kom. 5En ons is nog maar aan die begin.

2. Jy mag wonder hoekom dit byvoorbeeld belangrik is om te sê: “Ek wil, meer as enigiets anders, hierdie tafel anders sien.” 2Op sigself is dit hoegenaamd nie belangrik nie. 3Maar wat is op sigself? 4En wat beteken “op sigself”? 5Jy sien ’n aantal afsonderlike dinge om jou, wat in werklikheid beteken dat jy hoegenaamd nie sien nie. 6Óf jy sien, óf jy sien nie. 7As jy een ding anders gesien het, sal jy alles anders sien. 8Die lig wat jy in een daarvan sien, is dieselfde lig wat jy in almal sien.

3. As jy sê: “Ek wil, meer as enigiets anders, hierdie tafel anders sien,” verplig jy jouself om jou vooropgesette idees van die tafel terug te trek en jou geestesdenke oop te maak vir wat dit is, en waartoe dit dien. 2Jy definieer dit nie aan die hand van die verlede nie. 3Jy vra wat dit is, eerder as om dit te vertel wat dit is. 4Jy verbind nie die betekenis daarvan met jou eie nietige ervarings van tafels nie, en ook beperk jy nie die doel daarvan tot jou eie onbeduidende persoonlike gedagtes nie.

4. Jy sal nie, wat jy alreeds gedefinieer het, bevraagteken nie. 2En die doel van hierdie oefeninge is om vrae te stel en die antwoorde te kry. 3Deur te sê: “Ek wil, meer as enigiets anders, hierdie tafel anders sien,” verbind jy jouself daartoe om te sien. 4Dit is nie ’n eensydige verbintenis nie. 5Dit is ’n verbintenis wat ewe veel vir die tafel geld as vir enigiets anders, nie meer nie en ook nie minder nie.

5. Jy sou, om die waarheid te sê, visie aan die hand van slegs daardie tafel kon verwerf as jy al jou eie idees daaroor sou terugtrek en met volkome oop geestesdenke daarna sou kyk. 2Dit het iets om jou te wys: iets wat pragtig is en skoon en van oneindige waarde, vol geluk en vol verwagting. 3Weggesteek onder al jou idees lê die werklike doel daarvan, die doel wat dit met die hele universum deel.

6. Deur die tafel as ’n voorwerp te gebruik vir die toepassing van vandag se idee, vra jy dus eintlik om die doel van die universum te sien. 2Jy rig dieselfde versoek tot elke voorwerp wat jy tydens die oefenperiodes gebruik. 3En jy maak ’n verbintenis met elkeen van hulle om hulle doel aan jou bekend te maak, in plaas daarvan om jou eie oordeel daaroor uit te spreek.

7. Ons sal vandag ses oefenperiodes van twee minute elk hê, waartydens vandag se idee eers genoem word en dan toegepas word op wat jy ook al om jou sien. 2Nie alleen moet die voorwerpe willekeurig gekies word nie, maar daar moet aan elkeen dieselfde opregtheid toegeken word wanneer vandag se idee daarop toegepas word, in ’n poging om te erken dat hulle oor gelyke waarde beskik in hul bydrae tot jou vermoë om te sien.

8. Soos gewoonlik moet die toepassings die naam bevat van die voorwerp waarop jou oë toevallig val, en jy moet jou oë daarop laat rus terwyl jy sê:

              2Meer as enigiets anders wil ek hierdie __________ anders sien.

3Elke toepassing moet taamlik stadig uitgevoer word, en so aandagtig moontlik. 4Daar is geen haas nie.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 28: Above all else I want to see things differently. (ACIM, W-28)