Ons hersiening omvat vandag die volgende:

1.             (26) My aanvalsgedagtes val my onkwetsbaarheid aan.

2Hoe kan ek weet wie ek is wanneer ek myself voortdurend as ’n slagoffer van aanval sien. 3Dit lyk of pyn, siekte, verlies, ouderdom en dood my bedreig. 4Dit kom voor of al my hoop, wense en planne aan die genade oorgelewer is van ’n wêreld waaroor ek geen beheer het nie. 5Tog is volmaakte veiligheid en volledige vervulling my erfenis. 6Ek het probeer om my erfenis weg te gee in ruil vir die wêreld wat ek sien. 7Maar God het my erfenis vir my veilig bewaar. 8My eie werklike gedagtes sal my leer wat dit is.

2. (27) Meer as enigiets anders, wil ek tog net kan sien.

2Omdat ek insien dat dit wat ek sien, ’n weerspieëling is van wat ek dink ek is, besef ek dat visie my grootste behoefte is. 3Die wêreld wat ek sien, getuig van die angswekkende aard van die selfbeeld wat ek gemaak het. 4As ek wil onthou wie ek is, is dit noodsaaklik dat ek hierdie beeld van myself laat vaar. 5Soos dit deur waarheid vervang word, sal visie sekerlik aan my geskenk word. 6En met hierdie visie sal ek met mildheid en liefde die wêreld en myself aanskou.

3.             (28) Ek wil, meer as enigiets anders, dinge anders sien.

2Die wêreld wat ek sien, hou my angswekkende selfbeeld in stand, en waarborg die voortsetting daarvan. 3Terwyl ek die wêreld sien soos ek dit nou sien, kan die waarheid nie tot my bewussyn deurdring nie. 4Ek wil graag dat die deur agter hierdie wêreld vir my oopgemaak word, sodat ek daaragter die wêreld kan sien wat die Liefde van God weerspieël.

4.             (29) God is in alles wat ek sien.

2Agter elke beeld wat ek gevorm het, bly die waarheid onveranderd. 3Agter elke sluier wat ek oor die gelaat van die liefde getrek het, het die lig helder en onverdof gebly. 4Agter al my waansinnige wense is my wil verenig met die Wil van my Vader. 5God is steeds oral en vir ewig in alles. 6En ons, wat deel van Hom is, sal uiteindelik verby alle uiterlike verskyningsvorms verby kyk en die volle waarheid daaragter herken.

5.             (30) God is alles wat ek sien, want God is in my geestesdenke.

2In my eie geestesdenke, agter al my waansinnige skeidings- en aanvalsgedagtes, is die kennis dat alles vir ewig een is. 3Ek het nie die kennis van Wie ek is verloor deur dit te vergeet nie. 4Dit het vir my behoue gebly in die Geestesdenke van God wat nie Sy Gedagtes verlaat het nie. 5En ek, wat daartoe behoort, is één daarmee en één met Hom.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 56: Review (26-30). (ACIM, W-56)