1. Vandag se idee druk iets sterkers as blote vasberadenheid uit. 2Dit gee aan visie voorrang bo jou ander begeertes. 3Jy mag huiwerig voel om die idee te gebruik, bloot omdat jy nie seker is dat jy dit werklik bedoel nie. 4Dit maak nie saak nie. 5Die doel met vandag se oefeninge is om die tydstip wanneer die idee volkome waar sal wees, ’n bietjie nader te bring.
2. Die versoeking mag nogal groot wees om te glo dat ’n soort opoffering van jou gevra word wanneer jy sê dat jy meer as enigiets anders tog net wil sien. 2As jy ongemaklik raak oor die gebrek aan voorbehoud daarin, voeg dan by:
3Visie kos niemand iets nie.
4As die vrees vir verlies nie wil wyk nie, voeg verder by:
5Dit kan slegs ’n seën wees.
3. Vandag se idee benodig baie herhalings vir maksimale voordeel. 2Dit behoort ten minste elke halfuur gebruik te word, en meer indien moontlik. 3Jy kan elke 15 of 20 minute probeer. 4Dit word aanbeveel dat jy, wanneer jy wakker word, of kort daarna, sal bepaal hoeveel tyd jy het om die idee toe te pas en probeer om deur die hele dag daarby te bly. 5Dit sal nie moeilik wees om dit te doen nie, selfs tydens gesprekke of as jy besig is. 6Jy kan altyd ’n kort sinnetjie vir jouself herhaal sonder om enigiets te versteur.
4. Die regte vraag is: hoe dikwels sal jy onthou? 2Hoe graag wil jy hê dat vandag se idee waar moet wees? 3Beantwoord een van hierdie vrae en jy het die ander ook beantwoord. 4Jy sal heelwaarskynlik verskeie toepassings mis, en miskien selfs taamlik baie. 5Moet jou nie hierdeur laat ontstel nie, maar probeer wel om daarna by jou program te hou. 6As jy selfs net een keer gedurende die dag voel dat jy volkome opreg was toe jy vandag se idee herhaal het, kan jy seker wees dat jy jouself baie jare se moeite gespaar het.
✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:
“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”
Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.
📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org
Lesson 27: Above all else I want to see. (ACIM, W-27)


