1. As jy op jou eie krag vertrou, het jy genoeg rede om onrustig, angstig en bang te wees. 2Wat kan jy voorspel of beheer? 3Wat is daar in jou waarop gereken kan word? 4Wat kan jou die vermoë verskaf om van alle fasette van enige probleem bewus te wees, en dit op sodanige wyse op te los dat daar slegs goed van kan kom? 5Wat is daar in jou wat jou die regte oplossing laat insien, en jou die waarborg gee dat dit bereik sal word?

2. Uit jouself kan jy niks van hierdie dinge doen nie. 2Om te glo dat jy kan, beteken om jou vertroue te plaas waar daar geen gronde vir vertroue is nie, en om vrees, angs, depressie, woede en verdriet te regverdig. 3Wie kan sy vertroue in swakheid stel en veilig voel? 4Maar wie kan sy vertroue in krag stel en swak voel?

3. God is onder alle omstandighede jou veiligheid. 2Sy Stem praat namens Hom in alle situasies en in elke aspek van alle situasies, en sê presies vir jou wat jou te doen staan om ’n beroep te doen op Sy krag en Sy beskerming. 3Daar is geen uitsonderings nie, want God ken geen uitsonderings nie. 4En die Stem Wat namens Hom praat, dink soos Hy dink.

4. Vandag sal ons probeer om by jou eie swakheid verby te reik na die Bron van werklike krag. 2Vier oefenperiodes van vyf minute elk is vandag nodig, en langer en meer gereelde tye word sterk aanbeveel. 3Sluit jou oë en begin, soos gewoonlik, met ’n herhaling van die idee vir die dag. 4Bestee dan ’n minuut of twee om na situasies in jou lewe te soek wat jy met vrees belaai het, en laat vaar elkeen deur vir jouself te sê:

              5God is die Krag waarop ek vertrou.

5. Probeer nou om by alle besorgdhede wat met jou eie gevoel van ontoereikendheid verband hou, verby te glip. 2Dit is duidelik dat elke situasie wat jou besorgd maak, gepaard gaan met gevoelens van ontoereikendheid, want anders sou jy geglo het dat jy die situasie suksesvol kan hanteer. 3Jy sal nie selfvertroue kry deur bloot op jouself te vertrou nie. 4Maar die krag van God in jou laat alles altyd suksesvol verloop.

6. Die erkenning van jou eie swakheid is ’n noodsaaklike stap om jou foute te herstel, maar dit is nouliks voldoende om jou die selfvertroue te gee wat jy nodig het, en waarop jy geregtig is. 2Jy moet ook daarvan bewus word dat vertroue in jou werklike krag ten volle geregverdig is in alle opsigte en in alle omstandighede.

7. Probeer tydens die laaste fase van die oefenperiode om diep in jou geestesdenke ’n plek van ware veiligheid te bereik. 2Jy sal weet dat jy dit bereik het as jy ’n gevoel van diepe vrede, hoe kortstondig ook al, ervaar. 3Laat los alle onbenullighede wat aan die oppervlakte van jou geestesdenke borrel en kook, en reik in die diepte daaronder na die Koninkryk van die Hemele. 4Daar is ’n plek in jou waar daar volmaakte vrede heers. 5Daar is ’n plek in jou waar niks onmoontlik is nie. 6Daar is ’n plek in jou waar die krag van God vir ewig vertoef.

8. Herhaal die idee dikwels gedurende die dag. 2Gebruik dit as jou antwoord op enige versteuring. 3Onthou dat vrede jou reg is, want jy vestig jou vertroue op die krag van God.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 47: God is the strength in which I trust. (ACIM, W-47)