1. Vandag se idee is die inleiding tot jou vryheidsverklaring. 2Die idee moet weereens toegepas word op beide die wêreld wat jy buite jou en die wêreld wat jy binne jou sien. 3In die toepassing van hierdie idee sal ons ’n oefenvorm gebruik wat al hoe meer gebruik sal word, met variasies soos aangedui. 4Die vorm behels in die algemeen twee aspekte, een waar jy die idee op ’n meer volgehoue basis toepas, en die ander een wat bestaan uit herhaalde toepassings van die idee deur die dag.
2. Twee langer oefenperiodes word met vandag se idee benodig, een in die oggend en een in die aand. 2Drie tot vyf minute word vir elkeen aanbeveel. 3Kyk gedurende hierdie tye stadig om jou heen terwyl jy die idee twee of drie keer herhaal. 4Sluit dan jou oë, en pas dieselfde idee op jou innerlike wêreld toe. 5Jy sal tegelyk aan beide ontsnap, want die innerlike is die oorsaak van die uiterlike.
3. Soos jy jou innerlike wêreld ondersoek, laat jy eenvoudig alle gedagtes wat deur jou geestesdenke gaan in jou bewussyn toe, deur elkeen vir ’n oomblik in oënskou te neem, en dan deur die volgende een te laat vervang. 2Moenie probeer om enige soort hiërargie onder hulle tot stand te bring nie. 3Kyk so gelykmoedig en onpartydig moontlik hoe hulle kom en gaan. 4Moenie by enigeen in besonder stilstaan nie, maar probeer om die stroom gelykmatig en kalm te laat vloei, sonder enige spesiale insette van jou kant af. 5Soos jy jou gedagtes stil sit en dophou, herhaal vandag se idee vir jouself so dikwels soos wat jy wil, maar sonder enige haas.
4. Herhaal daarnaas ook vandag se idee so dikwels moontlik gedurende die dag. 2Herinner jouself daaraan dat jy besig is om ’n onafhanklikheidsverklaring in die naam van jou eie vryheid te maak. 3En in jou vryheid lê die vryheid van die wêreld.
5. Vandag se idee is ook besonder bruikbaar om te gebruik as antwoord op enige vorm van versoeking wat mag ontstaan. 2Dit is ’n verklaring dat jy nie daaraan sal toegee nie, en jouself nie tot slaaf sal maak nie.
✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:
“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”
Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.
📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org
Lesson 31: I am not the victim of the world I see. (ACIM, W-31)


