1. Vandag se idee beskryf jou noukeurig soos God jou geskep het. 2Jy is één in jouself, en één met Hom. 3Aan jou behoort die eenheid van die hele skepping. 4Jou volmaakte eenheid maak veranderinge in jou onmoontlik. 5Jy aanvaar dit nie, en slaag nie daarin om te begryp dat dit so moet wees nie, net omdat jy glo dat jy jouself reeds verander het.
2. Jy sien jouself as ’n belaglike parodie op God se skepping: swak, boosaardig, lelik en sondig, ellendig en deur pyn geteister. 2Dit is jou weergawe van jouself, ’n self wat verdeel is in dele wat mekaar beveg, afgeskei van God, en ’n self wat losweg bymekaar gehou word deur sy wisselvallige en wispelturige maker, wat jy aanbid. 3Hy hoor nie jou gebede nie, want hy is doof. 4Hy sien nie die éénheid in jou nie, want hy is blind. 5Hy begryp nie dat jy die Seun van God is nie, want hy is dwaas en begryp niks nie.
3. Ons sal vandag probeer om slegs bewus te wees van wat kan hoor en wat kan sien, en wat volkome sin maak. 2Ons sal weer ons oefeninge daarop rig om jou een Self te bereik wat met Sy Skepper verenig is. 3Ons probeer weer vandag geduldig en hoopvol.
4. Die gebruik van die eerste vyf minute van elke uur wat jy wakker is om die idee van die dag te oefen, het besondere voordele vir die leerstadium waarin jy tans verkeer. 2Dit is op hierdie stadium moeilik om nie jou geestesdenke te laat afdwaal wanneer die langer oefeninge gedoen word nie. 3Jy het dit sekerlik al teen dié tyd besef. 4Jy het die mate waarin jy aan verstandelike dissipline ontbreek gesien, en ook gesien hoe dringend jou geestesdenke opleiding benodig. 5Dit is nodig dat jy hiervan bewus moet wees, want dit belemmer inderdaad jou vordering.
5. Herhaaldelike, maar korter oefenperiodes hou op hierdie stadium ander voordele vir jou in. 2Behalwe dat jy insien dat jy moeite het om jou aandag vol te hou, moes jy ook opgemerk het dat, tensy jy dikwels aan jou doel herinner word, jy neig om dit vir lang tye te vergeet. 3Jy slaag dikwels nie daarin om die kort toepassings van die dag se idee te onthou nie, en jy het nog nie die gewoonte aangeleer om die idee as ’n outomatiese reaksie op versoekings te gebruik nie.
6. Struktuur is dus op hierdie stadium vir jou nodig, en wel so beplan dat jy herhaaldelik aan jou doel, en jou gereelde pogings om dit te bereik, herinner sal word. 2Reëlmatigheid, in terme van tyd, is nie die ideale voorskrif vir die voordeligste vorm van oefening vir verlossing nie. 3Dit is egter voordelig vir diegene wie se motivering wisselvallig is, en wat ’n sterk weerstand teen leer bly voel.
7. Ons sal dus vir ’n ruk by die vyf-minute-per-uur oefenperiodes hou, en ons moedig jou aan om so min as moontlik oor te slaan. 2Die gebruik van die eerste vyf minute van die uur sal veral nuttig wees, aangesien dit vaster struktuur voorskryf. 3Moet egter nie die kere dat jy versuim as ’n verskoning gebruik om nie, sodra jy kan, na die tydskema terug te keer nie. 4Jy mag wel die versoeking ondervind om die dag as verlore te beskou omdat jy misluk het om te doen wat gevra was. 5Dit moet egter bloot erken word vir wat dit is: ’n weiering om jou fout te laat korrigeer, en onwilligheid om weer te probeer.
8. Die Heilige Gees word nie in Sy onderrig deur jou foute vertraag nie. 2Hy kan slegs teruggehou word deur jou onwilligheid om hulle te laat vaar. 3Laat ons dus vasbeslote wees om, veral vir die komende week, gewillig te wees om onsself te vergewe vir ons gebrek aan vlytigheid en ons versuim om die instruksies te volg om die dag se idee toe te pas. 4Hierdie verdraagsaamheid teenoor swakheid sal ons in staat stel om daar verby te kyk, eerder as om daaraan mag te gee om ons leerproses te vertraag. 5As ons dit mag gee om dit te doen, beskou ons dit as krag, en verwar ons krag met swakheid.
9. As jy misluk om te voldoen aan die vereistes van hierdie kursus, het jy bloot ’n fout begaan. 2Dit verlang ’n korreksie, en niks meer nie. 3Om ’n fout toe te laat om voort te gaan, beteken bykomende foute, gebaseer op die eerste en ’n versterking daarvan. 4Dit is hierdie proses wat laat vaar moet word, want dit is maar net ’n ander manier waarop jy illusies teen die waarheid wil beskerm.
10. Laat al hierdie foute vaar deur hulle te sien vir wat hulle is. 2Hulle is pogings om jou onbewus te hou van die besef dat jy één Self is, verenig met jou Skepper, één met elke aspek van die skepping, en grensloos in mag en vrede. 3Dit is die waarheid en niks anders is waar nie. 4Ons sal vandag hierdie waarheid weer bevestig, en probeer om die plek in jou te bereik waar daar geen twyfel is dat alleenlik dit waar is nie.
11. Begin vandag se oefenperiodes met hierdie versekering, aangebied aan jou geestesdenke met al die sekerheid wat jy kan gee:
2Ek is één Self, verenig met my Skepper, één met elke aspek van die
skepping, en grensloos in krag en vrede.
3Sluit dan jou oë en sê weer vir jouself, stadig en nadenkend, terwyl jy probeer om die betekenis van die woorde toe te laat om jou geestesdenke in te sink, en vals idees te vervang:
4Ek is één Self.
5Herhaal dit verskeie kere, en probeer dan die betekenis wat die woorde oordra, te voel.
12. Jy is één Self, verenig en veilig in lig en vreugde en vrede. 2Jy is God se Seun, één Self, met één Skepper en één doel: om bewustheid van hierdie éénheid na alle geestesdenke te bring, sodat ware skepping die alomteenwoordigheid en die eenheid van God kan uitbrei. 3Jy is één Self, volledig en genees en heel, met die mag om die sluier van duisternis van die wêreld op te lig, en die lig in jou deur te laat om die wêreld die waarheid oor jou te leer.
13. Jy is één Self, in volmaakte harmonie met alles wat is, en alles wat sal wees. 2Jy is één Self, die heilige Seun van God, verenig met jou broers in daardie Self, verenig met jou Vader in Sy Wil. 3Voel hierdie één Self in jou, en laat Hy al jou illusies en twyfel wegskyn. 4Dit is jou Self, die Seun van God Self, sondeloos soos Sy Skepper, met Sy krag in jou en Sy Liefde vir ewig joune. 5Jy is één Self, en dit is vir jou gegee om hierdie Self binne jou te voel, en om al jou illusies te verdryf uit die enkele Geestesdenke wat hierdie Self is, die heilige waarheid in jou.
14. Moenie vandag vergeet nie. 2Ons het jou hulp nodig, jou klein aandeel om geluk te bring aan die hele wêreld. 3En die Hemel hou jou met vertroue dop dat jy dit vandag sal probeer. 4Deel dan in die sekerheid, want dit is joune. 5Wees wakker. 6Moenie vandag vergeet nie. 7Moenie jou doel vergeet nie, onthou dit die hele dag deur. 8Herhaal vandag se idee so dikwels as moontlik, en weet dat elke keer as jy dit doen, hoor iemand die stem van hoop, die roering van die waarheid in sy geestesdenke, die sagte ritseling van die vlerke van vrede.
15. Jou eie erkenning dat jy één Self is, verenig met jou Vader, is ’n beroep op die hele wêreld om één met jou te wees. 2Maak seker dat jy aan elkeen wat jy vandag ontmoet, die belofte van vandag se idee gee en dit vir hom sê:
3Jy is één Self met my, verenig met ons Skepper in hierdie Self. 4Ek eer jou om Wat ek is, en om Wat Hy is, Wat ons beide liefhet as Één.
✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:
“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”
Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.
Lesson 95: I am one Self, united with my Creator. (ACIM, W-95)



