1. Dit is heeltemal moontlik om die hele dag deur na God se Stem te luister sonder om jou gewone bedrywighede op enigerlei wyse te onderbreek. 2Die deel van jou geestesdenke waarin die waarheid woon, is in voortdurende kommunikasie met God, of jy hiervan bewus is of nie. 3Die ander gedeelte van jou geestesdenke is die een wat in die wêreld funksioneer en die wêreld se wette gehoorsaam. 4Dit is hierdie gedeelte wat voortdurend deurmekaar, ontwrig en uiters onseker is.

2. Die deel wat na die Stem namens God luister, is kalm, altyd rustig en heeltemal seker. 2Dit is in werklikheid die enigste deel wat daar is. 3Die ander deel is ’n onbeheerste illusie, waansinnig en dol, maar sonder werklikheid van enige aard. 4Probeer om nie vandag daarna te luister nie. 5Probeer om jou met die deel van jou geestesdenke te vereenselwig waar stilte en vrede altyd heers. 6Probeer om God se Stem te hoor wat jou liefdevol roep en jou daaraan herinner dat jou Skepper nie Sy Seun vergeet het nie.

3. Ons sal vandag ten minste vier oefenperiodes van vyf minute elke benodig, en meer indien moontlik. 2Ons sal werklik probeer om God se Stem te hoor wat jou aan Hom en aan jou Self herinner. 3Ons sal hierdie hoogs vreugdevolle en hoogs heilige gedagtes met vertroue nader, in die wete dat ons hiermee ons wil met die Wil van God verbind. 4Hy wil hê dat jy Sy Stem hoor. 5Hy het dit vir jou gegee om gehoor te word.

4. Luister in diepe stilte. 2Wees heeltemal stil en open jou geestesdenke. 3Gaan verby al die skrille gegil en siek fantasieë wat jou werklike gedagtes verberg en jou ewige verbinding met God versluier. 4Sink diep in die vrede in wat verby die waansinnige, rumoerige gedagtes, taferele en geluide van hierdie kranksinnige wêreld wag. 5Jy woon nie hier nie. 6Ons probeer jou werklike tuiste te bereik. 7Ons probeer die plek bereik waar jy waarlik welkom is. 8Ons probeer God bereik.

5. Moenie vergeet om vandag se idee dikwels te herhaal nie. 2Doen dit met oop oë waar nodig, maar met toe oë waar moontlik. 3En maak seker om rustig te sit en die idee vir vandag te herhaal wanneer jy ook al kan, deur jou oë vir die wêreld te sluit, en te weet dat jy God se Stem uitnooi om met jou te praat.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 49: God’s Voice speaks to me all through the day. (ACIM, W-49)