1. Vandag se idee kombineer twee baie kragtige gedagtes, beide van groot belang. 2Dit beskryf ook ’n oorsaak en gevolg verhouding wat verduidelik waarom jy nie kan misluk in jou pogings om die doel van die kursus te bereik nie. 3Jy sal sien omdat dit God se Wil is. 4Dit is Sy krag, nie jou eie nie, wat jou krag gee. 5En dit is Sy geskenk, eerder as jou eie, wat jou visie gee.
2. God is inderdaad jou krag, en wat Hy gee, word waarlik gegee. 2Dit beteken dat jy dit te enige tyd en op enige plek, waar jy ook al is, en in watter omstandighede jy jou ook al mag bevind, kan ontvang. 3Jou reis deur tyd en ruimte is nie willekeurig nie. 4Jy kan nie anders as om op die regte tyd op die regte plek te wees nie. 5So werk die krag van God. 6So is Sy gawes.
3. Ons sal vandag twee oefenperiodes van drie tot vyf minute hê, die een so gou moontlik nadat jy wakker geword het, en die ander een so na as moontlik aan slapenstyd. 2Dit is egter beter om te wag totdat jy stil en alleen kan wees en tot jy reg voel, eerder as om oor die tye as sulks begaan te wees.
4. Begin hierdie oefenperiodes deur die dag se idee stadig te herhaal, met oop oë, terwyl jy om jou heen kyk. 2Sluit dan jou oë en herhaal die idee weer, nog stadiger as voorheen. 3Probeer hierna om aan niks te dink nie behalwe aan gedagtes wat by jou opkom in verband met die idee van die dag. 4Jy sou byvoorbeeld kon dink:
5Visie moet moontlik wees. 6God gee waarlik,
of:
7God se gawes aan my moet wel myne wees, want Hy het hulle aan my gegee.
5. Enige gedagte wat duidelik verband hou met vandag se idee is geskik. 2Jy mag trouens verbaas wees oor die hoeveelheid insig wat met die kursus verband hou wat sommige van jou gedagtes bevat. 3Laat hulle kom sonder om hulle te sensureer, tensy jy vind dat jou geestesdenke bloot afdwaal en jy duidelik irrelevante gedagtes laat binnekom het. 4Jy mag ook ’n stadium bereik waar dit voorkom of geen gedagtes in jou geestesdenke opkom nie. 5As sulke steurings voorkom, kan jy jou oë oopmaak en die idee weereens herhaal terwyl jy stadig om jou heen kyk; sluit jou oë, herhaal die idee nogmaals en gaan dan voort om na verwante gedagtes in jou geestesdenke te soek.
6. Onthou egter dat ’n aktiewe soeke na verwante gedagtes nie gepas is vir vandag se oefeninge nie. 2Probeer bloot om terug te staan en die gedagtes te laat vloei. 3As jy dit moeilik vind, is dit beter om die oefenperiodes te gebruik vir ’n stadige herhaling van die idee met afwisselende oop en toe oë, as om jou in te span om ten alle koste geskikte gedagtes te vind.
7. Daar is nie ’n beperking op die aantal kort oefenperiodes wat vandag voordelig sal wees nie. 2Die idee vir die dag is die eerste stap om gedagtes saam te voeg en jou te leer dat jy ’n verenigde denksisteem bestudeer waarin niks ontbreek wat nodig is nie, en waarin niks wat teenstrydig of irrelevant is, ingesluit is nie.
8. Hoe meer dikwels jy die idee gedurende die dag herhaal, hoe meer dikwels herinner jy jouself daaraan dat die doel van die kursus vir jou belangrik is, en dat jy dit nie vergeet het nie.
✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:
“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”
Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.


