1. Vandag se idee verduidelik waarom jy die totaliteit van alle doel in elke ding kan sien. 2Dit verduidelik waarom niks apart is, op sigself of in sigself nie. 3En dit verduidelik waarom niks wat jy sien enigiets beteken nie. 4Dit verklaar, om die waarheid te sê, elke idee wat ons tot dusver gebruik het en ook die daaropvolgendes. 5Vandag se idee vorm die hele basis en grondslag vir visie.
2. Jy sal die idee op hierdie stadium heelwaarskynlik baie moeilik vind om te begryp. 2Jy mag dit verspot, oneerbiedig, sinloos, snaaks en selfs aanstootlik vind. 3God kan tog sekerlik nie in byvoorbeeld ’n tafel, soos jy dit sien, wees nie. 4Nogtans het ons gister beklemtoon dat ’n tafel die doel van die universum deel. 5En wat ook al die doel van die universum deel, deel ook die doel van die Skepper daarvan.
3. Probeer dan vandag om te begin leer hoe jy na alle dinge met liefde, waardering en oop geestesdenke kan kyk. 2Jy sien hulle nie nou nie.3Weet jy wat hulle bevat? 4Niks is soos dit vir jou voorkom nie. 5Die heilige doel en bedoeling daarvan strek verder as jou beperkte veld. 6Sodra visie jou die heiligheid gewys het wat die wêreld verlig, sal jy vandag se idee volmaak begryp. 7En jy sal nie begryp hoe jy dit ooit moeilik kon vind nie.
4. Ons ses oefenperiodes van twee minute elk vir vandag behoort ’n nou al bekende patroon te volg: Begin deur die idee vir jouself te herhaal en pas dit dan op willekeurig gekose voorwerpe rondom jou toe, en noem elkeen spesifiek by die naam. 2Probeer die neiging vermy om die keuses self te stuur en te bepaal, iets wat met vandag se idee besonder aanloklik mag wees omdat dit so geheel en al vreemd is. 3Onthou dat enige volgorde wat jy voorskryf, ewe vreemd is aan die werklikheid.
5. Jou lys van voorwerpe moet dus so vry moontlik van selfgemaakte keuses wees. 2’n Geskikte lys mag byvoorbeeld die volgende insluit:
3God is in hierdie klerehanger.
4God is in hierdie tydskrif.
5God is in hierdie vinger.
6God is in hierdie lamp.
7God is in hierdie liggaam.
8God is in hierdie deur.
9God is in hierdie snippermandjie.
10Herhaal die idee, ter aanvulling van die gewone oefenperiodes, minstens een keer elke uur deur stadig rondom jou heen te kyk terwyl jy die woorde langsaam vir jouself sê. 11Jy behoort ten minste een of twee keer ’n gevoel van rustigheid te ervaar as jy dit doen.
✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:
“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”
Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.
📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org
Lesson 29: God is in everything I see. (ACIM, W-29)


