1. Hier is die antwoord op elke probleem waarvoor jy te staan mag kom, vandag en môre en deur alle tye heen. 2In hierdie wêreld glo jy dat jy deur alles, behalwe God, gesteun word. 3Jou vertroue word gestel in die mees onbenullige en banale simbole: pille, geld, “beskermende” klere, invloed, status, gewildheid, die “regte” mense ken, en ’n eindelose lys van allerhande vorms van nietighede wat jy met magiese krag beklee.
2. Al hierdie dinge is jou plaasvervangers vir God se Liefde. 2Al hierdie dinge word gekoester om te verseker dat jy met jou liggaam identifiseer. 3Hulle is lofsange vir die ego. 4Moenie jou vertroue op die waardelose vestig nie. 5Dit sal jou nie onderskraag nie.
3. Net die Liefde van God sal jou in alle omstandighede beskerm. 2Dit sal jou uit elke beproewing lig, jou hoog bo al die gewaande gevare van hierdie wêreld verhef tot ’n sfeer van volmaakte vrede en veiligheid. 3Dit sal jou na ’n toestand van die geestesdenke voer wat deur niks bedreig en ontstel kan word nie, en waar niks die ewige kalmte van die Seun van God kan verbreek nie.
4. Moenie op illusies vertrou nie. 2Hulle sal jou in die steek laat. 3Vestig al jou vertroue op die Liefde van God binne jou: ewig, onveranderlik en vir altyd onfeilbaar. 4Dit is die antwoord op wat jou ook al vandag konfronteer. 5Deur die Liefde van God in jou kan jy alle oënskynlike probleme sonder moeite en in die volste vertroue oplos. 6Sê dit vandag dikwels vir jouself. 7Dit is ’n verklaring waarmee jy jou van die geloof in afgode bevry. 8Dit is jou erkenning van die waarheid oor jouself.
5. Laat die idee, twee keer vandag, oggend en aand, vir tien minute elk diep in jou bewuste insink. 2Herhaal dit, dink daaroor na, laat verwante gedagtes jou kom help om die waarheid daarvan te erken, en laat vrede oor jou vloei soos ’n kombers van beskerming en geborgenheid. 3Laat geen beuselagtige en dwase gedagtes binne om die heilige geestesdenke van die Seun van God te versteur nie. 4Dit is die Koninkryk van die Hemele. 5Dit is die rusplek wat die Vader jou vir ewig toebedeel het.
✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:
“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”
Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.
Lesson 50: I am sustained by the Love of God. (ACIM, W-50)


