1. Juis omdat die gedagtes wat jy dink jy dink as beelde verskyn, herken jy hulle nie as niks nie. 2Jy dink dat jy hulle dink, en dus dink jy dat jy hulle sien. 3Dit is hoe jou “sien” tot stand gekom het. 4Dit is die funksie wat jy aan jou liggaam se oë gegee het. 5Dit is nie sien nie. 6Dit is die maak van beelde. 7Dit neem die plek van sien in en vervang visie met illusie.
2. Hierdie inleidende idee tot die proses van beelde maak wat jy sien noem, sal nie veel betekenis vir jou hê nie. 2Jy sal dit begin begryp wanneer jy klein ligrandjies rondom dieselfde bekende voorwerpe wat jy nou sien, gesien het. 3Dit is die begin van ware visie. 4Jy kan seker wees dat ware visie spoedig sal volg wanneer dit gebeur het.
3. Soos ons voortgaan, mag jy baie “momente van lig” ervaar. 2Hulle mag baie verskillende vorms aanneem, sommiges nogal heeltemal onverwags. 3Moenie vir hulle bang wees nie. 4Hulle is tekens dat jy uiteindelik jou oë begin oopmaak. 5Hulle sal nie aanhou nie, want hulle is bloot simbolies van ware persepsie, en hou nie verband met kennis nie. 6Hierdie oefeninge sal nie kennis vir jou openbaar nie. 7Maar hulle sal die pad daarheen voorberei.
4. Herhaal, in die beoefening van vandag se idee, dit eers vir jouself en pas dit dan toe op alles wat jy om jou sien deur dit by die naam te noem en jou oë daarop te laat rus, terwyl jy sê:
2Hierdie __________ is ’n beeld wat ek gemaak het.
3Daardie __________ is ’n beeld wat ek gemaak het.
4Dit is nie nodig om ’n groot aantal spesifieke voorwerpe vir die toepassing van vandag se idee in te sluit nie. 5Dit is egter nodig om aan te hou kyk na elke voorwerp terwyl jy die idee vir jouself herhaal. 6Die idee moet elke keer taamlik stadig herhaal word.
5. Alhoewel jy uit die aard van die tydsduur nie in staat sal wees om die idee op regtig baie dinge van toepassing te maak gedurende die oefenperiode van ongeveer ’n minuut wat aanbeveel word nie, moet jy probeer om die keuses so vry en willekeurig as moontlik te maak. 2Minder as ’n minuut sal voldoende wees vir die oefenperiodes as jy ongemaklik begin voel. 3Moenie meer as drie oefenperiodes vir vandag se idee hou nie, tensy jy geheel en al gemaklik daarmee voel, en moenie vier oorskry nie. 4Die idee kan egter gedurende die dag na behoefte toegepas word.
✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:
“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”
Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.
📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org
Lesson 15: My thoughts are images that I have made. (ACIM, W-15)


