1. Vandag sal ons begin aanspraak maak op sommige van die gelukkige dinge waarop jy geregtig is, omdat jy is wat jy is. 2Geen lang oefenperiodes word vandag verlang nie, maar baie herhaalde kortetjies is nodig. 3Een elke tien minute sou baie wenslik wees, en jy word aangemoedig om hierdie rooster te volg en waar enigsins moontlik, daarby te hou. 4As jy vergeet, probeer weer. 5As daar lang onderbrekings voorkom, probeer weer. 6Wanneer jy ook al onthou, probeer weer.

2. Jy hoef nie jou oë vir die oefenperiodes te sluit nie, alhoewel jy dit heelwaarskynlik nuttiger sal vind as jy dit wel doen. 2Jy mag jou nogtans gedurende die dag in ’n aantal situasies bevind waar dit nie wenslik sou wees om jou oë toe te maak nie. 3Moenie ’n oefenperiode as gevolg hiervan mis nie. 4Jy kan heel goed onder enige omstandighede oefen, as jy regtig wil.

3. Vandag se oefeninge vra min tyd en geen inspanning nie. 2Herhaal die idee vir vandag, en voeg dan verskeie van die eienskappe by wat jy met ’n Seun van God assosieer, en pas hulle dan op jouself toe. 3’n Oefenperiode kan, byvoorbeeld, uit die volgende bestaan:

              4Ek is geseënd as ’n Seun van God.

                5Ek is gelukkig, tevrede, liefdevol en voldaan.

6’n Ander een kan dalk hierdie vorm aanneem:

              7Ek is geseënd as ’n Seun van God.

                8Ek is kalm, rustig, selfversekerd en vol vertroue.

9As jy slegs ’n kort tydjie tot jou beskikking het, sal dit voldoende wees om net vir jouself te sê dat jy geseënd is as ’n Seun van God.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 40: I am blessed as a Son of God. (ACIM, W-40)