Etiket: Afrikaans spiritualiteit

Les 49 – God se Stem praat met my, die hele dag deur.

1. Dit is heeltemal moontlik om die hele dag deur na God se Stem te luister sonder om jou gewone bedrywighede op enigerlei wyse te onderbreek. 2Die deel van jou geestesdenke waarin die waarheid woon, is in voortdurende kommunikasie met God, of jy hiervan bewus is of nie. 3Die ander gedeelte van jou geestesdenke is die een wat in die wêreld funksioneer en die wêreld se wette gehoorsaam. 4Dit is hierdie gedeelte wat voortdurend deurmekaar, ontwrig en uiters onseker is.

2. Die deel wat na die Stem namens God luister, is kalm, altyd rustig en heeltemal seker. 2Dit is in werklikheid die enigste deel wat daar is. 3Die ander deel is ’n onbeheerste illusie, waansinnig en dol, maar sonder werklikheid van enige aard. 4Probeer om nie vandag daarna te luister nie. 5Probeer om jou met die deel van jou geestesdenke te vereenselwig waar stilte en vrede altyd heers. 6Probeer om God se Stem te hoor wat jou liefdevol roep en jou daaraan herinner dat jou Skepper nie Sy Seun vergeet het nie.

3. Ons sal vandag ten minste vier oefenperiodes van vyf minute elke benodig, en meer indien moontlik. 2Ons sal werklik probeer om God se Stem te hoor wat jou aan Hom en aan jou Self herinner. 3Ons sal hierdie hoogs vreugdevolle en hoogs heilige gedagtes met vertroue nader, in die wete dat ons hiermee ons wil met die Wil van God verbind. 4Hy wil hê dat jy Sy Stem hoor. 5Hy het dit vir jou gegee om gehoor te word.

4. Luister in diepe stilte. 2Wees heeltemal stil en open jou geestesdenke. 3Gaan verby al die skrille gegil en siek fantasieë wat jou werklike gedagtes verberg en jou ewige verbinding met God versluier. 4Sink diep in die vrede in wat verby die waansinnige, rumoerige gedagtes, taferele en geluide van hierdie kranksinnige wêreld wag. 5Jy woon nie hier nie. 6Ons probeer jou werklike tuiste te bereik. 7Ons probeer die plek bereik waar jy waarlik welkom is. 8Ons probeer God bereik.

5. Moenie vergeet om vandag se idee dikwels te herhaal nie. 2Doen dit met oop oë waar nodig, maar met toe oë waar moontlik. 3En maak seker om rustig te sit en die idee vir vandag te herhaal wanneer jy ook al kan, deur jou oë vir die wêreld te sluit, en te weet dat jy God se Stem uitnooi om met jou te praat.

✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”

Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 49: God’s Voice speaks to me all through the day. (ACIM, W-49)

Les 34 – Ek sou vrede in plaas hiervan kan sien.

1. Vandag se idee begin om die voorwaardes te beskryf wat geld vir die ander manier van sien. 2Vrede van die geestesdenke is duidelik ’n innerlike saak 3Dit moet met jou eie gedagtes begin en dan na buite toe uitbrei. 4Juis vanuit die vrede van jou geestesdenke vloei ’n vreedsame persepsie van die wêreld voort.

2. Drie langer oefenperiodes word vir vandag se oefeninge vereis. 2Een in die oggend en een in die aand word aanbeveel, met ’n bykomende een enige tyd tussenin wanneer jy ten beste gereed voel daarvoor. 3Alle toepassings moet met geslote oë gedoen word. 4Dit is jou innerlike wêreld waarop vandag se idee toegepas moet word.

3. Ongeveer vyf minute se ondersoek van jou geestesdenke is nodig vir elkeen van vandag se langer oefenperiodes. 2Ondersoek jou geestesdenke vir vreesgedagtes, angswekkende situasies, “aanstootlike” persoonlikhede of gebeure, of enigiets anders waaroor jy liefdelose gedagtes koester. 3Neem hulle almal ongedwonge en terloops waar, herhaal vandag se idee stadig terwyl jy hulle in jou geestesdenke sien opkom en laat elkeen dan gaan, om deur die volgende een vervang te word.

4. As jy dit moeilik begin vind om aan spesifieke onderwerpe te dink, moet jy voortgaan om die idee rustig vir jouself te herhaal, sonder om dit op iets in die besonder toe te pas. 2Maak egter seker om nie iets opsetlik uit te sluit nie.

5. Die korter toepassings moet veelvuldig wees, en moet telkens gedoen word wanneer jy voel dat die vrede van jou geestesdenke enigsins bedreig word. 2Die bedoeling is om jou deur die hele dag teen versoekings te beskerm. 3As ’n spesifieke soort versoeking in jou bewussyn opkom, moet die oefening hierdie vorm aanneem:

              4Ek sou vrede in hierdie situasies kon sien, in plaas van wat ek nou daarin             sien.

6. As dié dinge wat inbreuk maak op jou innerlike vrede ’n algemene vorm van nare emosies aanneem soos depressie, angs of bekommernis, moet die idee in sy oorspronklik vorm gebruik word. 2As jy vind dat jy meer as een toepassing van vandag se idee benodig om te help om jou geestesdenke in enige spesifieke opsig te help verander, probeer om ’n hele paar minute te neem en te bestee aan die herhaling van die idee totdat jy ’n gevoel van verligting ervaar. 3Dit sal ook help as jy spesifiek vir jouself sê:

            4Ek kan my gevoelens van depressie, angs of bekommernis (of my gedagtes oor             hierdie situasie, persoonlikheid of gebeurtenis) vervang met vrede.

✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”

Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 34: I could see peace instead of this. (ACIM, W-34)

Les 33 – Daar is ’n ander manier om na die wêreld te kyk.

1. Vandag se idee is ’n poging om in te sien dat jy jou persepsie van die wêreld kan verander, in sowel sy uiterlike as sy innerlike aspek. 2’n Volle vyf minute behoort in die oggend en aand aan die toepassing bestee te word. 3Herhaal tydens hierdie oefenperiodes die idee so dikwels as wat jy dit gemaklik vind, alhoewel toepassings sonder gejaagdheid noodsaaklik bly. 4Wissel die ondersoek van jou uiterlike en innerlike persepsies af, maar sonder om die afwisseling as te skielik te ervaar.

2. Kyk bloot ongedwonge rond in die wêreld wat jy as buite jouself waarneem, sluit dan jou oë en ondersoek jou innerlike gedagtes met dieselfde ongedwongenheid. 2Probeer om teenoor beide ewe onbetrokke te bly, en hierdie onbetrokkenheid te behou terwyl jy die idee deur die dag herhaal.

3. Die korter oefenperiodes moet so veelvuldig moontlik wees. 2Spesifieke toepassings van vandag se idee moet ook onmiddellik gemaak word sodra enige situasie ontstaan wat jou in die versoeking bring om ontsteld te raak. 3Sê by sulke toepassings:

              4Daar is ’n ander manier om hierna te kyk.

4. Onthou om vandag se idee toe te pas sodra jy bewus word van ’n kwelling. 2Dit mag nodig wees om ’n minuut of langer stil te sit en die idee verskeie kere vir jouself te herhaal. 3Dit sal tydens hierdie soort toepassings heelwaarskynlik help om jou oë te sluit.

✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”

Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 33: There is another way of looking at the world. (ACIM, W-33)

Les 32 – Ek het die wêreld wat ek sien, self uitgedink.

1. Vandag gaan ons voort om die tema van oorsaak en gevolg te ontwikkel. 2Jy is nie die slagoffer van die wêreld wat jy sien nie, want jy het dit self uitgedink. 3Jy kan dit net so maklik opgee as wat jy dit gemaak het. 4Jy sal dit óf sien óf nie sien nie, soos jy dit verlang. 5Solank jy dit wil hê, sal jy dit sien; wanneer jy dit nie meer wil hê nie, sal dit nie meer daar wees vir jou om te sien nie.

2. Vandag se idee is, soos die voriges, op jou innerlike en uiterlike wêrelde, wat in werklikheid dieselfde is, van toepassing. 2Omdat jy hulle egter as verskillend sien, sal die oefenperiodes vir vandag weer twee fases behels, die een wat betrekking het op die wêreld wat jy buite jou sien, en die ander een op die wêreld wat jy in jou geestesdenke sien. 3Probeer tydens vandag se oefeninge die idee tuisbring dat beide in jou eie verbeelding bestaan.

3. Ons sal weer die oefenperiodes vir die oggend en aand begin deur vandag se idee twee of drie keer te herhaal, terwyl jy om jou heen kyk na die wêreld wat jy as buite jouself sien. 2Sluit dan jou oë en kyk rond in jou innerlike wêreld. 3Probeer om beide so gelykwaardig moontlik te behandel. 4Herhaal vandag se idee sonder haas so dikwels jy wil, terwyl jy die beelde wat jou verbeelding aan jou bewussyn voorlê, dophou.

4. Vir die langer oefenperiodes word drie tot vyf minute, maar nie minder as drie nie, aanbeveel. 2Jy kan meer as vyf bestee as jy die oefening rustig vind. 3Om dit te vergemaklik, kan jy ’n tyd kies wanneer jy min steurings verwag, en jy self redelik gereed daarvoor voel.

5. Hierdie oefeninge moet gedurende die dag voortgesit word, so dikwels moontlik. 2Die korter toepassings bestaan daaruit om die idee stadig te herhaal, soos jy hetsy jou innerlike hetsy jou uiterlike wêreld ondersoek. 3Dit maak nie saak watter een jy kies nie.

6. Vandag se idee moet ook onmiddellik toegepas word op enige situasie wat jou bekommerd mag maak. 2Pas die idee toe deur vir jouself te sê:

              3Ek het hierdie situasie soos ek dit sien, self uitgedink.

✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”

Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 32: I have invented the world I see. (ACIM, W-32)

Les 30 – God is in alles wat ek sien, want God is in my geestesdenke.

1. Vandag se idee is die springplank na visie. 2Vanuit hierdie idee sal die wêreld voor jou oopgaan, en jy sal daarna kyk en daarin sien wat jy nog nooit tevore gesien het nie. 3Ook sal wat jy voorheen gesien het, nie eers vaagweg vir jou sigbaar wees nie.

2. Ons probeer om vandag ’n nuwe soort “projeksie” te hanteer. 2Ons gaan nie probeer om ontslae te raak van dit waarvan ons nie hou deur dit buite ons te sien nie. 3Ons probeer in plaas daarvan om in die wêreld te sien wat in ons geestesdenke is, en wat ons wil sien, is daar. 4Ons probeer dus om te verbind met wat ons sien, eerder as om dit weg van ons af te hou. 5Dit is die basiese verskil tussen visie en die manier waarop jy sien.

3. Vandag se idee moet so dikwels moontlik deur die dag toegepas word. 2Wanneer jy ook al ’n oomblik beskikbaar het, herhaal dit stadig vir jouself terwyl jy rondom jou kyk en probeer besef dat die idee geld vir alles wat jy nou sien, of nou sou kon sien as dit binne jou gesigsveld was.

4. Ware visie is nie beperk tot konsepte soos “naby” of “ver” nie. 2Om jou te help om gewoond te begin raak aan hierdie idee, moet jy by die toepassing van vandag se idee probeer om te dink aan dinge wat sowel buite jou huidige gesigsveld val, as dié wat jy daadwerklik kan sien

5. Ware visie word nie slegs deur ruimte en afstand beperk nie, maar is hoegenaamd nie van die liggaam se oë afhanklik nie. 2Die geestesdenke is sy enigste bron. 3Om jou ook te help om meer aan hierdie idee gewoond te raak, moet verskeie oefenperiodes daaraan gewy word om vandag se idee met geslote oë toe te pas, deur enige onderwerpe te gebruik wat in jou geestesdenke opkom, en deur na binne in plaas van na buite te kyk. 4Vandag se idee geld vir beide in gelyke mate.

✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”

Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 30: God is in everything I see because God is in my mind. (ACIM, W-30)

All quotes are from A Course in Miracles, Third Edition.
Copyright © 2007 by the Foundation for Inner Peace, copyright holder and publisher.
448 Ignacio Blvd., #306, Novato, CA 94949, acim.org, used with permission.

© 2026 Hemelbewus

Patternstorm Designs