Ons sal vandag die volgende hersien:
1. (11) My betekenislose gedagtes laat my ’n betekenislose wêreld sien.
2Aangesien die gedagtes waarvan ek bewus is, niks beteken nie, kan die wêreld wat deur hulle uitgebeeld word nie betekenis hê nie. 3Dit waardeur hierdie wêreld voortgebring is, is waansinnig, en dieselfde geld vir dit wat die wêreld voortbring. 4Die werklikheid is nie waansinnig nie, en ek het sowel werklike as waansinnige gedagtes. 5Ek kan daarom die werklike wêreld sien, as ek op my werklike gedagtes sou staatmaak as rigsnoer om te sien.
2. (12) Ek voel ontsteld omdat ek ’n betekenislose wêreld sien.
2.Waansinnige gedagtes is ontstellend. 3Hulle bring ’n wêreld voort waarin daar nêrens orde is nie. 4Net chaos regeer ’n wêreld wat ’n weergawe is van chaotiese denke, en chaos ken geen wette nie. 5Ek kan nie in so ’n wêreld in vrede leef nie. 6Ek is dankbaar dat hierdie wêreld nie werklik is nie en ek dit hoegenaamd nie hoef te sien nie, tensy ek kies om waarde daaraan te verleen. 7En ek kies om nie waarde te verleen aan wat heeltemal waansinnig is en geen betekenis het nie.
3. (13) ’n Betekenislose wêreld veroorsaak vrees.
2Wat totaal waansinnig is, veroorsaak vrees omdat dit heeltemal onbetroubaar is en geen basis vir vertroue bied nie. 3In waansin is niks te vertrou nie. 4Dit bied geen veiligheid en hoop nie. 5Maar so ’n wêreld is nie werklik nie. 6Ek het daaraan die illusie van werklikheid verskaf en het gely as gevolg van my geloof daarin. 7Nou verkies ek om hierdie geloof terug te trek, en my vertroue in die werklikheid te stel. 8Deur dit te kies, sal ek van al die gevolge van die wêreld van vrees ontsnap, want ek erken dat dit nie bestaan nie.
4. (14) God het nie ’n betekenislose wêreld geskep nie.
2Hoe kan ’n betekenislose wêreld bestaan as God dit nie geskep het nie? 3Hy is die Bron van alle betekenis, en alles wat werklik is, is in Sy Geestesdenke. 4Dit is ook in my geestesdenke, want Hy het dit met my geskep. 5Waarom sal ek voortgaan om te ly aan die gevolge van my eie waansinnige gedagtes as die volmaaktheid van die skepping my tuiste is? 6Laat ek die krag van my keuse onthou en besef waar ek regtig woon.
5. (15) My gedagtes is beelde wat ek gemaak het.
2Wat ek ook al sien, is ’n weerspieëling van my gedagtes. 3Dit is my gedagtes wat my vertel waar ek is en wat ek is. 4Die feit dat ek ’n wêreld van swaarkry, verlies en dood sien, wys my dat ek bloot ’n weergawe van my waansinnige gedagtes sien, en nie my werklike gedagtes toelaat om hulle weldadige lig te werp op wat ek sien nie. 5Tog is God se weg seker. 6Die beelde wat ek gemaak het, kan Hom nie oorweldig nie, want dit is nie my wil dat dit geskied nie. 7My wil is Syne, en ek sal geen ander gode voor Sy aangesig hê nie.
✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:
“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”
Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.
Lesson 53: Review (11-15). (ACIM, W-53)


