
Dit is ’n Kursus in wonders. Dit is ’n verpligte kursus. Slegs die tydstip waarop jy dit doen, is vrywillig. Vrye wil beteken nie dat jy die leerplan kan opstel nie. Dit beteken slegs dat jy kan kies wat jy op ’n gegewe oomblik wil doen. Die kursus beoog nie om die betekenis van liefde te onderig nie, want die liefde is verhewe bo wat onderig kan word. Dit beoog egter wel om die struikelblokke te verwyder tot die bewustheid van die aanwesigheid van liefde, wat jou natuurlike erfenis is. Die teenoorgestelde van liefde is vrees, maar dit wat alomvattend is, ken geen teenoorgestelde nie. Hierdie kursus kan daarom baie eenvoudig soos volg opgesom word:
Niks wat werklik is, kan bedreig word nie.
Niks wat onwerklik is, bestaan nie.
Hierin lê die vrede van God.
So begin ’n Kursus in wonders. Dit maak ’n fundamentele onderskeid tussen die werklike en die onwerklike, tussen kennis en persepsie. Kennis is waarheid, onderhewig aan een wet, die wet van liefde of van God. Die waarheid is onveranderlik, ewig en ondubbelsinnig. Dit kan onopgemerk bly, maar nie verander word nie. Dit geld vir alles wat God geskep het, en alleen wat Hy geskep het, is werklik. Dit gaan wat geleer kan word te bowe, want dit lê buite bereik van tyd en prosesse. Dit het geen teenoorgestelde nie, geen begin en geen einde nie. Dit is eenvoudig net.
Welkom by hierdie Heilige ruimte van innerlike genesing en selfontdekking.
INLEIDING
1. ’n Teoretiese grondslag, soos deur die teks verskaf, is ’n noodsaaklike raamwerk om die oefeninge in hierdie werkboek sinvol te maak. 2Maar dit is eers wanneer die oefeninge gedoen word dat die doel van die kursus bereik word. 3Ongeoefende geestesdenke (Engels: mind) kan niks tot stand bring nie. 4Dit is die doel van hierdie werkboek om jou geestesdenke te oefen om volgens die riglyne te dink, soos dit deur die teks uiteengesit word.
2. Die oefeninge is baie eenvoudig. 2Hulle vereis nie baie tyd nie en dit maak nie saak waar jy hulle doen nie. 3Hulle vereis nie voorbereiding nie. 4Die opleidingstyd neem ’n jaar in beslag. 5Die oefeninge is van 1 tot 365 genommer. 6Moenie probeer om meer as een stel oefeninge per dag te doen nie.
3. Die werkboek word in twee hoofafdelings verdeel: die eerste behandel die ongedaanmaking van die wyse waarop jy tans sien, en die tweede die verkryging van ware persepsie. 2Met die uitsondering van hersieningsperiodes word elke dag se oefeninge rondom ’n sentrale idee, wat eers gestel word, opgebou. 3Dit word opgevolg met ’n beskrywing van die spesifieke riglyne waarvolgens die idee van die dag uitgevoer moet word.
4. Die doel van die werkboek is om jou geestesdenke sistematies te oefen tot ’n ander en nuwe persepsie van almal en alles in die wêreld. 2Die oefeninge is ontwerp om jou te help in die veralgemening van die lesse, sodat jy sal begryp dat hulle elkeen ewe toepaslik is op jou persepsie van almal en alles.
5. By ware persepsie verloop die oordrag van opleiding en leer nie op dieselfde wyse as dienooreenkomstige oordrag in die wêreld nie. 2As ware persepsie ten opsigte van enige persoon, situasie of gebeurtenis bereik is, dan is totale oordrag na almal en alles verseker. 3Daarenteen maak een enkele uitsondering wat van ware persepsie weggehou word, die verwesenliking daarvan oral onmoontlik.
6. Die enigste algemene reëls wat deurgaans in ag geneem moet word, is dus: eerstens, dat die oefeninge, soos aangedui sal word, in die fynste besonderhede uitgevoer moet word. 2Dit sal jou help om die betrokke idees te veralgemeen na elke situasie waarin jy jou bevind, en na almal en alles daarby betrokke. 3Tweedens, maak seker dat jy nie vir jouself besluit dat daar sommige mense, situasies of sake is waarop die idees nie toepaslik is nie. 4Dit sal die oordrag van leer belemmer. 5Die aard van ware persepsie is juis dat dit geen perke het nie. 6Dit is die teenoorgestelde van die manier waarop jy nou sien.
7. Die hoofdoel van die oefeninge is die versterking van jou vermoë om die idees wat jy wil oefen sodanig uit te brei dat alles omvat word. 2Dit sal geen inspanning van jou kant verg nie. 3Die oefeninge self voldoen aan die voorwaardes wat noodsaaklik is vir hierdie soort oordrag.
8. Jy gaan sommige van die idees wat die werkboek aanbied moeilik vind om te glo, en ander mag selfs ontstellend voorkom. 2Dit maak nie saak nie. 3Jy word slegs gevra om die idees toe te pas soos jy aangewys word om te doen. 4Jy word nie gevra om hulle hoegenaamd te beoordeel nie. 5Jy word slegs gevra om hulle te gebruik. 6Dit is deur die gebruik daarvan dat hulle vir jou betekenis sal verkry, en vir jou sal wys dat hulle waar is.
9. Onthou alleenlik dit: jy hoef nie die idees te glo nie, jy hoef hulle nie te aanvaar nie, om nie eers te praat van toe te juig nie. 2Jy mag jou teen sommiges heftig verset. 3Niks hiervan is van belang of verminder hulle doeltreffendheid nie. 4Maar moenie jouself toelaat om uitsonderings te maak in die toepassing van die idees wat die werkboek bevat nie, en wat jou reaksies ook al op die idees mag wees, gebruik hulle. 5Daar word niks meer gevra nie.


