Etiket: wonderwerke

Les 32 – Ek het die wêreld wat ek sien, self uitgedink.

1. Vandag gaan ons voort om die tema van oorsaak en gevolg te ontwikkel. 2Jy is nie die slagoffer van die wêreld wat jy sien nie, want jy het dit self uitgedink. 3Jy kan dit net so maklik opgee as wat jy dit gemaak het. 4Jy sal dit óf sien óf nie sien nie, soos jy dit verlang. 5Solank jy dit wil hê, sal jy dit sien; wanneer jy dit nie meer wil hê nie, sal dit nie meer daar wees vir jou om te sien nie.

2. Vandag se idee is, soos die voriges, op jou innerlike en uiterlike wêrelde, wat in werklikheid dieselfde is, van toepassing. 2Omdat jy hulle egter as verskillend sien, sal die oefenperiodes vir vandag weer twee fases behels, die een wat betrekking het op die wêreld wat jy buite jou sien, en die ander een op die wêreld wat jy in jou geestesdenke sien. 3Probeer tydens vandag se oefeninge die idee tuisbring dat beide in jou eie verbeelding bestaan.

3. Ons sal weer die oefenperiodes vir die oggend en aand begin deur vandag se idee twee of drie keer te herhaal, terwyl jy om jou heen kyk na die wêreld wat jy as buite jouself sien. 2Sluit dan jou oë en kyk rond in jou innerlike wêreld. 3Probeer om beide so gelykwaardig moontlik te behandel. 4Herhaal vandag se idee sonder haas so dikwels jy wil, terwyl jy die beelde wat jou verbeelding aan jou bewussyn voorlê, dophou.

4. Vir die langer oefenperiodes word drie tot vyf minute, maar nie minder as drie nie, aanbeveel. 2Jy kan meer as vyf bestee as jy die oefening rustig vind. 3Om dit te vergemaklik, kan jy ’n tyd kies wanneer jy min steurings verwag, en jy self redelik gereed daarvoor voel.

5. Hierdie oefeninge moet gedurende die dag voortgesit word, so dikwels moontlik. 2Die korter toepassings bestaan daaruit om die idee stadig te herhaal, soos jy hetsy jou innerlike hetsy jou uiterlike wêreld ondersoek. 3Dit maak nie saak watter een jy kies nie.

6. Vandag se idee moet ook onmiddellik toegepas word op enige situasie wat jou bekommerd mag maak. 2Pas die idee toe deur vir jouself te sê:

              3Ek het hierdie situasie soos ek dit sien, self uitgedink.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 32: I have invented the world I see. (ACIM, W-32)

Les 25 – Ek weet nie waarvóór enigiets daar is nie.

1. Die betekenis lê in die doel. 2Vandag se idee verduidelik waarom niks wat jy sien enigiets beteken nie. 3Jy weet nie waarvóór dit hoegenaamd daar is nie. 4Daarom is dit vir jou betekenisloos. 5Alles is in jou beste belang. 6Dit is waarvoor dit daar is; dit is die doel daarvan; dit is wat dit beteken. 7Deur dit in te sien, word al jou doelstellings één gemaak. 8Dit is deur dit in te sien, dat wát jy sien, betekenis kry.

2. Jy neem die wêreld en alles daarin as betekenisvol waar in terme van die ego se doeleindes. 2Hierdie doeleindes het niks te doen met jou hoogste of beste belang nie, want jy is nie die ego nie. 3Hierdie vals identifikasie ontneem jou van die vermoë om te begryp waarvoor iets daar is. 4Gevolglik sal jy dit misbruik. 5As jy hiervan oortuig is, sal jy probeer om die doeleindes wat jy aan die wêreld toegeken het, te onttrek, in plaas van om hulle te probeer versterk.

3. ’n Ander manier om die doeleindes wat jy nou waarneem, te beskryf, is om te sê dat hulle almal om “persoonlike” belange draai. 2Aangesien jy geen persoonlike belange het nie, draai jou doeleindes in werklikheid om niks nie. 3Deur hulle te koester, het jy sodoende geen doelstellings hoegenaamd nie. 4En dus weet jy nie waarvoor enigiets daar is nie.

4. Voordat jy enige sin kan maak uit vandag se oefening, is nog ’n gedagte nodig. 2Op selfs die oppervlakkigste vlakke herken jy wel doel en bedoeling. 3Maar doel kan nie op hierdie vlakke begryp word nie. 4Jy weet byvoorbeeld dat die doel van ’n telefoon is om met iemand te praat wat nie fisies in jou onmiddellike omgewing is nie. 5Wat jy nie begryp nie, is waarvoor jy hom wil bereik. 6En dít is wat jou kontak met hom betekenisvol maak, aldan nie.

5. Dit is noodsaaklik vir jou om te leer om gewillig te wees om die doeleindes wat jy vir alles vasgestel het, op te gee. 2Die erkenning dat hulle betekenisloos is, eerder as “goed” of “sleg”, is die enigste manier om dit te vermag. 3Vandag se idee is ’n stap in hierdie rigting.

6. Ses oefenperiodes, elk twee minute lank, word vereis. 2Elke oefenperiode moet begin met ’n stadige herhaling van vandag se idee, waarna jy rondom jou kyk en jou blik laat rus op enigiets wat jou aandag trek, naby of ver, “belangrik” of “onbelangrik”, “menslik” of “onmenslik”. 3Met jou oë wat rus op elke voorwerp wat jy so kies, sê byvoorbeeld:

              4Ek weet nie waarvoor hierdie stoel daar is nie.

              5Ek weet nie waarvoor hierdie potlood daar is nie.

              6Ek weet nie waarvoor hierdie hand daar is nie.

7Sê dit redelik stadig, sonder om jou oë van die voorwerp af te haal, totdat jy die stelling daaroor voltooi het. 8Gaan dan voort met die volgende voorwerp en pas vandag se idee soos voorheen toe.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 25: I do not know what anything is for. (ACIM, W-25)

Les 21 – Ek is vasbeslote om dinge anders te sien.

1. Vandag se idee is vanselfsprekend ’n voortsetting en uitbreiding van die vorige een. 2Hierdie keer is spesifieke tye, buiten en behalwe die toepassing van die idee wanneer spesifieke situasies mag opduik, egter nodig vir die ondersoek van jou geestesdenke. 3Daar word vyf oefenperiodes, van ’n minuut elk, aangeraai.

2. Begin die oefenperiodes deur die idee vir jouself te herhaal. 2Maak dan jou oë toe en soek in jou geestesdenke sorgvuldig na situasies in die verlede, hede of toekoms wat jou kwaad gemaak het. 3Die kwaadwees kan die vorm aanneem van enige reaksie wat wissel van ligte irritasie tot woede. 4Die intensiteit van die emosie wat jy ervaar, maak egter nie saak nie.5Jy sal toenemend daarvan bewus word dat ’n ligte stekie ergernis niks anders as ’n sluier oor intense woede is nie.

3. Probeer dus tydens die oefenperiodes keer dat die “klein” gedagtetjies van kwaadwees nie jou aandag ontsnap nie. 2Onthou dat jy nie werklik dít wat jou kwaad maak, insien nie en dat niks wat jy in hierdie opsig glo enige betekenis het nie. 3Jy sal heelwaarskynlik geneig wees om langer by sommige situasies of persone stil te staan as by ander, op valse grond dat hulle meer “vanselfsprekend” is. 4Dit is nie so nie. 5Dit is bloot ’n voorbeeld van die oortuiging dat sommige vorme van aanval meer geregverdig is as ander.

4. Soos jy jou geestesdenke ondersoek vir al die maniere waarop aanvalsgedagtes hulle voordoen, hou elkeen vas in jou gedagtes terwyl jy vir jouself sê:

              2Ek is vasbeslote om __________ (naam van persoon) anders te sien.

              3Ek is vasbeslote om __________ (spesifiseer die situasie) anders te sien.

5. Probeer om so spesifiek as moontlik te wees. 2Jy mag byvoorbeeld jou gevoel van kwaadwees verkeerdelik op ’n spesifieke eienskap van ’n spesifieke persoon fokus, omdat jy glo dat die kwaadwees tot hierdie aspek beperk is. 3As jou persepsie aan die soort verdraaiings onderworpe is, sê dan:

            4Ek is vasbeslote om ___________ (spesifiseer die eienskap) in __________(naam van             persoon) anders te sien.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 21: I am determined to see things differently. (ACIM, W-21)

Les 20 – Ek is vasbeslote om te sien.

1. Ons was tot dusver redelik vry en ongedwonge betreffende ons oefenperiodes. 2Daar is feitlik geen poging aangewend om die tyd te beheer om hulle uit te voer nie, ’n minimum inspanning is vereis, en selfs nie eens aktiewe samewerking en belangstelling is gevra nie. 3Hierdie benadering was opsetlik en baie sorgvuldig beplan. 4Ons het nie die dwingende belangrikheid van die ommekeer van jou denke uit die oog verloor nie. 5Die verlossing van die wêreld hang daarvan af. 6Maar solank jy sou voel dat jy onder dwang staan en daarom sou kon toegee aan wrewel en verset, sou jy nie sien nie.

2. Dit is dus nou die eerste keer dat moeite gedoen word om struktuur in te bring. 2Moet dit nie verkeerd opvat as ’n poging om dwang of druk uit te oefen nie. 3Jy wil verlossing hê. 4Jy wil gelukkig wees. 5Jy wil vrede hê. 6Jy beskik nie nou daaroor nie, want jou geestesdenke is totaal ongedissiplineerd, en jy kan nie tussen vreugde en verdriet, plesier en pyn, liefde en vrees onderskei nie. 7Jy leer nou hoe om hulle uit mekaar te ken. 8En jou loon sal voorwaar groot wees.

3. Al wat vir visie nodig is, is jou besluit om te sien. 2Wat jy wil hê, is joune. 3Moenie die geringe inspanning wat van jou gevra word, verkeerdelik opneem as ’n teken dat ons doel min waarde sou hê nie. 4Kan die verlossing van die wêreld ’n onbenullige doel wees? 5En kan die wêreld verlos word, as jy nie verlos word nie? 6God het één Seun, en hy is die opstanding en die lewe. 7Sy wil geskied, want aan hom is alle mag in die Hemel en op aarde gegee. 8In jou vasbeslotenheid om te sien, word visie aan jou gegee.

4. Die oefeninge vir vandag bestaan daaruit dat jy jou die hele tyd deur die dag daaraan herinner dat jy wil sien. 2Vandag se idee hou stilswyend die erkenning in dat jy nie nou sien nie. 3Soos jy dus vandag se idee herhaal, verklaar jy dat jy vasbeslote is om jou huidige toestand na ’n beter een te verander, en een wat jy regtig wil hê.

5. Herhaal vandag se idee stadig en positief ten minste twee keer per uur, en probeer om dit elke halfuur te doen. 2Moenie bekommerd raak as jy vergeet om dit te doen nie, maar wend regtig ’n poging aan om te onthou. 3Die ekstra herhalings moet toegepas word op elke situasie, persoon of gebeurtenis wat jou ontstel. 4Jy kan hulle anders sien, en jy sal ook. 5Wat jy verlang, sal jy sien. 6Dit is die werklike wet van oorsaak en gevolg, soos dit in die wêreld werk.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 20: I am determined to see. (ACIM, W-20)

Les 13 – ’n Betekenislose wêreld veroorsaak vrees.

1. Vandag se idee is in werklikheid net ’n ander vorm van die vorige een, behalwe dat dit meer spesifiek is oor die emosie wat opgewek word. 2’n Betekenislose wêreld is eintlik onmoontlik. 3Daar bestaan niks sonder betekenis nie. 4Dit beteken egter nie dat jy nie sal dink dat jy iets waarneem wat nie betekenis het nie. 5Jy sal, inteendeel, hoogswaarskynlik dink dat jy dit wel waarneem.

2. Die herkenning van betekenisloosheid ontlok intense angs in alle geskeide mense. 2Dit verteenwoordig ’n situasie waar God en die ego mekaar “uitdaag” oor wie se betekenis in die oop spasie geskryf moet word wat die betekenisloosheid veroorsaak. 3Die ego storm rasend in om ten alle koste sy eie idees daar neer te plak, bang dat die leegte andersins gebruik sal word om sy eie onvermoë en onwerklikheid te bewys. 4En slegs in hierdie opsig is hy korrek.

3. Dit is daarom noodsaaklik dat jy leer om die betekenislose te herken en sonder vrees te aanvaar. 2As jy bang is, sal jy sekerlik eienskappe aan die wêreld toeken waaroor dit nie beskik nie en dit met beelde en voorstellings vul wat nie bestaan nie. 3Vir die ego is illusies veiligheidsmaatreëls, soos hulle heelwaarskynlik vir jou ook sal wees wat jouself met die ego gelykstel.

4 Vandag se oefeninge wat ongeveer drie of vier keer gedoen moet word vir nie langer as ’n minuut of wat op ’n keer nie, moet op ’n ietwat ander manier as die voriges toegepas word. 2Herhaal vandag se idee vir jouself met geslote oë. 3Maak dan jou oë oop, kyk stadig om jou heen terwyl jy sê:

              4Ek kyk na ’n betekenislose wêreld.

5Herhaal hierdie stelling vir jouself soos jy rondkyk. 6Maak dan jou oë toe en sluit af met:

              7’n Betekenislose wêreld veroorsaak vrees, omdat ek dink dat ek met God             meeding .

5. Jy mag dit moeilik vind om nie weerstand van een of ander aard op hierdie laaste uitspraak te ervaar nie. 2Ongeag watter vorm hierdie weerstand ook al mag aanneem, moet jy jouself daaraan herinner dat jy in werklikheid vir so ’n gedagte bang is vanweë die “wraak” van die “vyand.” 3Daar word nie van jou verwag om die uitspraak op hierdie stadium te glo nie, en jy sal dit heelwaarskynlik as absurd van die hand wys. 4Let egter versigtig op enige tekens van verbloemde of onverbloemde vrese wat dit mag opwek.

6. Dit is ons eerste poging tot die uitspreek van ’n eksplisiete oorsaak-en-gevolgverhouding, en wel van ’n soort wat jy nog uiters moeilik vind om te herken. 2Moenie stilstaan by die slotuitspraak nie, en probeer om nie eers daaraan te dink nie, behalwe tydens die oefenperiodes. 3Dit sal op hierdie stadium voldoende wees.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 13: A meaningless world engenders fear. (ACIM, W-13)

Les 4 – Hierdie gedagtes beteken niks nie.

Hierdie gedagtes beteken niks nie.

Hulle is soos die dinge wat ek in hierdie kamer

(in hierdie straat, uit hierdie venster, op hierdie plek) sien.

1. In teenstelling tot die voriges, begin hierdie oefeninge nie met die idee van die dag nie. 2Begin hierdie oefenperiode deur vir ’n minuut te let op die gedagtes wat deur jou geestesdenke gaan. 3Pas dan die idee daarop toe. 4As jy reeds van ongelukkige gedagtes bewus is, gebruik hulle dan as onderwerp vir die idee. 5Moet egter nie net die gedagtes wat jy dink “sleg” is, kies nie. 6Jy sal vind, as jy jouself oefen om na jou gedagtes te kyk, dat hulle so ’n verskeidenheid verteenwoordig dat nie een daarvan in ’n sekere sin “goed” of “sleg” genoem kan word nie. 7Dit is waarom hulle niks beteken nie.

2. By die keuse van onderwerpe vir die toepassing van vandag se idee, is dit soos gewoonlik nodig om spesifiek te wees. 2Moenie bang wees om “goeie” sowel as “slegte” gedagtes te gebruik nie. 3Nie een van hulle gee jou ware gedagtes weer wat deur hulle geheim gehou word nie. 4Die “goeies” is slegs skaduwees van wat daaragter lê, en skaduwees bemoeilik sig. 5Die “slegtes” blokkeer sig, en maak sien onmoontlik. 6Jy wil nie een van die twee hê nie.

3. Hierdie oefening is belangrik, en sal van tyd tot tyd in ietwat verskillende vorm herhaal word. 2Die mikpunt hier is om jou die eerste stappe te leer na die einddoel om die betekenislose van die betekenisvolle te skei. 3Dit is die eerste poging in die langtermyn doel om die betekenislose buite jou te leer sien, en die betekenisvolle binne jou. 4Dit is ook die begin daarvan om jou geestesdenke te oefen om te herken wat dieselfde is en wat verskillend is.

4. Tipeer elke gedagte wat jy vir die toepassing van die idee van vandag gebruik volgens die sentrale figuur of gebeurtenis wat dit bevat, byvoorbeeld:

            2Hierdie gedagte oor __________ beteken niks nie.

            3Dit is soos die dinge wat ek in hierdie kamer

            (in hierdie straat, ensovoorts) sien.

5. Jy kan ook die idee gebruik vir enige spesifieke gedagte wat jy as skadelik beskou.

2Hierdie gebruik is nuttig, maar is nie ’n plaasvervanger vir die meer willekeurige werkwyses wat tydens oefeninge gevolg moet word nie. 3Moet egter nie jou geestesdenke vir langer as ongeveer ’n minuut ondersoek nie. 4Jy is nog te onervare om die neiging te vermy om doelloos in gedagtes versonke te raak.

6. Omdat hierdie oefeninge bowendien die eerste van hul soort is, mag jy dit besonder moeilik vind om alle oordeel in verband met gedagtes op te skort. 2Moenie hierdie oefeninge meer as drie of vier keer gedurende die dag herhaal nie. 3Ons sal later daarna terugkeer.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 4: These thoughts do not mean anything. They are like the things I see in this room [on this street, from this window, in the place]. (ACIM, W-4)

All quotes are from A Course in Miracles, Third Edition.
Copyright © 2007 by the Foundation for Inner Peace, copyright holder and publisher.
448 Ignacio Blvd., #306, Novato, CA 94949, acim.org, used with permission.

© 2026 Hemelbewus

Patternstorm Designs