Etiket: Bewustheid

Les 32 – Ek het die wêreld wat ek sien, self uitgedink.

1. Vandag gaan ons voort om die tema van oorsaak en gevolg te ontwikkel. 2Jy is nie die slagoffer van die wêreld wat jy sien nie, want jy het dit self uitgedink. 3Jy kan dit net so maklik opgee as wat jy dit gemaak het. 4Jy sal dit óf sien óf nie sien nie, soos jy dit verlang. 5Solank jy dit wil hê, sal jy dit sien; wanneer jy dit nie meer wil hê nie, sal dit nie meer daar wees vir jou om te sien nie.

2. Vandag se idee is, soos die voriges, op jou innerlike en uiterlike wêrelde, wat in werklikheid dieselfde is, van toepassing. 2Omdat jy hulle egter as verskillend sien, sal die oefenperiodes vir vandag weer twee fases behels, die een wat betrekking het op die wêreld wat jy buite jou sien, en die ander een op die wêreld wat jy in jou geestesdenke sien. 3Probeer tydens vandag se oefeninge die idee tuisbring dat beide in jou eie verbeelding bestaan.

3. Ons sal weer die oefenperiodes vir die oggend en aand begin deur vandag se idee twee of drie keer te herhaal, terwyl jy om jou heen kyk na die wêreld wat jy as buite jouself sien. 2Sluit dan jou oë en kyk rond in jou innerlike wêreld. 3Probeer om beide so gelykwaardig moontlik te behandel. 4Herhaal vandag se idee sonder haas so dikwels jy wil, terwyl jy die beelde wat jou verbeelding aan jou bewussyn voorlê, dophou.

4. Vir die langer oefenperiodes word drie tot vyf minute, maar nie minder as drie nie, aanbeveel. 2Jy kan meer as vyf bestee as jy die oefening rustig vind. 3Om dit te vergemaklik, kan jy ’n tyd kies wanneer jy min steurings verwag, en jy self redelik gereed daarvoor voel.

5. Hierdie oefeninge moet gedurende die dag voortgesit word, so dikwels moontlik. 2Die korter toepassings bestaan daaruit om die idee stadig te herhaal, soos jy hetsy jou innerlike hetsy jou uiterlike wêreld ondersoek. 3Dit maak nie saak watter een jy kies nie.

6. Vandag se idee moet ook onmiddellik toegepas word op enige situasie wat jou bekommerd mag maak. 2Pas die idee toe deur vir jouself te sê:

              3Ek het hierdie situasie soos ek dit sien, self uitgedink.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 32: I have invented the world I see. (ACIM, W-32)

Les 21 – Ek is vasbeslote om dinge anders te sien.

1. Vandag se idee is vanselfsprekend ’n voortsetting en uitbreiding van die vorige een. 2Hierdie keer is spesifieke tye, buiten en behalwe die toepassing van die idee wanneer spesifieke situasies mag opduik, egter nodig vir die ondersoek van jou geestesdenke. 3Daar word vyf oefenperiodes, van ’n minuut elk, aangeraai.

2. Begin die oefenperiodes deur die idee vir jouself te herhaal. 2Maak dan jou oë toe en soek in jou geestesdenke sorgvuldig na situasies in die verlede, hede of toekoms wat jou kwaad gemaak het. 3Die kwaadwees kan die vorm aanneem van enige reaksie wat wissel van ligte irritasie tot woede. 4Die intensiteit van die emosie wat jy ervaar, maak egter nie saak nie.5Jy sal toenemend daarvan bewus word dat ’n ligte stekie ergernis niks anders as ’n sluier oor intense woede is nie.

3. Probeer dus tydens die oefenperiodes keer dat die “klein” gedagtetjies van kwaadwees nie jou aandag ontsnap nie. 2Onthou dat jy nie werklik dít wat jou kwaad maak, insien nie en dat niks wat jy in hierdie opsig glo enige betekenis het nie. 3Jy sal heelwaarskynlik geneig wees om langer by sommige situasies of persone stil te staan as by ander, op valse grond dat hulle meer “vanselfsprekend” is. 4Dit is nie so nie. 5Dit is bloot ’n voorbeeld van die oortuiging dat sommige vorme van aanval meer geregverdig is as ander.

4. Soos jy jou geestesdenke ondersoek vir al die maniere waarop aanvalsgedagtes hulle voordoen, hou elkeen vas in jou gedagtes terwyl jy vir jouself sê:

              2Ek is vasbeslote om __________ (naam van persoon) anders te sien.

              3Ek is vasbeslote om __________ (spesifiseer die situasie) anders te sien.

5. Probeer om so spesifiek as moontlik te wees. 2Jy mag byvoorbeeld jou gevoel van kwaadwees verkeerdelik op ’n spesifieke eienskap van ’n spesifieke persoon fokus, omdat jy glo dat die kwaadwees tot hierdie aspek beperk is. 3As jou persepsie aan die soort verdraaiings onderworpe is, sê dan:

            4Ek is vasbeslote om ___________ (spesifiseer die eienskap) in __________(naam van             persoon) anders te sien.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 21: I am determined to see things differently. (ACIM, W-21)

Les 11 – My betekenislose gedagtes laat my ’n betekenislose wêreld sien.

1. Hierdie is die eerste idee wat aangebied word in direkte verband met een van die belangrikste fases in die korreksieproses: die omkering van die denke van die wêreld. 2Dit lyk asof die wêreld bepaal wat jy waarneem. 3Vandag se idee stel die konsep bekend dat jou gedagtes die wêreld wat jy sien, bepaal. 4Wees trouens bly dat jy die idee in sy basiese vorm kan toepas, want in hierdie idee is jou bevryding verseker. 5Die sleutel tot vergifnis is hierin geleë.

2. Die oefenperiodes vir vandag se idee moet ietwat anders as die voriges aangepak word. 2Begin met geslote oë en herhaal die idee stadig vir jouself. 3Maak dan jou oë oop en kyk rond, naby en ver, op en af, – oral om jou. 4Herhaal dit bloot vir jouself die minuut of meer wat bestee moet word om die idee te gebruik, maar maak seker dat jy dit nie oorhaastig en met enige gevoel van dringendheid of moeite doen nie.

3. Om die grootste hoeveelheid voordeel uit die oefeninge te trek, moet die oë redelik vinnig van een ding na ’n ander beweeg omdat hulle nie op enigiets spesifiek moet bly rus nie. 2Die woorde moet egter op ’n kalm, selfs ontspanne manier gebruik word. 3Die inleiding tot hierdie idee moet veral so gemaklik moontlik gedoen word. 4Dit vorm die grondslag van die vrede, ontspanning en onbesorgdheid wat ons poog om te bereik. 5Sluit aan die einde van die oefeninge jou oë en herhaal die idee nog ’n keer stadig vir jouself.

4. Drie oefenperiodes sal vandag heelwaarskynlik voldoende wees. 2Maar as daar min of geen ongemak is nie, en jy voel om meer te doen, kan soveel as vyf aangepak word. 3Meer word nie aanbeveel nie.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 11: My meaningless thoughts are showing me a meaningless world. (ACIM, W-11)

Les 8 – My geestesdenke is behep met gedagtes uit die verlede.

1. Hierdie idee is natuurlik die rede waarom jy slegs die verlede sien. 2Niemand sien werklik iets nie. 3Hy sien maar net sy gedagtes wat na buite geprojekteer word. 4Die geestesdenke se beheptheid met die verlede is die oorsaak van die verkeerde opvatting oor tyd waaronder jou waarneming ly. 5Jou geestesdenke kan nie die hede wat die enigste tyd wat daar is, begryp nie. 6Dit kan daarom nie tyd begryp nie, en kan in werklikheid niks begryp nie.

2. Die enigste volkome ware gedagte wat ’n mens oor die verlede kan hê, is dat dit nie hier is nie. 2Om dus hoegenaamd daaroor te dink, is om oor illusies te dink. 3Baie min mense besef wat dit nou eintlik behels of selfs beteken om ’n prentjie te vorm van die verlede of om die toekoms te antisipeer. 4Wanneer die geestesdenke dit doen, is dit in werklikheid leeg, want dit dink nie wesenlik oor iets nie.

3. Die doel met vandag se oefeninge is om te begin om jou geestesdenke te oefen om te sien wanneer dit in werklikheid glad nie dink nie. 2Solank gedagtelose idees jou geestesdenke in beslag neem, word die waarheid geblokkeer. 3Die eerste stap om die pad na visie te open, is die erkenning dat jou geestesdenke tot dusver bloot leeg was, eerder as om te bly glo dat dit met regte idees gevul is.

4. Vandag se oefeninge moet met geslote oë gedoen word. 2Dit is omdat jy in werklikheid niks kan sien nie en dit so makliker is om in te sien dat, ongeag van hoe duidelik jy jou ook al ’n gedagte mag voorstel, jy in der waarheid niks sien nie. 3Ondersoek jou geestesdenke vir die gewone minuut lank, maar met so min as moontlike insette van jou kant, en let bloot op die gedagtes wat jy daar vind. 4Benoem elkeen volgens die sentrale figuur of tema wat daarin voorkom, en gaan oor na die volgende een. 5Begin die oefenperiode deur te sê:

              6Dit lyk of ek dink aan __________.

5. Benoem dan elke gedagte spesifiek, byvoorbeeld:

2Dit lyk of ek dink aan (naam van persoon), aan (naam van ’n objek), aan (naam van ’n emosie),

ensovoorts, en sluit dan die tyd van ondersoek van jou geestesdenke ten slotte af met:

            3Maar my geestesdenke is behep met gedagtes uit die verlede.

6. Dit kan vier of vyf keer gedurende die dag gedoen word, tensy jy dit irriterend vind. 2As jy dit veeleisend vind, is drie of vier keer voldoende. 3Jy mag dit egter nuttig vind om jou irritasie, of enige emosie wat vandag se idee moontlik veroorsaak, in te sluit by hierdie ondersoek van jou geestesdenke.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 8: My mind is preoccupied with past thoughts. (ACIM, W-8)

All quotes are from A Course in Miracles, Third Edition.
Copyright © 2007 by the Foundation for Inner Peace, copyright holder and publisher.
448 Ignacio Blvd., #306, Novato, CA 94949, acim.org, used with permission.

© 2026 Hemelbewus

Patternstorm Designs