1. Alle versoekings is niks anders as een of ander vorm van die basiese versoeking om nie vandag se idee te glo nie. 2Dit kom voor of verlossing van oral behalwe van jou kom. 3Dieselfde geld vir die oorsprong van skuld. 4Jy sien nie dat skuld sowel as verlossing in jou eie geestesdenke is en nêrens anders nie. 5Wanneer jy insien dat alle skuld alleenlik ’n uitvinding van jou geestesdenke is, sien jy ook in dat skuld en verlossing op dieselfde plek moet wees. 6Deur dit te begryp, word jy gered.

2. Die oënskynlike prys wat betaal word om vandag se idee te aanvaar, is dit: dit beteken dat niks buite jouself jou kan verlos nie, niks buite jouself jou vrede kan gee nie. 2Maar dit beteken ook dat niks buite jouself jou kan seermaak nie, jou vrede kan versteur nie of jou op enige wyse kan ontstel nie. 3Vandag se idee plaas jou in beheer van die universum, waar jy tuishoort op grond van wat jy is. 4Dit is nie ’n rol wat gedeeltelik aanvaar kan word nie. 5En jy behoort sekerlik te begin insien dat die aanvaarding daarvan verlossing beteken.

3. Dit mag egter ook wees dat dit nog nie vir jou duidelik is waarom die besef dat skuld in jou eie geestesdenke is, die insig meebring dat verlossing ook daar is nie. 2God sou tog nie die geneesmiddel vir die siekte geplaas het waar dit nie kan help nie. 3Dit is hoe jou geestesdenke sou gewerk het, maar bepaald nie Syne nie. 4Hy wil hê dat jy genees moet word en het dus die Bron van genesing bewaar daar waar die behoefte aan genesing lê.

4. Jy het probeer om presies die teenoorgestelde te doen deur alle pogings aan te wend om, hoe verwronge en vreemd ook al, genesing te skei van die siekte waarvoor dit bedoel was, en dus die siekte te behou. 2Jou doel was om te verseker dat genesing nie plaasvind nie. 3God se doel was om seker te maak dat dit wel gebeur.

5. Vandag oefen ons die insig dat God se Wil en ons eie wil hierin in wese dieselfde is. 2Dit is God se Wil dat ons genees word, en ons wil nie regtig siek wees nie, want dit maak ons ongelukkig. 3Deur vandag se idee te aanvaar, is ons dus in werklikheid in ooreenstemming met God. 4Dis nie Sy Wil dat ons siek moet wees nie. 5Ons ewemin. 6Hy wil dat ons genees sal word. 7Ons eweneens.

6. Ons is vandag gereed vir twee langer oefenperiodes wat elk ongeveer tien tot vyftien minute behoort te duur. 2Ons sal dit egter nog steeds aan jou oorlaat om te besluit wanneer om hulle te doen. 3Ons sal hierdie metode vir ’n aantal lesse volg, en dit sal weereens goed wees om vooruit te besluit wanneer ’n goeie tyd sal wees om vir elkeen opsy te sit, en dan so nougeset moontlik by jou eie besluite te bly.

7. Begin hierdie oefenperiodes deur vandag se idee te herhaal, en ’n stelling by te voeg wat dui op jou insig dat verlossing van niks buite jouself kom nie. 2Jy kan dit op dié manier stel:

              3My verlossing kom van my. 4Dit kan nie van enige ander plek kom nie.

5Wy dan ’n paar minute daaraan, met toe oë, om terug te kyk op ’n paar van die plekke buite jouself waar jy in die verlede jou verlossing gesoek het: by ander mense, in besittings, in verskillende situasies en gebeure, en in selfbeelde wat jy probeer werklik maak het. 6Erken dat dit nie daar is nie en sê vir jouself:

7My verlossing kan nie van enige van hierdie dinge kom nie. 8My verlossing kom van my en van my alleen.

8. Ons sal nou weer probeer om die lig in jou te bereik, daar waar jou verlossing lê. 2Jy kan dit nie in die wolke wat die lig omring vind nie, en dit is juis daar waar jy dit gesoek het. 3Dit is nie daar nie. 4Dit is verby die wolke in die lig daaragter. 5Onthou dat jy deur die wolke sal moet gaan voordat jy die lig kan bereik. 6Maar onthou ook dat jy nooit iets in die wolkpatrone, wat jy jou voorgestel het, gekry het wat duursaam was, of wat jy enigsins wou hê nie.

9. Aangesien alle illusies van verlossing jou gefaal het, sal jy sekerlik nie in die wolke wil bly en tevergeefs daar vir afgode wil soek, as jy so maklik die lig van werklike verlossing sou kon binnegaan nie. 2Probeer enige metode wat jou pas om by die wolke verby te beweeg. 3As dit jou help, dink dan dat ek jou hand vashou en jou lei. 4En ek verseker jou dat dit nie bloot ’n lugspieëling sal wees nie.

10. Hou tydens vandag se kort en frekwente oefenperiodes in gedagte dat jou verlossing van jou kom en dat niks, behalwe jou eie gedagtes, jou vordering kan vertraag nie. 2Jy is vry van alle inmenging van buite. 3Jy is in beheer van jou verlossing. 4Jy is in beheer van die verlossing van die wêreld. 5Sê dan:

6My verlossing kom van my. 7Niks buite my kan my terughou nie. 8Binne my

 lê die verlossing van die wêreld en die verlossing van myself.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 70: My salvation comes from me. (ACIM, W-70)