1. Vandag se idee bevat die sleutel tot wat jou werklike gedagtes is. 2Hulle is nie wat jy dink jy dink nie, net soos wat jy dink jy sien, geen verband hou met visie op enige wyse nie. 3Daar is geen verband tussen wat werklik is en wat jy dink werklik is nie. 4Niks wat jy dink jou regte gedagtes is, kom enigsins met jou regte gedagtes ooreen nie. 5Niks wat jy dink jy sien, toon enige ooreenkoms met wat visie jou sal wys nie.
2. Jy dink met die Geestesdenke van God. 2Sodoende deel jy jou gedagtes met Hom, soos Hy Syne met jou deel. 3Hulle is dieselfde gedagtes, want hulle word deur dieselfde Geestesdenke gedink. 4Om te deel, beteken om eenders of één te maak. 5Ook verlaat die gedagtes waarmee jy met die Geestesdenke van God dink nie jou geestesdenke nie, want gedagtes verlaat nie hulle bron nie. 6Daarom is jou gedagtes in die Geestesdenke van God, nes jy is. 7Hulle is ook in jou geestesdenke, waar Hy is. 8Soos jy deel van Sy Geestesdenke is, is jou gedagtes deel van Sy Geestesdenke.
3. Waar is jou werklike gedagtes dan? 2Vandag gaan ons probeer om hulle te bereik. 3Ons sal hulle in jou geestesdenke moet soek, want dit is waar hulle is. 4Hulle moet steeds daar wees, want hulle kon nie hulle bron verlaat het nie. 5Wat deur die Geestesdenke van God gedink word, is ewig, omdat dit ’n deel van die skepping is.
4. Ons drie oefenperiodes van vyf minute elk vir vandag neem dieselfde vorm aan as wat ons gebruik het om gister se idee toe te pas. 2Ons sal probeer om die onwerklike agter te laat en die werklike te soek. 3Ons sal die wêreld afwys ten gunste van die waarheid. 4Ons sal ons nie deur die gedagtes van die wêreld laat terughou nie. 5Ons sal ons nie deur die oortuigings van die wêreld laat vertel dat wat God wil hê ons moet doen, onmoontlik is nie. 6Ons sal, inteendeel, probeer insien dat alleenlik wat God wil hê ons moet doen, moontlik is.
5. Ons sal ook probeer begryp dat ons net dít wil doen wat God vir ons wil. 2En ons sal ook probeer om te onthou dat ons nie kan misluk om te doen wat Hy wil hê ons moet doen nie. 3Ons het alle rede om vol vertroue te wees dat ons vandag sal slaag. 4Dit is die Wil van God.
6. Begin vandag se oefeninge deur die idee vir jouself te herhaal, en sluit jou oë daartydens. 2Bestee dan ’n redelike kort tydjie om ’n paar verwante gedagtes van jou eie te dink, terwyl jy die idee in gedagte hou. 3Nadat jy ongeveer vier of vyf gedagtes van jou eie tot die idee gevoeg het, herhaal dit weereens en sê saggies vir jouself:
4My werklike gedagtes is in my geestesdenke. 5Ek wil hulle graag vind.
6Probeer dan om by al die onwerklike gedagtes verby te gaan wat die waarheid in jou geestesdenke bedek, en die ewige te bereik.
7. Onder al die sinlose gedagtes en dwase idees waarmee jy jou geestesdenke volgestop het, is die gedagtes wat jy in die begin met God gedink het. 2Hulle is nou, volkome onveranderd, daar in jou geestesdenke. 3Hulle sal altyd in jou geestesdenke wees, presies soos hulle altyd was. 4Alles wat jy sedertdien gedink het, sal verander, maar die Grondslag waarop dit berus, is volkome onveranderlik.
8. Dit is op hierdie Grondslag dat vandag se oefeninge gerig word. 2Hier is jou geestesdenke verenig met die Geestesdenke van God. 3Hier is jou gedagtes één met Syne. 4Vir hierdie soort oefening is slegs een ding nodig: benader dit soos jy ’n altaar sou nader wat in die Hemel aan God die Vader en aan God die Seun toegewy is. 5Want sodanig is die plek wat jy probeer bereik. 6Jy sal heelwaarskynlik nog nie in staat wees om te besef hoe hoog jy probeer gaan nie. 7Maar selfs met die klein bietjie insig wat jy reeds verwerf het, behoort jy in staat te wees om jouself daaraan te herinner dat dit nie ’n beuselagtige speletjie is nie, maar ’n oefening in heiligheid en ’n poging om die Koninkryk van die Hemel te bereik.
9. Probeer tydens die korter oefenperiodes van vandag onthou hoe belangrik dit vir jou is om die heiligheid te begryp van die geestesdenke wat met God dink. 2Neem ’n minuut of twee om, wanneer jy die idee deur die dag herhaal, jou geestesdenke se heiligheid te waardeer. 3Staan opsy, hoe kort ook al, van alle gedagtes wat Hom Wie se gasheer jy is, onwaardig is. 4En bedank Hom vir die gedagtes wat Hy met jou dink.
✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:
“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”
Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.


