Etiket: Afrikaans

Les 38 – Daar is niks wat my heiligheid nie kan doen nie.

1. Jou heiligheid draai al die wette van die wêreld om. 2Dit gaan enige tyd, ruimte, afstand en grense van enige aard te bowe. 3Jou heiligheid is totaal onbeperk in die mag daarvan, want dit bevestig jou as ’n Seun van God, één met die Geestesdenke van sy Skepper.

2. Deur jou heiligheid word die mag van God gemanifesteer. 2Deur jou heiligheid word die mag van God beskikbaar gestel. 3En daar is niks wat die mag van God nie kan doen nie. 4Jou heiligheid kan gevolglik alle pyn verwyder, alle smart en leed beëindig, en alle probleme oplos. 5Dit kan hy doen met betrekking tot jouself en enigiemand anders. 6Dit het dieselfde mag om elkeen te help omdat dit dieselfde mag het om iedereen te verlos.

3. As jy heilig is, is alles wat God geskep het ook heilig. 2Jy is heilig, omdat alle dinge wat Hy geskep het heilig is. 3En alle dinge wat Hy geskep het, is heilig, omdat jy heilig is. 4In vandag se oefeninge sal ons die mag van jou heiligheid benut vir alle probleme, moeilikhede of lyding van enige aard waaraan jy mag dink, in jouself of in iemand anders. 5Ons sal geen onderskeid tref nie, want daar is geen onderskeid nie.

4. Herhaal tydens die vier langer oefenperiodes, wat elk verkieslik ’n volle vyf minute moet duur, die idee vir vandag, sluit jou oë en ondersoek dan jou geestesdenke vir enige gevoel van verlies of ongelukkigheid van enige aard, soos jy dit sien. 2Probeer so min onderskeid as moontlik maak tussen situasies wat vir jou moeilik is en situasies wat vir iemand anders moeilik is. 3Dui die situasie spesifiek aan, en ook die naam van die betrokke persoon. 4Gebruik die volgende vorm om die idee vir vandag toe te pas:

              5In die situasie met betrekking tot __________ waarin ek myself sien, is daar

              niks wat my heiligheid nie kan doen nie.

              6In die situasie met betrekking tot __________ waarin __________ homself

              sien, is daar niks wat my heiligheid nie kan doen nie.

5. Miskien wil jy van tyd tot tyd hierdie werkswyse varieer en enkele verbandhoudende gedagtes van jou eie byvoeg. 2Jy sou byvoorbeeld gedagtes kon insluit soos:

              3Daar is niks wat my heiligheid nie kan doen nie, want die mag van God lê                         daarin.

4Bring enige variasies in waarvan jy hou, maar fokus die oefeninge op die tema: “Daar is niks wat my heiligheid nie kan doen nie.” 5Die doel van vandag se oefeninge is om die gevoel geleidelik in te prent dat jy heerskappy oor alle dinge het, as gevolg van wat jy is.

6. Pas die idee tydens die veelvuldige korter oefeninge toe in sy oorspronklike vorm, tensy ’n spesifieke probleem ten opsigte van jouself of iemand anders opduik, of in jou geestesdenke opkom. 2Gebruik in dié geval die meer spesifieke vorm van die idee en pas dit daarop toe.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 38: There is nothing my holiness cannot do. (ACIM, W-38)

Les 24 – Ek sien nie wat in my eie beste belang is nie.

1. In geen situasie wat ontstaan, weet jy watter uitkoms jou gelukkig sal maak nie. 2Jy beskik dus oor geen leiding vir gepaste optrede, en oor geen maatstaf om die resultaat te beoordeel nie. 3Wat jy doen, word bepaal deur jou persepsie van die situasie, en daardie persepsie is verkeerd. 4Dit is dus onvermydelik dat jy nie jou hoogste en beste belang dien nie. 5Nogtans is dit jou enigste doel in elke situasie wat korrek waargeneem word. 6Anders sal jy nie insien wat dit is nie.

2. As jy ingesien het dat jy nie sien wat jou hoogste of beste belang is nie, sou jy dit geleer kon word. 2Maar as jy daarvan oortuig is dat jy wél weet wat dit is, kan jy nie leer nie. 3Vandag se idee is ’n stap op pad na die oopmaking van jou geestesdenke sodat die leerproses kan begin.

3. Vandag se oefeninge vereis baie meer eerlikheid as waaraan jy gewoond is. 2’n Paar onderwerpe wat eerlik en versigtig oorweeg word in elk van die vyf oefenperiodes wat vandag gedoen moet word, sal van groter hulp wees as die oppervlakkige verkenning van ’n groot hoeveelheid. 3Twee minute word voorgestel vir elke periode van geestesdenke-ondersoek wat die oefeninge behels.

4. Die oefenperiodes moet begin deur vandag se idee te herhaal, gevolg deur ’n ondersoek van die geestesdenke met geslote oë na onopgeloste situasies waaroor jy tans bekommerd is. 2Die klem moet val op die blootlegging van die uitkoms wat jy verlang. 3Jy sal gou agterkom dat jy ’n hele aantal doeleindes in gedagte het as deel van die gewenste uitkoms, en ook dat hierdie doeleindes op verskillende vlakke lê en dikwels konflikteer.

5. Noem in die toepassing van vandag se idee elke situasie wat by jou opkom, en som dan versigtig soveel doeleindes as moontlik op wat jy wil hê bereik moet word vir die oplossing daarvan. 2Die vorm van elke toepassing kan naastenby soos volg wees:

            3In die situasie met betrekking tot __________ sou ek graag wil hê dat _________             gebeur, en _________ gebeur,

ensovoorts. 4Probeer om soveel verskillende soorte uitkomste te dek soos wat eerlik by jou opkom, selfs al lyk dit of sommige nie direk met die situasie verband hou, of selfs heeltemal daarby hoort nie.

6. As hierdie oefeninge korrek gedoen word, sal jy gou insien dat jy ’n groot aantal eise aan die situasie stel wat niks daarmee te doen het nie. 2Jy sal ook insien dat baie van jou doelstellings teenstrydig is, dat jy geen eenduidige uitkoms in gedagte het nie en dat jy, hoe die situasie ook al mag verloop, teleurgesteld sal voel met sommige van jou doelstellings.

7. Nadat jy die lys van soveel hoopvolle doelstellings as moontlik, gedek het, sê vir jouself met elke onopgeloste situasie wat deur jou geestesdenke gaan:

              2Ek sien nie wat my beste belang is in hierdie situasie nie,

en gaan dan voort met die volgende een.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 24: I do not perceive my own best interests. (ACIM, W-24)

Les 19 – Ek ervaar nie die gevolge van my gedagtes alleen nie.

1. Vandag se idee is natuurlik die rede waarom jou manier van sien jou nie alléén beïnvloed nie. 2Jy sal opmerk dat die idees wat verband hou met denke soms dié wat verband hou met persepsie voorafgaan, terwyl die volgorde met ander tye omgekeerd is. 3Die rede is dat die volgorde nie saak maak nie. 4Denke en die resultate daarvan vind in werklikheid gelyktydig plaas, want oorsaak en gevolg is nooit geskei nie.

2. Ons beklemtoon weer vandag die feit dat almal se geestesdenke met mekaar verbind is. 2Aan die begin is die idee selde heeltemal welkom, want dit blyk ’n enorme gevoel van verantwoordelikheid mee te bring, en kan selfs as ’n “inbreuk op privaatheid” beskou word. 3Nogtans is dit ’n feit dat daar geen private gedagtes bestaan nie. 4Ten spyte van jou aanvanklike weerstand teen hierdie idee, sal jy uiteindelik begryp dat dit waar moet wees vir verlossing om hoegenaamd moontlik te wees. 5En verlossing moet moontlik wees, want dit is die Wil van God.

3. Die minuut of meer wat vandag se ondersoek van die geestesdenke vereis, moet met geslote oë gedoen word. 2Vandag se idee moet eers herhaal word en die geestesdenke daarna versigtig ondersoek word vir die gedagtes wat dit op daardie tydstip bevat. 3Noem die sentrale persoon of tema daarin soos jy elkeen oordink, en terwyl jy dit in jou geestesdenke vashou, sê:

              4Ek ervaar nie die gevolge van hierdie gedagte oor _______ alleen nie.

4. Die vereiste om so min as moontlik onderskeid te tref in die keuse van onderwerpe vir oefenperiodes behoort nou al vir jou redelik bekend te wees, en gaan nie meer elke dag herhaal word nie, alhoewel dit af en toe as ’n aanmaning ingesluit sal word. 2Moet egter nie vergeet dat die willekeurige keuse van onderwerpe vir alle oefenperiodes deurgaans noodsaaklik bly nie. 3Die gebrek aan rangorde in hierdie opsig sal jou uiteindelik die betekenis van ’n gebrek aan rangorde by wonders laat insien.

5. Afgesien van die toepassing van vandag se idee “na behoefte”, word ten minste drie oefenperiodes vereis, waarvan die tydsduur, indien nodig, verkort kan word. 2Moenie meer as vier probeer nie.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 19: I am not alone in experiencing the effects of my thoughts. (ACIM, W-19)

All quotes are from A Course in Miracles, Third Edition.
Copyright © 2007 by the Foundation for Inner Peace, copyright holder and publisher.
448 Ignacio Blvd., #306, Novato, CA 94949, acim.org, used with permission.

© 2026 Hemelbewus

Patternstorm Designs