1. Jy moes sekerlik gedurende ons afgelope lesse die beklemtoning opgemerk het op die verband tussen die vervulling van jou funksie en die verkryging van geluk. 2Dit is so omdat jy nie regtig die verband sien nie. 3Maar daar is meer as net ’n verband tussen hulle: hulle is dieselfde. 4Hulle vorm is verskillend, maar hulle inhoud is volkome één.

2. Die ego voer ’n voortdurende stryd met die Heilige Gees betreffende die fundamentele vraag oor wat jou funksie is. 2Net so voer hy voortdurend ’n stryd met die Heilige Gees oor wat jou geluk is. 3Dit is nie ’n wedersydse stryd nie. 4Die ego val aan en die Heilige Gees reageer nie. 5Hy weet wat jou funksie is. 6Hy weet dat dit jou geluk is.

3. Vandag sal ons probeer om verby hierdie totaal sinlose stryd te beweeg en by die waarheid oor jou funksie uit te kom. 2Ons sal nie betrokke raak by onsinnige argumente oor wat dit is nie. 3Ons sal nie hopeloos vervalle raak in die definiëring van geluk en die bepaling van die middele om dit te bereik nie. 4Ons sal nie aan die ego toegee deur te luister na sy aanval op die waarheid nie. 5Ons sal bloot bly wees dat ons kan uitvind wat die waarheid is.

4. Ons langer oefenperiodes vandag is gerig op jou aanvaarding van die feit dat daar nie net ’n wesenlike verband tussen die funksie wat God jou gegee het en jou geluk is nie, maar dat hulle in werklikheid identies is. 2God gee jou slegs geluk. 3Daarom moet die funksie wat Hy jou gegee het, geluk wees, selfs al lyk dit anders. 4Vandag se oefeninge is ’n poging om verder te gaan as hierdie verskille in voorkoms, en ’n gemeenskaplike inhoud te onderskei waar dit in waarheid bestaan.

5. Begin die tien tot vyftien minute oefenperiode deur na die volgende gedagtes te kyk:

              2God gee my net geluk.

              3Hy het my my funksie gegee.

              4Daarom moet my funksie geluk wees.

5Probeer om die logika in hierdie volgorde te sien, selfs al aanvaar jy nog nie die gevolgtrekking nie. 6Die gevolgtrekking kan alleenlik onwaar wees as die eerste twee gedagtes verkeerd is. 7Laat ons dan vir ’n rukkie, soos ons oefen, oor die uitgangspunte nadink.

6. Die eerste uitgangspunt is dat God jou slegs geluk gee. 2Dit kan natuurlik onwaar wees, maar om onwaar te wees, is dit nodig om God te definieer as iets wat Hy nie is nie. 3Liefde kan nie boosheid skenk nie, en wat nie gelukkig is nie, is boos. 4God kan nie gee wat Hy nie het nie, en Hy kan nie hê wat Hy nie is nie. 5Tensy God jou slegs geluk gee, moet Hy boos wees. 6En dit is hierdie definisie van Hom wat jy glo as jy nie die eerste uitgangspunt aanvaar nie.

7. Die tweede uitgangspunt is dat God jou jou funksie gegee het. 2Ons het gesien dat jou geestesdenke alleenlik twee gedeeltes het. 3Die een word deur die ego beheer en bestaan uit illusies. 4Die ander een is die tuiste van die Heilige Gees, waar die waarheid vir ewig vertoef. 5Daar bestaan geen ander gidse om tussen te kies nie, en geen ander uitkomste is moontlik as gevolg van jou keuse nie behalwe die vrees wat die ego altyd veroorsaak, en die liefde wat die Heilige Gees altyd aanbied om dit te vervang.

8. Dit moet dus so wees dat jou funksie daargestel is deur God via Sy Stem, of andersins opgestel is deur die ego, wat jy gemaak het om Hom te vervang. 2Watter een is waar? 3As God jou nie jou funksie gegee het nie, moet dit ’n geskenk van die ego wees. 4Het die ego werklik geskenke om te gee, aangesien hyself ’n illusie is en bloot die illusie van geskenke aanbied?

9. Dink vandag tydens die langer oefenperiodes hieroor. 2Dink ook aan die menigte van vorms wat die illusie van jou funksie in jou geestesdenke aangeneem het, en die menigte van maniere waarop jy probeer het om verlossing te vind onder die ego se leiding. 3Het jy dit gevind? 4Was jy gelukkig? 5Het hulle vir jou vrede gebring? 6Ons het vandag baie eerlikheid nodig. 7Herinner jouself goed en eerlik aan die gevolge en oorweeg ook of dit ooit redelik was om geluk te verwag van enigiets wat die ego ooit voorgestel het. 8Nogtans is die ego die enigste alternatief vir die Heilige Gees se Stem.

10. Jy sal na waansin luister of jy sal die waarheid hoor. 2Probeer om hierdie keuse te maak soos jy aan die uitgangspunte waarop ons gevolgtrekking berus, dink. 3Ons kan in hierdie gevolgtrekking deel, maar in geen ander nie. 4Want God Self deel dit met ons. 5Vandag se idee is ’n volgende groot stap om wat dieselfde is as dieselfde waar te neem, en wat verskillend is as verskillend. 6Aan die een kant staan alle illusies. 7Aan die ander kant staan alle waarheid. 8Laat ons vandag probeer insien dat slegs die waarheid waar is.

11. Tydens die korter oefenperiodes, wat baie nuttig sal wees as hulle vandag twee keer per uur gedoen word, word die volgende soort toepassing voorgestel:

              2My geluk en my funksie is één, want God het my beide gegee.

3Dit sal nie langer as ’n minuut nie, moontlik minder, duur om hierdie woorde stadig te herhaal en ’n bietjie daaroor na te dink wanneer jy hulle sê.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 66: My happiness and my function are one. (ACIM, W-66)