1. Vandag se idee is bloot ’n ander manier om te sê: “Laat ek nie in die versoeking gelei word nie.” 2Die doel van die wêreld wat jy sien, is om jou funksie van vergifnis te verberg, en aan jou ’n regverdiging te verskaf om dit te vergeet. 3Dit is die versoeking om God en Sy Seun te verlaat deur ’n fisiese voorkoms aan te neem. 4Dit is dít waarna die liggaam se oë kyk.

2. Niks wat die liggaam se oë blyk te sien, kan enigiets anders as ’n vorm van versoeking wees nie, aangesien dit juis die doel van die liggaam was. 2Tog het ons geleer dat die Heilige Gees ’n ander toepassing of gebruik het vir al die illusies wat jy gemaak het, en daarom sien Hy ’n ander doel daarin. 3Vir die Heilige Gees is die wêreld ’n plek waar jy leer om jouself te vergewe van wat jy as jou sondes beskou. 4Volgens hierdie persepsie word die fisiese voorkoms van versoeking dan die geestelike herkenning van verlossing.

3. Ter herhaling van ons laaste paar lesse: jou funksie hier is om die lig van die wêreld te wees, ’n funksie wat deur God aan jou gegee is. 2Dit is net die arrogansie van die ego wat jou dit sal laat bevraagteken, en dit is net die vrees van die ego wat jou oorhaal om jouself as onwaardig te beskou vir die taak wat God Self aan jou toegewys het. 3Die wêreld se verlossing wag op jou vergifnis, want daardeur ontsnap die Seun van God aan alle illusies, en dus aan alle versoekings. 4Die Seun van God is jy.

4. Slegs deur die funksie wat God aan jou gegee het om te vervul, sal jy gelukkig wees. 2Dit is vanweë die feit dat dit jou funksie is om gelukkig te wees deur gebruik te maak van die middel waardeur geluk onafwendbaar word. 3Daar is geen ander manier nie. 4Daarom kies jy, elke keer as jy kies om jou funksie te vervul of nie, in werklikheid of jy gelukkig wil wees of nie.

5. Laat ons dit vandag onthou. 2Laat ons ons daaraan herinner in die oggend en weer in die aand, en ook deur die hele dag. 3Berei jouself vooraf voor vir al die besluite wat jy vandag sal neem, deur te onthou dat hulle almal eintlik baie eenvoudig is. 4Elkeen sal tot geluk of ongelukkigheid lei. 5Kan so ’n eenvoudige besluit regtig moeilik wees om te neem? 6Laat die vorm van die besluit jou nie mislei nie. 7Die ingewikkeldheid van die vorm impliseer nie ingewikkeldheid van inhoud nie. 8Dit is onmoontlik dat enige besluit op aarde ’n ander inhoud kan hê as hierdie enkele eenvoudige keuse. 9Dit is die enigste keuse wat die Heilige Gees sien.10Daarom is dit die enigste keuse wat daar is.

6. Laat ons dan vandag met hierdie gedagtes oefen:

              2Laat ek nie my funksie vergeet nie.

              3Laat ek nie probeer om God se funksie met myne te vervang nie.

              4Laat ek vergewe en gelukkig wees.

5Bestee vandag ten minste een keer tien of vyftien minute daaraan om met geslote oë hieroor na te dink. 6Verwante gedagtes sal jou kom help, as jy die deurslaggewende belangrikheid van jou funksie vir jouself en die wêreld onthou.

7. Bestee ’n paar minute, tydens die herhaaldelike toepassings van vandag se idee deur die dag, daaraan om hierdie gedagtes te hersien, en dan daaroor en oor niks anders nie te dink. 2Dit sal aan die begin veral moeilik wees, aangesien jy nie bedrewe is in die dissipline wat dit van die geestesdenke vereis nie. 3Om jou te help om te konsentreer, mag dit miskien nodig wees om redelik dikwels te herhaal: “Laat ek nie my funksie vergeet nie.”

8. By die korter oefenperiodes word daar twee vorms verlang. 2Doen die oefeninge, by tye, met geslote oë terwyl jy konsentreer op die gedagtes wat jy gebruik. 3Hou jou oë die ander tye nadat jy die gedagtes hersien het, oop, en kyk dan stadig en onselektief om jou heen terwyl jy vir jouself sê:

              4Om hierdie wêreld te verlos, is my funksie.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 64: Let me not forget my function. (ACIM, W-64)