1. Hoe heilig is jy nie wat oor die mag beskik om vrede na elkeen se geestesdenke te bring nie! 2Hoe salig is jy nie wat kan leer om die middel te herken om dit deur jou te laat doen nie! 3Watter ander doel sou jy kon hê wat jou groter geluk sou kon bring?
2. Jy is inderdaad die lig van die wêreld met so ’n funksie. 2Die Seun van God reken op jou vir sy verlossing. 3Jy kan hom dit gee, want dit behoort aan jou. 4Moet geen niksbeduidende doel of betekenislose begeerte in plaas daarvan aanvaar nie, of jy sal jou funksie vergeet en die Seun van God in die hel agterlaat. 5Dit is geen ydele versoek wat van jou gevra word nie. 6Jy word gevra om verlossing te aanvaar, sodat dit joune kan wees om te gee.
3. Omdat ons die belangrikheid van hierdie funksie insien, sal ons tevrede wees om dit vandag baie dikwels te onthou. 2Ons sal die dag begin met die erkenning daarvan, en die dag afsluit met die gedagte daaraan in ons bewussyn. 3En die hele dag deur sal ons die volgende, so dikwels ons kan, herhaal:
4Die lig van die wêreld bring aan elkeen se geestesdenke vrede deur my vergifnis. 5Ek is die middel wat God aangewys het vir die verlossing van die wêreld.
4. As jy jou oë sluit, sal jy dit heelwaarskynlik makliker vind om verwante gedagtes te laat opkom tydens die minuut of meer wat jy moet bestee om dit te oordink. 2Moet egter nie vir so ’n geleentheid wag nie. 3Geen kans mag verlore gaan om vandag se idee te versterk nie. 4Onthou dat God se Seun op jou reken vir sy verlossing. 5En Wie anders as jy Self kan Sy Seun wees?
✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:
“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”
Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.
Lesson 63: The light of the world brings peace to every mind through my forgiveness. (ACIM, W-63)


