Etiket: vertroue in God

Les 71 – Slegs God se plan vir verlossing sal werk.

1. Miskien besef jy nie dat die ego ’n plan vir verlossing ontwerp het wat in stryd met God se plan is nie. 2Dit is hierdie plan waarin jy glo. 3Aangesien dit die teenoorgestelde van God se plan is, glo jy ook dat om God se plan in plaas van dié van die ego te aanvaar, beteken om verdoem te wees. 4Dit klink natuurlik absurd. 5Maar nadat ons bepaal het presies wat die ego se plan is, sal jy miskien insien dat, hoe absurd dit ook al mag wees, jy wel daarin glo.

2. Die ego se plan vir verlossing sentreer om die koestering van griewe. 2Daarvolgens sou jy verlos kon word as iemand anders maar net op ’n ander manier sou praat en handel of as sekere eksterne omstandighede en gebeurtenisse maar net sou verander. 3Sodoende word die oorsprong van verlossing voortdurend buite jouself gesien. 4Elke grief wat jy koester, is ’n verklaring en ’n bewering waarin jy glo, wat sê: “As dit anders was, sou ek verlos wees.” 5Die verandering van jou geestesdenke wat vir verlossing nodig is, word dus van almal en alles buiten jouself gevra.

3. Die rol wat aan jou eie geestesdenke in hierdie plan toegeken word, is dan bloot om te bepaal wat anders as hyself moet verander om verlos te word. 2Volgens hierdie waansinnige plan is enige vermeende bron van verlossing aanvaarbaar, op voorwaarde dat dit nie werk nie. 3Dit verseker dat die vrugtelose soektog sal voortduur, want die illusie volhard dat, alhoewel hierdie hoop te alle tye onvervuld gebly het, daar nog steeds rede vir hoop op ander plekke en in ander dinge is. 4Iemand anders sal nog beter diens kan lewer, ’n ander situasie sal tog nog sukses kan oplewer.

4. So lyk die ego se plan vir verlossing. 2Jy kan waarskynlik sien hoe dit in ooreenstemming is met die ego se basiese leerstelling: “Soek, maar moenie vind nie.” 3Want wat sou jou ‘n groter waarborg kon gee dat jy nie verlossing sal vind nie, as om al jou pogings daarop te konsentreer om te soek waar dit nie is nie?

5. God se plan vir verlossing werk eenvoudig, want deur Sy leiding te volg, soek jy vir verlossing daar waar dit is. 2Maar as jy suksesvol wil wees, soos God jou dit belowe, moet jy bereid wees om slegs dáár te soek. 3Andersins is jou doel verdeeld en sal jy probeer om twee planne vir verlossing te volg, wat in alle opsigte in lynregte teenstelling is. 4Die resultaat kan alleen verwarring, ellende en ’n diep gevoel van mislukking en wanhoop veroorsaak.

6. Hoe kan jy aan dit alles ontsnap? 2Baie eenvoudig. 3Vandag se idee is die antwoord. 4Slegs God se plan vir verlossing sal werk. 5Daar kan geen werklike konflik hieroor wees nie, want daar is geen moontlike alternatief vir God se plan wat jou sal verlos nie. 6Sy plan is die enigste met ’n resultaat wat verseker is. 7Sy plan is die enigste een wat nie anders kan as om te slaag nie.

7. Laat ons vandag oefen om hierdie sekerheid te herken. 2En laat ons ons verheug dat daar ’n antwoord bestaan op wat vir ons ’n konflik blyk te wees met geen oplossing moontlik nie. 3By God is alle dinge moontlik. 4Op grond van Sy plan wat nie kan misluk nie, moet verlossing jou deel wees.

8. Begin die twee langer oefenperiodes vir vandag deur oor vandag se idee na te dink, en te besef dat dit uit twee dele bestaan, wat elkeen ewe veel bydra tot die geheel. 2God se plan vir jou verlossing sal werk, en ander planne sal nie werk nie. 3Moenie jouself toelaat om depressief of kwaad te word vir die tweede deel nie: dit is inherent aan die eerste. 4En in die eerste deel lê jou volledige bevryding van al jou eie waansinnige pogings en dwase planne om jouself te bevry. 5Hulle het tot depressie en kwade gevoelens aanleiding gegee, maar God se plan sal slaag. 6Dit sal tot bevryding en vreugde lei.

9. Laat ons gedagtig hieraan die res van die langer oefenperiodes daaraan bestee om God te vra om Sy plan aan ons te openbaar. 2Vra Hom baie spesifiek:

            3Wat wil U hê moet ek doen ?

              4Waarheen wil U hê moet ek gaan?

            5Wat wil U hê moet ek sê, en vir wie?

6Gee Hom volle beheer oor die res van die oefenperiode, en laat Hy jou vertel wat deur jou gedoen moet word in Sy plan vir jou verlossing. 7Tot dieselfde mate waarin jy gewillig is om Sy Stem te hoor, sal Hy jou antwoord. 8Weier om nie te hoor nie. 9Die blote feit dat jy die oefening doen, bewys dat jy ’n mate van gewilligheid het om te luister. 10Dit is genoeg om op God se antwoord aanspraak te maak.

10. Sê dikwels vir jouself tydens die korter oefenperiodes dat God se plan vir verlossing, en slegs Syne alleen, sal werk. 2Wees vandag op jou hoede vir alle versoekings om griewe te koester, en reageer daarop met hierdie vorm van vandag se idee:

3Om aan griewe vas te hou, is die teenoorgestelde van God se plan vir verlossing. 4En slegs Sy plan sal werk.

5Probeer om vandag se idee ongeveer ses of sewe keer per uur te onthou. 6Daar kan geen beter manier wees om ’n halwe minuut of minder aan te bestee, as om die Bron van jou verlossing te onthou en Dit te sien waar Dit is nie.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 71: Only God’s plan for salvation will work. (ACIM, W-71)

Les 47 – God is die krag waarop ek vertrou.

1. As jy op jou eie krag vertrou, het jy genoeg rede om onrustig, angstig en bang te wees. 2Wat kan jy voorspel of beheer? 3Wat is daar in jou waarop gereken kan word? 4Wat kan jou die vermoë verskaf om van alle fasette van enige probleem bewus te wees, en dit op sodanige wyse op te los dat daar slegs goed van kan kom? 5Wat is daar in jou wat jou die regte oplossing laat insien, en jou die waarborg gee dat dit bereik sal word?

2. Uit jouself kan jy niks van hierdie dinge doen nie. 2Om te glo dat jy kan, beteken om jou vertroue te plaas waar daar geen gronde vir vertroue is nie, en om vrees, angs, depressie, woede en verdriet te regverdig. 3Wie kan sy vertroue in swakheid stel en veilig voel? 4Maar wie kan sy vertroue in krag stel en swak voel?

3. God is onder alle omstandighede jou veiligheid. 2Sy Stem praat namens Hom in alle situasies en in elke aspek van alle situasies, en sê presies vir jou wat jou te doen staan om ’n beroep te doen op Sy krag en Sy beskerming. 3Daar is geen uitsonderings nie, want God ken geen uitsonderings nie. 4En die Stem Wat namens Hom praat, dink soos Hy dink.

4. Vandag sal ons probeer om by jou eie swakheid verby te reik na die Bron van werklike krag. 2Vier oefenperiodes van vyf minute elk is vandag nodig, en langer en meer gereelde tye word sterk aanbeveel. 3Sluit jou oë en begin, soos gewoonlik, met ’n herhaling van die idee vir die dag. 4Bestee dan ’n minuut of twee om na situasies in jou lewe te soek wat jy met vrees belaai het, en laat vaar elkeen deur vir jouself te sê:

              5God is die Krag waarop ek vertrou.

5. Probeer nou om by alle besorgdhede wat met jou eie gevoel van ontoereikendheid verband hou, verby te glip. 2Dit is duidelik dat elke situasie wat jou besorgd maak, gepaard gaan met gevoelens van ontoereikendheid, want anders sou jy geglo het dat jy die situasie suksesvol kan hanteer. 3Jy sal nie selfvertroue kry deur bloot op jouself te vertrou nie. 4Maar die krag van God in jou laat alles altyd suksesvol verloop.

6. Die erkenning van jou eie swakheid is ’n noodsaaklike stap om jou foute te herstel, maar dit is nouliks voldoende om jou die selfvertroue te gee wat jy nodig het, en waarop jy geregtig is. 2Jy moet ook daarvan bewus word dat vertroue in jou werklike krag ten volle geregverdig is in alle opsigte en in alle omstandighede.

7. Probeer tydens die laaste fase van die oefenperiode om diep in jou geestesdenke ’n plek van ware veiligheid te bereik. 2Jy sal weet dat jy dit bereik het as jy ’n gevoel van diepe vrede, hoe kortstondig ook al, ervaar. 3Laat los alle onbenullighede wat aan die oppervlakte van jou geestesdenke borrel en kook, en reik in die diepte daaronder na die Koninkryk van die Hemele. 4Daar is ’n plek in jou waar daar volmaakte vrede heers. 5Daar is ’n plek in jou waar niks onmoontlik is nie. 6Daar is ’n plek in jou waar die krag van God vir ewig vertoef.

8. Herhaal die idee dikwels gedurende die dag. 2Gebruik dit as jou antwoord op enige versteuring. 3Onthou dat vrede jou reg is, want jy vestig jou vertroue op die krag van God.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 47: God is the strength in which I trust. (ACIM, W-47)

All quotes are from A Course in Miracles, Third Edition.
Copyright © 2007 by the Foundation for Inner Peace, copyright holder and publisher.
448 Ignacio Blvd., #306, Novato, CA 94949, acim.org, used with permission.

© 2026 Hemelbewus

Patternstorm Designs