Etiket: Afrikaans meditasie

Les 45 – God is die Geestesdenke waarmee ek dink.

1. Vandag se idee bevat die sleutel tot wat jou werklike gedagtes is. 2Hulle is nie wat jy dink jy dink nie, net soos wat jy dink jy sien, geen verband hou met visie op enige wyse nie. 3Daar is geen verband tussen wat werklik is en wat jy dink werklik is nie. 4Niks wat jy dink jou regte gedagtes is, kom enigsins met jou regte gedagtes ooreen nie. 5Niks wat jy dink jy sien, toon enige ooreenkoms met wat visie jou sal wys nie.

2. Jy dink met die Geestesdenke van God. 2Sodoende deel jy jou gedagtes met Hom, soos Hy Syne met jou deel. 3Hulle is dieselfde gedagtes, want hulle word deur dieselfde Geestesdenke gedink. 4Om te deel, beteken om eenders of één te maak. 5Ook verlaat die gedagtes waarmee jy met die Geestesdenke van God dink nie jou geestesdenke nie, want gedagtes verlaat nie hulle bron nie. 6Daarom is jou gedagtes in die Geestesdenke van God, nes jy is. 7Hulle is ook in jou geestesdenke, waar Hy is. 8Soos jy deel van Sy Geestesdenke is, is jou gedagtes deel van Sy Geestesdenke.

3. Waar is jou werklike gedagtes dan? 2Vandag gaan ons probeer om hulle te bereik. 3Ons sal hulle in jou geestesdenke moet soek, want dit is waar hulle is. 4Hulle moet steeds daar wees, want hulle kon nie hulle bron verlaat het nie. 5Wat deur die Geestesdenke van God gedink word, is ewig, omdat dit ’n deel van die skepping is.

4. Ons drie oefenperiodes van vyf minute elk vir vandag neem dieselfde vorm aan as wat ons gebruik het om gister se idee toe te pas. 2Ons sal probeer om die onwerklike agter te laat en die werklike te soek. 3Ons sal die wêreld afwys ten gunste van die waarheid. 4Ons sal ons nie deur die gedagtes van die wêreld laat terughou nie. 5Ons sal ons nie deur die oortuigings van die wêreld laat vertel dat wat God wil hê ons moet doen, onmoontlik is nie. 6Ons sal, inteendeel, probeer insien dat alleenlik wat God wil hê ons moet doen, moontlik is.

5. Ons sal ook probeer begryp dat ons net dít wil doen wat God vir ons wil. 2En ons sal ook probeer om te onthou dat ons nie kan misluk om te doen wat Hy wil hê ons moet doen nie. 3Ons het alle rede om vol vertroue te wees dat ons vandag sal slaag. 4Dit is die Wil van God.

6. Begin vandag se oefeninge deur die idee vir jouself te herhaal, en sluit jou oë daartydens. 2Bestee dan ’n redelike kort tydjie om ’n paar verwante gedagtes van jou eie te dink, terwyl jy die idee in gedagte hou. 3Nadat jy ongeveer vier of vyf gedagtes van jou eie tot die idee gevoeg het, herhaal dit weereens en sê saggies vir jouself:

              4My werklike gedagtes is in my geestesdenke. 5Ek wil hulle graag vind.

6Probeer dan om by al die onwerklike gedagtes verby te gaan wat die waarheid in jou geestesdenke bedek, en die ewige te bereik.

7. Onder al die sinlose gedagtes en dwase idees waarmee jy jou geestesdenke volgestop het, is die gedagtes wat jy in die begin met God gedink het. 2Hulle is nou, volkome onveranderd, daar in jou geestesdenke. 3Hulle sal altyd in jou geestesdenke wees, presies soos hulle altyd was. 4Alles wat jy sedertdien gedink het, sal verander, maar die Grondslag waarop dit berus, is volkome onveranderlik.

8. Dit is op hierdie Grondslag dat vandag se oefeninge gerig word. 2Hier is jou geestesdenke verenig met die Geestesdenke van God. 3Hier is jou gedagtes één met Syne. 4Vir hierdie soort oefening is slegs een ding nodig: benader dit soos jy ’n altaar sou nader wat in die Hemel aan God die Vader en aan God die Seun toegewy is. 5Want sodanig is die plek wat jy probeer bereik. 6Jy sal heelwaarskynlik nog nie in staat wees om te besef hoe hoog jy probeer gaan nie. 7Maar selfs met die klein bietjie insig wat jy reeds verwerf het, behoort jy in staat te wees om jouself daaraan te herinner dat dit nie ’n beuselagtige speletjie is nie, maar ’n oefening in heiligheid en ’n poging om die Koninkryk van die Hemel te bereik.

9. Probeer tydens die korter oefenperiodes van vandag onthou hoe belangrik dit vir jou is om die heiligheid te begryp van die geestesdenke wat met God dink. 2Neem ’n minuut of twee om, wanneer jy die idee deur die dag herhaal, jou geestesdenke se heiligheid te waardeer. 3Staan opsy, hoe kort ook al, van alle gedagtes wat Hom Wie se gasheer jy is, onwaardig is. 4En bedank Hom vir die gedagtes wat Hy met jou dink.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 45: God is the Mind with which I think. (ACIM, W-45)

Les 43 – God is my Bron. Los van Hom kan ek nie sien nie.

1. Persepsie is nie ’n eienskap van God nie. 2Aan Hom behoort die koninkryk van kennis. 3Maar Hy het die Heilige Gees geskep as die Middelaar tussen persepsie en kennis. 4Sonder hierdie skakel met God sou persepsie vir ewig die plek van kennis in jou geestesdenke ingeneem het. 5Met hierdie skakel met God sal persepsie so verander en gesuiwer word dat dit na kennis lei. 6Dit is sy funksie soos die Heilige Gees dit sien. 7Daarom is dit in waarheid sy funksie.

2. In God kan jy nie sien nie. 2Persepsie het nie ’n funksie in God nie en bestaan nie. 3Maar in verlossing, wat die ongedaanmaking behels van wat nooit was nie, het persepsie ’n grootse doel. 4Deur die Seun van God vir ’n onheilige doel gemaak, moet dit die middel word waarmee hy weer van sy heiligheid bewus word. 5Persepsie het geen betekenis nie. 6Nogtans gee die Heilige Gees ’n betekenis daaraan wat baie na aan die betekenis van God Self is. 7Geneesde persepsie word die middel waardeur die Seun van God sy broer en dus homself vergewe.

3. Los van God kan jy nie sien nie, want jy kan nie los van God bestaan nie. 2Wat jy ook al doen, doen jy in Hom, want wat jy ook al dink, dink jy met Sy Geestesdenke. 3As visie werklik is, en dit is slegs werklik in die mate waarin dit die Heilige Gees se doel deel, kan jy nie apart van God sien nie.

4. Drie oefenperiodes van vyf minute elk word vandag benodig, een so vroeg moontlik en die ander so laat moontlik in die dag. 2Die derde een kan onderneem word op die gunstigste en geskikste tyd binne jou omstandighede en gereedheid. 3Herhaal die idee vir die dag aan jouself met oop oë aan die begin van hierdie oefenperiodes. 4Kyk dan vir ’n kort rukkie om jou heen terwyl jy die idee spesifiek op wat jy sien, toepas. 5Vier of vyf onderwerpe vir hierdie fase van die oefenperiode is voldoende. 6Jy kan byvoorbeeld sê:

              7God is my Bron. 8Ek kan nie hierdie lessenaar los van hom sien nie.

              9God is my Bron. 10Ek kan nie daardie skildery los van hom sien nie.

5. Alhoewel hierdie deel van die oefening relatief kort moet wees, moet jy seker maak dat jy die onderwerpe vir hierdie oefenfase willekeurig kies, sonder dat jy self besluit wat jy in- of uitsluit. 2Vir die tweede en langer fase moet jy jou oë sluit, vandag se idee weer herhaal en dan alle relevante gedagtes wat by jou opkom, op jou eie persoonlike manier by die idee voeg. 3Gedagtes soos:

            4Ek sien deur oë van vergifnis.

              5Ek sien die wêreld as geseënd.

              6Die wêreld kan my myself laat sien.

              7Ek sien my eie gedagtes, wat soos die Gedagtes van God Self is.

8Enige gedagte wat min of meer aan vandag se idee verwant is, is geskik. 9Die gedagtes hoef nie ’n duidelike verwantskap met die idee te hê nie, maar hulle moet nie daarmee in stryd wees nie.

6. As jy vind dat jou geestesdenke afdwaal, as jy begin bewus word van gedagtes wat duidelik nie met vandag se idee verband hou nie, of as dit voorkom of jy aan niks kan dink nie, maak dan jou oë oop, herhaal die eerste fase van die oefenperiode en probeer dan weer die tweede fase. 2Moenie ’n lang uitgerekte periode waartydens jy behep raak met onverwante gedagtes, toelaat nie. 3Keer so dikwels as wat nodig is na die eerste fase van die oefeninge terug om dit te voorkom.

7. By die toepassing van vandag se idee in die korter oefenperiodes, kan die vorm varieer volgens die omstandighede en situasies waarin jy jouself gedurende die dag bevind. 2As jy byvoorbeeld saam met iemand anders is, probeer onthou om saggies vir hom te sê:

              3God is my Bron. 4Los van Hom kan ek jou nie sien nie.

5Hierdie vorm is net so van toepassing op vreemdelinge as wat dit is op diegene wat jy dink nader aan jou is. 6Probeer trouens om hoegenaamd geen onderskeidings van hierdie aard te maak nie.

8. Vandag se idee behoort ook die hele dag deur toegepas te word op verskillende situasies en gebeure wat mag voorkom, veral op dié wat skyn om jou op een of ander manier te ontstel. 2Pas die idee vir hierdie doel in hierdie vorm toe:

            3God is my Bron. 4Los van Hom kan ek dit nie sien nie.

9. As geen spesifieke onderwerp op ’n gegewe tyd by jou opkom nie, herhaal bloot die idee in sy oorspronklike vorm. 2Probeer vandag om nie enige lang tye te laat verby gaan sonder om aan die idee van die dag en dus aan jou funksie te dink nie.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 43: God is my Source. I cannot see apart from Him. (ACIM, W-43)

Les 36 – My heiligheid omvou alles wat ek sien.

1. Vandag se idee brei gister se idee uit vanaf die waarnemer na dit wat waargeneem word. 2Jy is heilig, want jou geestesdenke is deel van God se Geestesdenke. 3En omdat jy heilig is, moet jou sig ook heilig wees. 4“Sondeloos” beteken sonder sonde. 5Jy kan nie ’n bietjie sonder sonde wees nie. 6Jy is sondeloos of nie sondeloos nie. 7As jou geestesdenke deel van God se Geestesdenke is, moet jy sondeloos wees, of anders sou ’n deel van Sy Geestesdenke sondig moes wees. 8Jou sig hou verband met Sy Heiligheid, nie met jou ego nie, en daarom ook nie met jou liggaam nie

2. Vier oefenperiodes van drie tot vyf minute elk is vandag nodig. 2Probeer om hulle redelik eweredig te versprei, en doen die korter toepassings dikwels om jou beskerming dwarsdeur die dag te verseker. 3Die langer oefenperiodes moet soos volg gedoen word:

3. Sluit eers jou oë en herhaal vandag se idee ’n paar maal stadig. 2Maak dan jou oë oop en kyk stadig om jou heen deur die idee spesifiek op wat jy in jou ondersoek terloops opmerk, toe te pas. 3Sê byvoorbeeld:

              4My heiligheid omvou daardie mat.

              5My heiligheid omvou daardie muur.

              6My heiligheid omvou hierdie vingers.

              7My heiligheid omvou daardie stoel.

              8My heiligheid omvou daardie liggaam.

              9My heiligheid omvou hierdie pen.

10Sluit jou oë verskeie kere tydens oefenperiodes en herhaal die idee vir jouself. 11Maak dan jou oë oop en gaan soos voorheen voort.

4. Wat die korter oefenperiodes betref, sluit jy jou oë en herhaal die idee; kyk om jou heen soos jy dit weer herhaal; en eindig met nog ’n herhaling met geslote oë. 2Alle toepassings moet natuurlik heel stadig gedoen word, met so min inspanning of gejaagdheid as moontlik.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 36: My holiness envelops everything I see. (ACIM, W-36)

All quotes are from A Course in Miracles, Third Edition.
Copyright © 2007 by the Foundation for Inner Peace, copyright holder and publisher.
448 Ignacio Blvd., #306, Novato, CA 94949, acim.org, used with permission.

© 2026 Hemelbewus

Patternstorm Designs