Etiket: innerlike visie

Les 44 – God is die lig waarin ek sien.

1. Vandag gaan ons voort met gister se idee deur ’n ander dimensie daaraan toe te voeg. 2Jy kan nie in die duisternis sien nie, en jy kan nie lig maak nie. 3Jy kan duisternis maak en dan dink dat jy daarin sien, maar lig weerspieël lewe en is dus ’n aspek van die skepping. 4Skepping en duisternis kan nie saambestaan nie, maar lig en lewe moet saamgaan, omdat hulle slegs verskillende aspekte van die skepping is.

2. Om te kan sien, moet jy besef dat lig in jou is, nie buite nie. 2Jy sien nie buite jouself nie, en ook is die toerusting om buite jou te sien nie daar nie. 3’n Noodsaaklike deel van hierdie toerusting is die lig wat sien moontlik maak. 4Dit is altyd met jou en by jou en maak visie onder alle omstandighede moontlik.

3. Vandag gaan ons probeer om daardie lig te bereik. 2Vir hierdie doel gaan ons ’n soort oefening gebruik wat al voorheen aangeraai is en wat ons steeds meer gaan aanwend. 3Dit is ’n besonder moeilike vorm vir die ongedissiplineerde geestesdenke, en verteenwoordig ’n hoofdoel van die opleiding van die geestesdenke. 4Dit vereis presies wat die ongeoefende geestesdenke mis. 5Tog moet hierdie oefening uitgevoer word as jy wil sien.

4. Neem vandag ten minste drie oefenperiodes van elk drie tot vyf minute lank. 2’n Langer tyd is aan te beveel, maar slegs as jy vind dat die tyd sonder enige spanning verbyglip. 3Die oefenvorm wat ons vandag gebruik is die natuurlikste en maklikste een ter wêreld vir die geoefende geestesdenke, maar lyk na die onnatuurlikste en moeilikste vir die ongeoefende geestesdenke.

5. Jou geestesdenke is nie meer heeltemal ongeoefen nie. 2Jy is sekerlik gereed om die oefenvorm wat ons vandag gaan gebruik, te leer, maar jy mag vind dat jy sterk weerstand ondervind. 3Die rede hiervoor is baie eenvoudig. 4Wanneer jy op hierdie wyse oefen, laat jy alles wat jy nou glo, en al die gedagtes wat jy tot nog toe opgemaak het, agter. 5In der waarheid is dit ’n verlossing uit die hel. 6Tog is dit, gesien deur die oë van die ego, ’n verlies aan identiteit en ’n afdaling hel toe.

6. As jy net so ’n bietjie afstand kan hou van die ego, sal jy geen probleme ondervind om te besef dat sy teenstand en vrese betekenisloos is nie. 2Miskien kan dit jou help om van tyd tot tyd jouself daaraan te herinner dat om die lig te bereik, beteken om uit die duisternis te ontsnap, wat jy ook al andersins mag glo. 3God is die lig waarin jy sien. 4Jy probeer om Hom te bereik.

7. Begin die oefenperiode deur vandag se idee met oop oë te herhaal, en hulle dan stadig toe te maak terwyl die idee nog ’n paar keer herhaal word. 2Probeer dan om as’t ware in jou geestesdenke in te sink, en elke soort steuring en inmenging te laat vaar deur rustig daar verby al dieper in te sink. 3Jou geestesdenke kan nie hierin gekeer word nie, tensy jy dit so verkies. 4Dit volg slegs sy natuurlike koers. 5Probeer om jou verbygaande gedagtes sonder betrokkenheid te observeer, en glip rustig by hulle verby.

8. Alhoewel geen spesifieke benadering vir hierdie soort oefening aanbeveel word nie, is dit nodig dat jy ’n gevoel kry van die belangrikheid van wat jy doen, die onskatbare waarde daarvan vir jou, en ’n bewustheid dat jy iets baie heiligs beproef. 2Verlossing is jou gelukkigste volbrenging. 3Dit is ook al een wat enige betekenis het, want dit is die enigste een wat enige werklike nut hoegenaamd vir jou het.

9. As weerstand van enige aard ontstaan, rus dan lank genoeg sodat jy vandag se idee kan herhaal, terwyl jy jou oë geslote hou, tensy jy van vrees bewus is. 2In laasgenoemde geval sal jy dit heelwaarskynlik meer gerusstellend vind om jou oë vir ’n kort tydjie oop te hou. 3Probeer egter om so gou moontlik weer die oefeninge te hervat met geslote oë.

10. As jy die oefeninge korrek doen, moet jy ’n mate van ontspanning ervaar en selfs ’n gevoel kry dat jy die lig nader, indien nie binnegaan nie. 2Probeer om aan lig te dink, vormloos en grensloos, soos jy by die gedagtes van hierdie wêreld verby beweeg. 3En moenie vergeet dat hulle jou nie aan die wêreld kan vashou nie, tensy jy hulle die mag gee om dit te doen.

11. Herhaal die idee dikwels deur die dag met oop of geslote oë, soos dit vir jou op daardie oomblik die beste lyk. 2Maar moenie dit vergeet nie. 3Wees bowenal vasbeslote om nie vandag te vergeet nie.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 44: God is the light in which I see. (ACIM, W-44)

Les 27 – Meer as enigiets anders wil ek tog net kan sien.

1. Vandag se idee druk iets sterkers as blote vasberadenheid uit. 2Dit gee aan visie voorrang bo jou ander begeertes. 3Jy mag huiwerig voel om die idee te gebruik, bloot omdat jy nie seker is dat jy dit werklik bedoel nie. 4Dit maak nie saak nie. 5Die doel met vandag se oefeninge is om die tydstip wanneer die idee volkome waar sal wees, ’n bietjie nader te bring.

2. Die versoeking mag nogal groot wees om te glo dat ’n soort opoffering van jou gevra word wanneer jy sê dat jy meer as enigiets anders tog net wil sien. 2As jy ongemaklik raak oor die gebrek aan voorbehoud daarin, voeg dan by:

              3Visie kos niemand iets nie.

4As die vrees vir verlies nie wil wyk nie, voeg verder by:

              5Dit kan slegs ’n seën wees.

3. Vandag se idee benodig baie herhalings vir maksimale voordeel. 2Dit behoort ten minste elke halfuur gebruik te word, en meer indien moontlik. 3Jy kan elke 15 of 20 minute probeer. 4Dit word aanbeveel dat jy, wanneer jy wakker word, of kort daarna, sal bepaal hoeveel tyd jy het om die idee toe te pas en probeer om deur die hele dag daarby te bly. 5Dit sal nie moeilik wees om dit te doen nie, selfs tydens gesprekke of as jy besig is. 6Jy kan altyd ’n kort sinnetjie vir jouself herhaal sonder om enigiets te versteur.

4. Die regte vraag is: hoe dikwels sal jy onthou? 2Hoe graag wil jy hê dat vandag se idee waar moet wees? 3Beantwoord een van hierdie vrae en jy het die ander ook beantwoord. 4Jy sal heelwaarskynlik verskeie toepassings mis, en miskien selfs taamlik baie. 5Moet jou nie hierdeur laat ontstel nie, maar probeer wel om daarna by jou program te hou. 6As jy selfs net een keer gedurende die dag voel dat jy volkome opreg was toe jy vandag se idee herhaal het, kan jy seker wees dat jy jouself baie jare se moeite gespaar het.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 27: Above all else I want to see. (ACIM, W-27)

All quotes are from A Course in Miracles, Third Edition.
Copyright © 2007 by the Foundation for Inner Peace, copyright holder and publisher.
448 Ignacio Blvd., #306, Novato, CA 94949, acim.org, used with permission.

© 2026 Hemelbewus

Patternstorm Designs