Etiket: OnthouWieJyIs

Les 95 – Ek is één Self, verenig met my Skepper.

1. Vandag se idee beskryf jou noukeurig soos God jou geskep het. 2Jy is één in jouself, en één met Hom. 3Aan jou behoort die eenheid van die hele skepping. 4Jou volmaakte eenheid maak veranderinge in jou onmoontlik. 5Jy aanvaar dit nie, en slaag nie daarin om te begryp dat dit so moet wees nie, net omdat jy glo dat jy jouself reeds verander het.

2. Jy sien jouself as ’n belaglike parodie op God se skepping: swak, boosaardig, lelik en sondig, ellendig en deur pyn geteister. 2Dit is jou weergawe van jouself, ’n self wat verdeel is in dele wat mekaar beveg, afgeskei van God, en ’n self wat losweg bymekaar gehou word deur sy wisselvallige en wispelturige maker, wat jy aanbid. 3Hy hoor nie jou gebede nie, want hy is doof. 4Hy sien nie die éénheid in jou nie, want hy is blind. 5Hy begryp nie dat jy die Seun van God is nie, want hy is dwaas en begryp niks nie.

3. Ons sal vandag probeer om slegs bewus te wees van wat kan hoor en wat kan sien, en wat volkome sin maak. 2Ons sal weer ons oefeninge daarop rig om jou een Self te bereik wat met Sy Skepper verenig is. 3Ons probeer weer vandag geduldig en hoopvol.

4. Die gebruik van die eerste vyf minute van elke uur wat jy wakker is om die idee van die dag te oefen, het besondere voordele vir die leerstadium waarin jy tans verkeer. 2Dit is op hierdie stadium moeilik om nie jou geestesdenke te laat afdwaal wanneer die langer oefeninge gedoen word nie. 3Jy het dit sekerlik al teen dié tyd besef. 4Jy het die mate waarin jy aan verstandelike dissipline ontbreek gesien, en ook gesien hoe dringend jou geestesdenke opleiding benodig. 5Dit is nodig dat jy hiervan bewus moet wees, want dit belemmer inderdaad jou vordering.

5. Herhaaldelike, maar korter oefenperiodes hou op hierdie stadium ander voordele vir jou in. 2Behalwe dat jy insien dat jy moeite het om jou aandag vol te hou, moes jy ook opgemerk het dat, tensy jy dikwels aan jou doel herinner word, jy neig om dit vir lang tye te vergeet. 3Jy slaag dikwels nie daarin om die kort toepassings van die dag se idee te onthou nie, en jy het nog nie die gewoonte aangeleer om die idee as ’n outomatiese reaksie op versoekings te gebruik nie.

6. Struktuur is dus op hierdie stadium vir jou nodig, en wel so beplan dat jy herhaaldelik aan jou doel, en jou gereelde pogings om dit te bereik, herinner sal word. 2Reëlmatigheid, in terme van tyd, is nie die ideale voorskrif vir die voordeligste vorm van oefening vir verlossing nie. 3Dit is egter voordelig vir diegene wie se motivering wisselvallig is, en wat ’n sterk weerstand teen leer bly voel.

7. Ons sal dus vir ’n ruk by die vyf-minute-per-uur oefenperiodes hou, en ons moedig jou aan om so min as moontlik oor te slaan. 2Die gebruik van die eerste vyf minute van die uur sal veral nuttig wees, aangesien dit vaster struktuur voorskryf. 3Moet egter nie die kere dat jy versuim as ’n verskoning gebruik om nie, sodra jy kan, na die tydskema terug te keer nie. 4Jy mag wel die versoeking ondervind om die dag as verlore te beskou omdat jy misluk het om te doen wat gevra was. 5Dit moet egter bloot erken word vir wat dit is: ’n weiering om jou fout te laat korrigeer, en onwilligheid om weer te probeer.

8. Die Heilige Gees word nie in Sy onderrig deur jou foute vertraag nie. 2Hy kan slegs teruggehou word deur jou onwilligheid om hulle te laat vaar. 3Laat ons dus vasbeslote wees om, veral vir die komende week, gewillig te wees om onsself te vergewe vir ons gebrek aan vlytigheid en ons versuim om die instruksies te volg om die dag se idee toe te pas. 4Hierdie verdraagsaamheid teenoor swakheid sal ons in staat stel om daar verby te kyk, eerder as om daaraan mag te gee om ons leerproses te vertraag. 5As ons dit mag gee om dit te doen, beskou ons dit as krag, en verwar ons krag met swakheid.

9. As jy misluk om te voldoen aan die vereistes van hierdie kursus, het jy bloot ’n fout begaan. 2Dit verlang ’n korreksie, en niks meer nie. 3Om ’n fout toe te laat om voort te gaan, beteken bykomende foute, gebaseer op die eerste en ’n versterking daarvan. 4Dit is hierdie proses wat laat vaar moet word, want dit is maar net ’n ander manier waarop jy illusies teen die waarheid wil beskerm.

10. Laat al hierdie foute vaar deur hulle te sien vir wat hulle is. 2Hulle is pogings om jou onbewus te hou van die besef dat jy één Self is, verenig met jou Skepper, één met elke aspek van die skepping, en grensloos in mag en vrede. 3Dit is die waarheid en niks anders is waar nie. 4Ons sal vandag hierdie waarheid weer bevestig, en probeer om die plek in jou te bereik waar daar geen twyfel is dat alleenlik dit waar is nie.

11. Begin vandag se oefenperiodes met hierdie versekering, aangebied aan jou geestesdenke met al die sekerheid wat jy kan gee:

2Ek is één Self, verenig met my Skepper, één met elke aspek van die

 skepping, en grensloos in krag en vrede.

3Sluit dan jou oë en sê weer vir jouself, stadig en nadenkend, terwyl jy probeer om die betekenis van die woorde toe te laat om jou geestesdenke in te sink, en vals idees te vervang:

4Ek is één Self.

5Herhaal dit verskeie kere, en probeer dan die betekenis wat die woorde oordra, te voel.

12. Jy is één Self, verenig en veilig in lig en vreugde en vrede. 2Jy is God se Seun, één Self, met één Skepper en één doel: om bewustheid van hierdie éénheid na alle geestesdenke te bring, sodat ware skepping die alomteenwoordigheid en die eenheid van God kan uitbrei. 3Jy is één Self, volledig en genees en heel, met die mag om die sluier van duisternis van die wêreld op te lig, en die lig in jou deur te laat om die wêreld die waarheid oor jou te leer.

13. Jy is één Self, in volmaakte harmonie met alles wat is, en alles wat sal wees. 2Jy is één Self, die heilige Seun van God, verenig met jou broers in daardie Self, verenig met jou Vader in Sy Wil. 3Voel hierdie één Self in jou, en laat Hy al jou illusies en twyfel wegskyn. 4Dit is jou Self, die Seun van God Self, sondeloos soos Sy Skepper, met Sy krag in jou en Sy Liefde vir ewig joune. 5Jy is één Self, en dit is vir jou gegee om hierdie Self binne jou te voel, en om al jou illusies te verdryf uit die enkele Geestesdenke wat hierdie Self is, die heilige waarheid in jou.

14. Moenie vandag vergeet nie. 2Ons het jou hulp nodig, jou klein aandeel om geluk te bring aan die hele wêreld. 3En die Hemel hou jou met vertroue dop dat jy dit vandag sal probeer. 4Deel dan in die sekerheid, want dit is joune. 5Wees wakker. 6Moenie vandag vergeet nie. 7Moenie jou doel vergeet nie, onthou dit die hele dag deur. 8Herhaal vandag se idee so dikwels as moontlik, en weet dat elke keer as jy dit doen, hoor iemand die stem van hoop, die roering van die waarheid in sy geestesdenke, die sagte ritseling van die vlerke van vrede.

15. Jou eie erkenning dat jy één Self is, verenig met jou Vader, is ’n beroep op die hele wêreld om één met jou te wees. 2Maak seker dat jy aan elkeen wat jy vandag ontmoet, die belofte van vandag se idee gee en dit vir hom sê:

3Jy is één Self met my, verenig met ons Skepper in hierdie Self. 4Ek eer jou om Wat ek is, en om Wat Hy is, Wat ons beide liefhet as Één.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 95: I am one Self, united with my Creator. (ACIM, W-95)

Les 94 – Ek is soos God my geskep het.

1. Vandag gaan ons verder met die een idee wat volkome verlossing bring, die een verklaring wat alle vorms van versoeking magteloos laat; die een gedagte wat die ego stil en heeltemal ongedaan maak. 2Jy is soos God jou geskep het. 3Die geluide van hierdie wêreld word stil, die beelde van hierdie wêreld verdwyn, en al die gedagtes wat hierdie wêreld ooit bevat het, word vir ewig weggevee deur hierdie een idee. 4Hier is verlossing volbring. 5Hier is geestesgesondheid herstel.

2. Ware lig is krag, en krag is sondeloosheid. 2As jy so bly soos God jou geskep het, moet jy sterk wees en moet die lig in jou wees. 3Hy Wat jou sondeloosheid verseker het, moet ook die waarborg vir krag en lig wees. 4Jy is soos God jou geskep het. 5Die duisternis kan nie die glorie van God se Seun verberg nie. 6Jy staan in die lig, sterk in die sondeloosheid waarin jy geskep was, en waarin jy sal bly vir alle ewigheid.

3. Vandag sal ons weereens die eerste vyf minute van elke uur wat jy wakker is, bestee om die waarheid in jou te probeer voel. 2Begin hierdie periodes van ondersoek met hierdie woorde:

 3Ek is soos God my geskep het.

 4Ek is vir ewig Sy Seun.

5Probeer nou om die Seun van God in jou te bereik. 6Dit is die Self wat nooit gesondig het, of nooit ’n beeld gemaak het om die werklikheid te verplaas nie. 7Dit is die Self wat nooit Sy tuiste in God verlaat het om onseker in die wêreld te leef nie. 8Dit is die Self wat geen vrees ken, of wat Hom verlies of lyding of dood kan voorstel nie.

4. Niks word van jou verlang om hierdie doel te bereik nie, behalwe om alle afgode en selfbeelde opsy te sit; om by die lys van eienskappe, beide goed en sleg, wat jy aan jouself toegeskryf het, verby te gaan; en in stille verwagting die waarheid af te wag. 2God Self het belowe dat dit aan almal wat daarom vra, geopenbaar sal word. 3Jy vra nou. 4Jy kan nie faal nie, want Hy kan nie faal nie.

5. As jy nie aan die vereiste oefening elke eerste vyf minute van elke uur kan voldoen nie, herinner jouself dan ten minste elke uur:

 2Ek is soos God my geskep het.

3Ek is vir ewig Sy Seun.

4Vertel jouself vandag herhaaldelik dat jy is soos God jou geskep het. 5En vergeet nie om op enigeen wat jou blyk te irriteer, met hierdie woorde te reageer nie:

  6Jy is soos God jou geskep het.

  7Jy is vir ewig Sy Seun.

8Wend alle moontlike pogings aan om vandag die uurlikse oefeninge te doen. 9Elkeen wat jy doen, sal ’n reuse stap op pad na jou verlossing wees, en ’n mylpaal in die denksisteem wat hierdie kursus uiteensit.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 94: I am as God created me. (ACIM, W-94)

Les 93 – Lig en vreugde en vrede woon in my.

1. Jy dink dat jy die tuiste van boosheid, duisternis en sonde is. 2Jy dink dat, as iemand die waarheid oor jou sou kon sien, hy afgestoot sou voel en van jou sou terugdeins, soos van ’n giftige slang. 3Jy dink dat, as die waarheid oor jou aan jou onthul sou wees, jy met soveel afgryse vervul sou word dat jy halsoorkop die hand aan jou eie lewe sou slaan, omdat om voort te lewe nadat jy dit gesien het, onmoontlik sou wees.

2. Hierdie oortuigings is so stewig vasgelê dat dit moeilik is om jou te help insien dat hulle op niks gebaseer is nie. 2Dat jy foute gemaak het, is duidelik. 3Dat jy verlossing op eienaardige maniere gesoek het, en dat jy mislei en misleidend was, bang vir dwase fantasieë en wilde drome, en dat jy neergebuig het voor afgode wat uit stof gemaak was – dit is alles waar, maar slegs op grond van wat jy nou glo.

3. Vandag gaan ons dit bevraagteken, nie vanuit die gesigspunt van wat jy dink nie, maar vanuit ’n heel ander verwysingspunt waarin sulke ydele gedagtes betekenisloos is. 2Hierdie gedagtes is nie ooreenkomstig God se Wil nie. 3Hy deel nie hierdie eienaardige oortuigings met jou nie. 4Dit is voldoende bewys dat hulle verkeerd is, maar jy sien nie in dat dit so is nie.

4. Waarom sou jy nie oorstelp van vreugde wees om verseker te word dat al die kwaad, wat jy dink jy gedoen het, nooit gedoen was nie, dat al jou sondes niks is nie, dat jy so suiwer en heilig is soos wat jy geskep was, en dat daar lig en vreugde en vrede in jou bly. 2Jou beeld van jouself kan nie weerstand bied teen die Wil van God nie. 3Jy dink dat dit die dood is, maar dit is lewe. 4Jy dink dat jy vernietig word, maar jy word gered.

5. Die self wat jy gemaak het, is nie die Seun van God nie. 2Daarom bestaan hierdie self hoegenaamd nie. 3En alles wat hy blyk te doen en dink, beteken niks nie. 4Hy is nóg sleg nóg goed. 5Hy is onwerklik, en niks meer nie. 6Hy voer nie ’n stryd met die Seun van God nie. 7Hy maak hom nie seer, of bedreig sy vrede nie. 8Hy het nie die skepping verander nie, nóg ewige sondeloosheid verander na sonde, en liefde na haat. 9Oor watter mag kan hierdie self wat jy gemaak het, beskik, as hy die Wil van God weerspreek?

6. Jou sondeloosheid word deur God gewaarborg. 2Dit moet keer op keer herhaal word, totdat dit aanvaar word. 3Dit is waar. 4Jou sondeloosheid word deur God gewaarborg. 5Wat God as ewig geskep het, kan deur niks aangeraak of verander word nie. 6Die self wat jy gemaak het, boos en vol sonde, is betekenisloos. 7Jou sondeloosheid word deur God gewaarborg, en lig en vreugde en vrede woon in jou.

7. Verlossing vereis die aanvaarding van slegs één gedagte: jy is soos God jou geskep het, nie wat jy van jouself gemaak het nie. 2Watter kwaad jy ook al mag dink jy gedoen het, jy is soos God jou geskep het. 3Watter foute jy ook al gemaak het, die waarheid oor jou bly onveranderd. 4Skepping is ewig en onveranderlik. 5Jou sondeloosheid word deur God gewaarborg. 6Jy is en sal altyd presies bly soos jy geskep was. 7Lig en vreugde en vrede bly in jou, omdat God hulle daar geplaas het.

8. Begin vandag die langer oefenperiodes, waarby jy meer baat sal vind as dit die eerste vyf minute van elke uur gedoen word, deur die waarheid oor jou skepping te verklaar:

2Lig en vreugde en vrede woon in my.

3My sondeloosheid word deur God gewaarborg.

4Sit dan jou dwase selfbeelde opsy, en bestee die res van die oefenperiode deur te probeer ervaar wat God jou gegee het, in plaas van wat jy vir jouself toegeëien het.

9. Jy is óf wat God geskep het óf wat jy self gemaak het. 2Die een Self is waar, die ander een is nie daar nie. 3Probeer om die eenheid van jou één Self te ervaar. 4Probeer om Sy heiligheid te waardeer én die liefde waaruit Hy geskep is. 5Moenie afbreuk doen aan die Self wat God as jy geskep het, deur Sy majesteit te verberg agter nietige afgode van kwaad en sondigheid wat jy gemaak het om in Sy plek te stel nie. 6Laat Hy tot Sy reg kom. 7Hier is jy; Dit is Jy. 8En lig en vreugde en vrede bly in jou omdat dit so is.

10. Jy mag dalk nie gewillig wees of selfs in staat wees om die eerste vyf minute van elke uur vir hierdie oefeninge te gebruik nie. 2Probeer dit egter net wanneer jy kan. 3Onthou ten minste om hierdie gedagtes elke uur te herhaal:

4Lig en vreugde en vrede woon in my.

5My sondeloosheid word deur God gewaarborg.

6Probeer dan om ten minste vir ’n minuut of langer jou oë te sluit en te besef dat dit ’n verklaring is van die waarheid oor jou.

11. As daar ’n situasie opduik wat jou blyk te ontstel, verplaas die illusie van vrees dadelik deur hierdie gedagtes weer te herhaal. 2As jy in die versoeking gelei sou word om kwaad te word vir iemand, sê saggies vir hom:

3Lig en vreugde en vrede woon in jou.

4Jou sondeloosheid word deur God gewaarborg.

5Jy kan vandag baie vir die wêreld se verlossing doen. 6Jy kan vandag baie doen om jou nader te bring aan die verlossingsrol wat God aan jou toegeken het. 7En jy kan vandag baie doen om die oortuiging in jou geestesdenke te vestig dat die idee van die dag inderdaad waar is.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 93: Light and joy and peace abide in me. (ACIM, W-93)

Les 84 – Hersiening (67-68)

Hier is die idees vir vandag se hersiening:

1. (67) Liefde het my soos homself geskep.

2Ek is die ewebeeld van my Skepper. 3Ek kan nie ly nie, ek kan geen verlies ervaar nie, en ek kan nie doodgaan nie. 4Ek is nie ’n liggaam nie. 5Ek wil vandag my werklikheid leer ken. 6Ek sal geen afgode aanbid, of my eie selfkonsep verhef om my Self te vervang nie. 7Ek is die ewebeeld van my Skepper. 8Liefde het my soos homself geskep.

2. Jy mag hierdie konkrete vorms nuttig vind in die toepassing van die idee:

2Laat ek geen illusie van myself hierin sien nie.

3Laat ek my Skepper onthou, wanneer ek hierna kyk.

4My Skepper het dit nie geskep soos ek dit sien nie.

3. (68) Liefde koester geen griewe nie.

2Griewe is heeltemal vreemd aan liefde. 3Griewe val liefde aan en verberg die lig daarvan. 4As ek griewe het, val ek liefde aan en daarom ook my Self. 5My Self word dus vir my vreemd. 6Ek is vasbeslote om nie vandag my Self aan te val nie, sodat ek kan onthou Wie ek is.

4. Die volgende spesifieke toepassingsvorme kan nuttig wees:

2Dit bied geen regverdiging om my Self te verloën nie.

3Ek sal dit nie gebruik om liefde aan te val nie.

4Laat dit my nie in die versoeking bring om myself aan te val nie.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 84: Review (67-68). (ACIM, W-84)

Les 82 – Hersiening (63-64)

Ons sal vandag hierdie idees hersien:

1.             (63) Die lig van die wêreld bring aan elkeen se geestesdenke vrede deur my vergifnis.

2My vergifnis is die middel waardeur die lig van die wêreld uitdrukking vind deur my. 3My vergifnis is die middel waardeur ek bewus word van die lig van die wêreld in my. 4My vergifnis is die middel waardeur die wêreld genees word, saam met my. 5Laat ek dan die wêreld vergewe, sodat dit saam met my genees kan word.

2.               Wenke vir konkrete toepassingsvorme van hierdie idee is:

2Laat vrede vanaf my geestesdenke na joune uitbrei, (naam).

3Ek deel die lig van die wêreld met jou, (naam).

4Danksy my vergifnis kan ek dit sien soos dit is.

3.             (64) Laat ek nie my funksie vergeet nie.

2Ek wil nie my funksie vergeet nie, want ek wil my Self onthou. 3Ek kan nie my funksie vervul as ek dit vergeet nie. 4En tensy ek my funksie vervul, sal ek nie die vreugde ervaar wat God vir my bestem nie.

4.               Geskikte spesifieke vorms van hierdie idee, sluit in:

2Laat ek dit nie gebruik om my funksie vir myself weg te steek nie.

3Ek sal dit as ’n geleentheid aangryp om my funksie te vervul.

4Dit mag miskien my ego bedreig, maar dit kan op generlei wyse

my funksie verander nie.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 82: Review (63-64). (ACIM, W-82)

© 2026 Hemelbewus

Theme by Anders Noren — Up ↑