Etiket: LeefInLig (Page 1 of 2)

Les 95 – Ek is één Self, verenig met my Skepper.

1. Vandag se idee beskryf jou noukeurig soos God jou geskep het. 2Jy is één in jouself, en één met Hom. 3Aan jou behoort die eenheid van die hele skepping. 4Jou volmaakte eenheid maak veranderinge in jou onmoontlik. 5Jy aanvaar dit nie, en slaag nie daarin om te begryp dat dit so moet wees nie, net omdat jy glo dat jy jouself reeds verander het.

2. Jy sien jouself as ’n belaglike parodie op God se skepping: swak, boosaardig, lelik en sondig, ellendig en deur pyn geteister. 2Dit is jou weergawe van jouself, ’n self wat verdeel is in dele wat mekaar beveg, afgeskei van God, en ’n self wat losweg bymekaar gehou word deur sy wisselvallige en wispelturige maker, wat jy aanbid. 3Hy hoor nie jou gebede nie, want hy is doof. 4Hy sien nie die éénheid in jou nie, want hy is blind. 5Hy begryp nie dat jy die Seun van God is nie, want hy is dwaas en begryp niks nie.

3. Ons sal vandag probeer om slegs bewus te wees van wat kan hoor en wat kan sien, en wat volkome sin maak. 2Ons sal weer ons oefeninge daarop rig om jou een Self te bereik wat met Sy Skepper verenig is. 3Ons probeer weer vandag geduldig en hoopvol.

4. Die gebruik van die eerste vyf minute van elke uur wat jy wakker is om die idee van die dag te oefen, het besondere voordele vir die leerstadium waarin jy tans verkeer. 2Dit is op hierdie stadium moeilik om nie jou geestesdenke te laat afdwaal wanneer die langer oefeninge gedoen word nie. 3Jy het dit sekerlik al teen dié tyd besef. 4Jy het die mate waarin jy aan verstandelike dissipline ontbreek gesien, en ook gesien hoe dringend jou geestesdenke opleiding benodig. 5Dit is nodig dat jy hiervan bewus moet wees, want dit belemmer inderdaad jou vordering.

5. Herhaaldelike, maar korter oefenperiodes hou op hierdie stadium ander voordele vir jou in. 2Behalwe dat jy insien dat jy moeite het om jou aandag vol te hou, moes jy ook opgemerk het dat, tensy jy dikwels aan jou doel herinner word, jy neig om dit vir lang tye te vergeet. 3Jy slaag dikwels nie daarin om die kort toepassings van die dag se idee te onthou nie, en jy het nog nie die gewoonte aangeleer om die idee as ’n outomatiese reaksie op versoekings te gebruik nie.

6. Struktuur is dus op hierdie stadium vir jou nodig, en wel so beplan dat jy herhaaldelik aan jou doel, en jou gereelde pogings om dit te bereik, herinner sal word. 2Reëlmatigheid, in terme van tyd, is nie die ideale voorskrif vir die voordeligste vorm van oefening vir verlossing nie. 3Dit is egter voordelig vir diegene wie se motivering wisselvallig is, en wat ’n sterk weerstand teen leer bly voel.

7. Ons sal dus vir ’n ruk by die vyf-minute-per-uur oefenperiodes hou, en ons moedig jou aan om so min as moontlik oor te slaan. 2Die gebruik van die eerste vyf minute van die uur sal veral nuttig wees, aangesien dit vaster struktuur voorskryf. 3Moet egter nie die kere dat jy versuim as ’n verskoning gebruik om nie, sodra jy kan, na die tydskema terug te keer nie. 4Jy mag wel die versoeking ondervind om die dag as verlore te beskou omdat jy misluk het om te doen wat gevra was. 5Dit moet egter bloot erken word vir wat dit is: ’n weiering om jou fout te laat korrigeer, en onwilligheid om weer te probeer.

8. Die Heilige Gees word nie in Sy onderrig deur jou foute vertraag nie. 2Hy kan slegs teruggehou word deur jou onwilligheid om hulle te laat vaar. 3Laat ons dus vasbeslote wees om, veral vir die komende week, gewillig te wees om onsself te vergewe vir ons gebrek aan vlytigheid en ons versuim om die instruksies te volg om die dag se idee toe te pas. 4Hierdie verdraagsaamheid teenoor swakheid sal ons in staat stel om daar verby te kyk, eerder as om daaraan mag te gee om ons leerproses te vertraag. 5As ons dit mag gee om dit te doen, beskou ons dit as krag, en verwar ons krag met swakheid.

9. As jy misluk om te voldoen aan die vereistes van hierdie kursus, het jy bloot ’n fout begaan. 2Dit verlang ’n korreksie, en niks meer nie. 3Om ’n fout toe te laat om voort te gaan, beteken bykomende foute, gebaseer op die eerste en ’n versterking daarvan. 4Dit is hierdie proses wat laat vaar moet word, want dit is maar net ’n ander manier waarop jy illusies teen die waarheid wil beskerm.

10. Laat al hierdie foute vaar deur hulle te sien vir wat hulle is. 2Hulle is pogings om jou onbewus te hou van die besef dat jy één Self is, verenig met jou Skepper, één met elke aspek van die skepping, en grensloos in mag en vrede. 3Dit is die waarheid en niks anders is waar nie. 4Ons sal vandag hierdie waarheid weer bevestig, en probeer om die plek in jou te bereik waar daar geen twyfel is dat alleenlik dit waar is nie.

11. Begin vandag se oefenperiodes met hierdie versekering, aangebied aan jou geestesdenke met al die sekerheid wat jy kan gee:

2Ek is één Self, verenig met my Skepper, één met elke aspek van die

 skepping, en grensloos in krag en vrede.

3Sluit dan jou oë en sê weer vir jouself, stadig en nadenkend, terwyl jy probeer om die betekenis van die woorde toe te laat om jou geestesdenke in te sink, en vals idees te vervang:

4Ek is één Self.

5Herhaal dit verskeie kere, en probeer dan die betekenis wat die woorde oordra, te voel.

12. Jy is één Self, verenig en veilig in lig en vreugde en vrede. 2Jy is God se Seun, één Self, met één Skepper en één doel: om bewustheid van hierdie éénheid na alle geestesdenke te bring, sodat ware skepping die alomteenwoordigheid en die eenheid van God kan uitbrei. 3Jy is één Self, volledig en genees en heel, met die mag om die sluier van duisternis van die wêreld op te lig, en die lig in jou deur te laat om die wêreld die waarheid oor jou te leer.

13. Jy is één Self, in volmaakte harmonie met alles wat is, en alles wat sal wees. 2Jy is één Self, die heilige Seun van God, verenig met jou broers in daardie Self, verenig met jou Vader in Sy Wil. 3Voel hierdie één Self in jou, en laat Hy al jou illusies en twyfel wegskyn. 4Dit is jou Self, die Seun van God Self, sondeloos soos Sy Skepper, met Sy krag in jou en Sy Liefde vir ewig joune. 5Jy is één Self, en dit is vir jou gegee om hierdie Self binne jou te voel, en om al jou illusies te verdryf uit die enkele Geestesdenke wat hierdie Self is, die heilige waarheid in jou.

14. Moenie vandag vergeet nie. 2Ons het jou hulp nodig, jou klein aandeel om geluk te bring aan die hele wêreld. 3En die Hemel hou jou met vertroue dop dat jy dit vandag sal probeer. 4Deel dan in die sekerheid, want dit is joune. 5Wees wakker. 6Moenie vandag vergeet nie. 7Moenie jou doel vergeet nie, onthou dit die hele dag deur. 8Herhaal vandag se idee so dikwels as moontlik, en weet dat elke keer as jy dit doen, hoor iemand die stem van hoop, die roering van die waarheid in sy geestesdenke, die sagte ritseling van die vlerke van vrede.

15. Jou eie erkenning dat jy één Self is, verenig met jou Vader, is ’n beroep op die hele wêreld om één met jou te wees. 2Maak seker dat jy aan elkeen wat jy vandag ontmoet, die belofte van vandag se idee gee en dit vir hom sê:

3Jy is één Self met my, verenig met ons Skepper in hierdie Self. 4Ek eer jou om Wat ek is, en om Wat Hy is, Wat ons beide liefhet as Één.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 95: I am one Self, united with my Creator. (ACIM, W-95)

Les 94 – Ek is soos God my geskep het.

1. Vandag gaan ons verder met die een idee wat volkome verlossing bring, die een verklaring wat alle vorms van versoeking magteloos laat; die een gedagte wat die ego stil en heeltemal ongedaan maak. 2Jy is soos God jou geskep het. 3Die geluide van hierdie wêreld word stil, die beelde van hierdie wêreld verdwyn, en al die gedagtes wat hierdie wêreld ooit bevat het, word vir ewig weggevee deur hierdie een idee. 4Hier is verlossing volbring. 5Hier is geestesgesondheid herstel.

2. Ware lig is krag, en krag is sondeloosheid. 2As jy so bly soos God jou geskep het, moet jy sterk wees en moet die lig in jou wees. 3Hy Wat jou sondeloosheid verseker het, moet ook die waarborg vir krag en lig wees. 4Jy is soos God jou geskep het. 5Die duisternis kan nie die glorie van God se Seun verberg nie. 6Jy staan in die lig, sterk in die sondeloosheid waarin jy geskep was, en waarin jy sal bly vir alle ewigheid.

3. Vandag sal ons weereens die eerste vyf minute van elke uur wat jy wakker is, bestee om die waarheid in jou te probeer voel. 2Begin hierdie periodes van ondersoek met hierdie woorde:

 3Ek is soos God my geskep het.

 4Ek is vir ewig Sy Seun.

5Probeer nou om die Seun van God in jou te bereik. 6Dit is die Self wat nooit gesondig het, of nooit ’n beeld gemaak het om die werklikheid te verplaas nie. 7Dit is die Self wat nooit Sy tuiste in God verlaat het om onseker in die wêreld te leef nie. 8Dit is die Self wat geen vrees ken, of wat Hom verlies of lyding of dood kan voorstel nie.

4. Niks word van jou verlang om hierdie doel te bereik nie, behalwe om alle afgode en selfbeelde opsy te sit; om by die lys van eienskappe, beide goed en sleg, wat jy aan jouself toegeskryf het, verby te gaan; en in stille verwagting die waarheid af te wag. 2God Self het belowe dat dit aan almal wat daarom vra, geopenbaar sal word. 3Jy vra nou. 4Jy kan nie faal nie, want Hy kan nie faal nie.

5. As jy nie aan die vereiste oefening elke eerste vyf minute van elke uur kan voldoen nie, herinner jouself dan ten minste elke uur:

 2Ek is soos God my geskep het.

3Ek is vir ewig Sy Seun.

4Vertel jouself vandag herhaaldelik dat jy is soos God jou geskep het. 5En vergeet nie om op enigeen wat jou blyk te irriteer, met hierdie woorde te reageer nie:

  6Jy is soos God jou geskep het.

  7Jy is vir ewig Sy Seun.

8Wend alle moontlike pogings aan om vandag die uurlikse oefeninge te doen. 9Elkeen wat jy doen, sal ’n reuse stap op pad na jou verlossing wees, en ’n mylpaal in die denksisteem wat hierdie kursus uiteensit.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 94: I am as God created me. (ACIM, W-94)

Les 93 – Lig en vreugde en vrede woon in my.

1. Jy dink dat jy die tuiste van boosheid, duisternis en sonde is. 2Jy dink dat, as iemand die waarheid oor jou sou kon sien, hy afgestoot sou voel en van jou sou terugdeins, soos van ’n giftige slang. 3Jy dink dat, as die waarheid oor jou aan jou onthul sou wees, jy met soveel afgryse vervul sou word dat jy halsoorkop die hand aan jou eie lewe sou slaan, omdat om voort te lewe nadat jy dit gesien het, onmoontlik sou wees.

2. Hierdie oortuigings is so stewig vasgelê dat dit moeilik is om jou te help insien dat hulle op niks gebaseer is nie. 2Dat jy foute gemaak het, is duidelik. 3Dat jy verlossing op eienaardige maniere gesoek het, en dat jy mislei en misleidend was, bang vir dwase fantasieë en wilde drome, en dat jy neergebuig het voor afgode wat uit stof gemaak was – dit is alles waar, maar slegs op grond van wat jy nou glo.

3. Vandag gaan ons dit bevraagteken, nie vanuit die gesigspunt van wat jy dink nie, maar vanuit ’n heel ander verwysingspunt waarin sulke ydele gedagtes betekenisloos is. 2Hierdie gedagtes is nie ooreenkomstig God se Wil nie. 3Hy deel nie hierdie eienaardige oortuigings met jou nie. 4Dit is voldoende bewys dat hulle verkeerd is, maar jy sien nie in dat dit so is nie.

4. Waarom sou jy nie oorstelp van vreugde wees om verseker te word dat al die kwaad, wat jy dink jy gedoen het, nooit gedoen was nie, dat al jou sondes niks is nie, dat jy so suiwer en heilig is soos wat jy geskep was, en dat daar lig en vreugde en vrede in jou bly. 2Jou beeld van jouself kan nie weerstand bied teen die Wil van God nie. 3Jy dink dat dit die dood is, maar dit is lewe. 4Jy dink dat jy vernietig word, maar jy word gered.

5. Die self wat jy gemaak het, is nie die Seun van God nie. 2Daarom bestaan hierdie self hoegenaamd nie. 3En alles wat hy blyk te doen en dink, beteken niks nie. 4Hy is nóg sleg nóg goed. 5Hy is onwerklik, en niks meer nie. 6Hy voer nie ’n stryd met die Seun van God nie. 7Hy maak hom nie seer, of bedreig sy vrede nie. 8Hy het nie die skepping verander nie, nóg ewige sondeloosheid verander na sonde, en liefde na haat. 9Oor watter mag kan hierdie self wat jy gemaak het, beskik, as hy die Wil van God weerspreek?

6. Jou sondeloosheid word deur God gewaarborg. 2Dit moet keer op keer herhaal word, totdat dit aanvaar word. 3Dit is waar. 4Jou sondeloosheid word deur God gewaarborg. 5Wat God as ewig geskep het, kan deur niks aangeraak of verander word nie. 6Die self wat jy gemaak het, boos en vol sonde, is betekenisloos. 7Jou sondeloosheid word deur God gewaarborg, en lig en vreugde en vrede woon in jou.

7. Verlossing vereis die aanvaarding van slegs één gedagte: jy is soos God jou geskep het, nie wat jy van jouself gemaak het nie. 2Watter kwaad jy ook al mag dink jy gedoen het, jy is soos God jou geskep het. 3Watter foute jy ook al gemaak het, die waarheid oor jou bly onveranderd. 4Skepping is ewig en onveranderlik. 5Jou sondeloosheid word deur God gewaarborg. 6Jy is en sal altyd presies bly soos jy geskep was. 7Lig en vreugde en vrede bly in jou, omdat God hulle daar geplaas het.

8. Begin vandag die langer oefenperiodes, waarby jy meer baat sal vind as dit die eerste vyf minute van elke uur gedoen word, deur die waarheid oor jou skepping te verklaar:

2Lig en vreugde en vrede woon in my.

3My sondeloosheid word deur God gewaarborg.

4Sit dan jou dwase selfbeelde opsy, en bestee die res van die oefenperiode deur te probeer ervaar wat God jou gegee het, in plaas van wat jy vir jouself toegeëien het.

9. Jy is óf wat God geskep het óf wat jy self gemaak het. 2Die een Self is waar, die ander een is nie daar nie. 3Probeer om die eenheid van jou één Self te ervaar. 4Probeer om Sy heiligheid te waardeer én die liefde waaruit Hy geskep is. 5Moenie afbreuk doen aan die Self wat God as jy geskep het, deur Sy majesteit te verberg agter nietige afgode van kwaad en sondigheid wat jy gemaak het om in Sy plek te stel nie. 6Laat Hy tot Sy reg kom. 7Hier is jy; Dit is Jy. 8En lig en vreugde en vrede bly in jou omdat dit so is.

10. Jy mag dalk nie gewillig wees of selfs in staat wees om die eerste vyf minute van elke uur vir hierdie oefeninge te gebruik nie. 2Probeer dit egter net wanneer jy kan. 3Onthou ten minste om hierdie gedagtes elke uur te herhaal:

4Lig en vreugde en vrede woon in my.

5My sondeloosheid word deur God gewaarborg.

6Probeer dan om ten minste vir ’n minuut of langer jou oë te sluit en te besef dat dit ’n verklaring is van die waarheid oor jou.

11. As daar ’n situasie opduik wat jou blyk te ontstel, verplaas die illusie van vrees dadelik deur hierdie gedagtes weer te herhaal. 2As jy in die versoeking gelei sou word om kwaad te word vir iemand, sê saggies vir hom:

3Lig en vreugde en vrede woon in jou.

4Jou sondeloosheid word deur God gewaarborg.

5Jy kan vandag baie vir die wêreld se verlossing doen. 6Jy kan vandag baie doen om jou nader te bring aan die verlossingsrol wat God aan jou toegeken het. 7En jy kan vandag baie doen om die oortuiging in jou geestesdenke te vestig dat die idee van die dag inderdaad waar is.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 93: Light and joy and peace abide in me. (ACIM, W-93)

Les 92 – Wonders word in die lig gesien, en lig en krag is één.

1. Vandag se idee is ’n voortsetting en uitbreiding van die vorige een. 2Jy dink nie aan lig in terme van krag, en aan duisternis in terme van swakheid nie. 3Die rede is dat jou idee van wat sien beteken, verstrengel is met die liggaam en sy oë en sy brein. 4Daarom glo jy dat jy wat jy sien, kan verander deur bloot stukkies glas voor jou oë te plaas. 5Dit is maar een van vele magiese oortuigings wat ontstaan uit die oortuiging dat jy ’n liggaam is, en dat die liggaam se oë kan sien.

2. Jy glo ook dat die liggaam se brein kan dink. 2As jy maar die aard van denke begryp het, sou jy net vir hierdie waansinnige idee kon lag. 3Dit is asof jy sou kon glo dat jy die vuurhoutjie vashou wat die son aansteek en hom al sy hitte verskaf; of dat jy die wêreld in jou een hand hou, waarin dit veilig geborge lê totdat jy dit weer laat gaan. 4Tog is dit niks dwaser as om te glo dat die liggaam se oë kan sien nie of dat die liggaam se brein kan dink nie.

3. Dit is God se krag in jou wat die lig is waarin jy sien, soos dit Sy Geestesdenke is waarmee jy dink. 2Sy krag ontken en weerspreek jou swakheid. 3Dit is jou swakheid wat deur die liggaam se oë kyk, en in die duisternis rondloer op soek na sy ewebeeld: die kleines, die swakkes, die siekes en sterwendes, die noodlydendes, die hulpeloses en bevreesdes, die bedroefdes, die armes en die vreugdeloses. 4Dit word gesien deur oë wat nie kan sien nie, en wat nie kan seën nie.

4. Krag sien hierdie dinge nie raak nie deur verby die misleidende uiterlikhede te kyk. 2Dit hou ’n standvastige blik op die lig wat daaragter lê. 3Dit verenig met lig, waarvan dit ’n deel uitmaak. 4Krag sien homself. 5Krag bring die lig waarin jou Self verskyn. 6In die duisternis sien jy ’n self wat nie daar is nie. 7Krag is die waarheid oor jou; swakheid is ’n afgod wat valslik aanbid en verheerlik word sodat die krag verdryf kan word, en sodat duisternis kan heers waar God bepaal het daar lig moet wees.

5. Krag spruit uit waarheid, en straal die lig uit wat sy Bron hom gegee het; swakheid weerspieël die duisternis van sy maker. 2Swakheid is siek en hou die oog op siekte wat soos hyself is. 3Waarheid is ’n verlosser en kan slegs geluk en vrede vir elkeen wil. 4Waarheid verskaf die krag daarvan aan elkeen wat vra, in voorsiening sonder grense. 5Waarheid sien dat ’n tekort in een ’n tekort in almal sal wees. 6En so verskaf dit lig dat almal kan sien en as één baat kan vind. 7Die krag daarvan word gedeel, sodat dit aan almal die wonder kan bring waarbinne hulle sal verenig in doel en vergifnis en liefde.

6. Swakheid, wat in die duisternis kyk, kan nie ’n doel in vergifnis en liefde sien nie. 2Hy sien al die ander as anders as hyself, en niks in die wêreld wat hy sou wil deel nie. 3Hy oordeel en veroordeel, maar het nie lief nie. 4Hy bly in die duisternis om homself te verberg, en droom dat hy sterk en seëvierend is, ’n oorwinnaar van beperkings wat net in die duisternis enorme gestalte kan kry.

7. Swakheid is bang en val aan en haat homself, en duisternis omhul alles wat hy sien, en maak sy drome net so angswekkend soos hyself. 2Hier is geen wonders nie, maar slegs haat. 3Dit skei hom van wat hy sien, terwyl lig en krag hulleself as één waarneem. 4Die lig van krag is nie die lig wat jy sien nie. 5Dit verander en flikker nie en dit gaan nie dood nie. 6Dit wissel nie van nag na dag en weer terug na die duisternis tot die oggend weer aanbreek nie.

8. Die lig van krag is konstant, so seker soos die liefde, altyd bly om homself weg te gee, want hy kan aan niks anders as homself gee nie. 2Niemand kan vergeefs vra om sy sig te deel nie, en niemand wat sy tuiste binnegaan, kan dit verlaat sonder ’n wonder voor sy oë, en sonder dat daar krag en lig in sy hart woon nie.

9. Die krag in jou sal jou die lig skenk, en jou sig so rig en lei dat jy nie tyd sal mors met nuttelose skaduwees wat die oë van die liggaam aan jou verskaf vir selfmisleiding nie. 2Krag en lig verenig in jou, en waar hulle ontmoet, staan jou Self gereed om jou as Sy Eie te omhels. 3En dit is die ontmoetingsplek wat ons vandag probeer vind om daar te rus, want die vrede van God is waar jou Self, Sy Seun, nou wag om Homself weer te ontmoet, en één te wees.

10. Laat ons vandag twee keer twintig minute daaraan wy, om aan hierdie ontmoeting deel te neem. 2Laat jouself na jou Self gebring word. 3Sy krag sal die lig wees wat deur die gawe van sig aan jou gegee word. 4Verlaat die duisternis dus vandag vir ’n klein rukkie, en ons sal oefen om die lig te sien, deur die liggaam se oë te sluit en die waarheid te vra om ons te wys hoe om die ontmoetingsplek van die self en die Self te vind, waar lig en krag één is.

11. In die oggend en in die aand sal ons so oefen. 2Na die oggend se ontmoeting sal ons die dag gebruik as voorbereiding vir dié tyd in die aand wanneer ons weer in vertroue sal ontmoet. 3Laat ons vandag se idee so dikwels as moontlik herhaal, en besef dat ons aan ware sien bekend gestel word, en van die duisternis na die lig weggevoer word waar alleenlik wonders waargeneem kan word.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 92: Miracles are seen in light, and light and strength are one. (ACIM, W-92)

Les 91 – Wonders word in die lig gesien.

1. Dit is belangrik om te onthou dat wonders en visie noodwendig saamgaan. 2Dit moet herhaal word, en telkens nogeens herhaal word. 3Dit is ’n sentrale idee in jou nuwe denksisteem, en in die persepsie wat dit voortbring. 4Die wonder is altyd daar. 5Sy teenwoordigheid word nie veroorsaak deur jou visie nie; sy afwesigheid is nie die gevolg van jou onvermoë om te sien nie. 6Dit is alleenlik jou bewustheid van wonders wat beïnvloed word. 7Jy sal hulle in die lig sien; jy sal hulle nie in die donker sien nie.

2. Vir jou is lig dus van deurslaggewende belang. 2Solank jy in die duister bly, bly die wonder onsigbaar. 3Derhalwe is jy daarvan oortuig dat dit nie daar is nie. 4Vanuit hierdie veronderstelling spruit die konsep van duisternis. 5’n Ontkenning van die lig gee aanleiding tot ’n onvermoë om dit waar te neem. 6’n Onvermoë om lig waar te neem, beteken om duisternis waar te neem. 7Die lig is dan vir jou nutteloos, al is dit ook daar. 8Jy kan dit nie benut nie, want die teenwoordigheid daarvan is vir jou onbekend. 9En die oënskynlike werklikheid van die duisternis maak die idee van lig betekenisloos.

3. Om vertel te word dat wat jy nie sien nie wel daar is, klink soos waansin. 2Dit is nogal moeilik om oortuig te raak dat dit waansin is om nie te sien wat daar is nie, en om in plaas daarvan te sien wat nie daar is nie. 3Jy twyfel nie daaroor dat die liggaam se oë kan sien nie. 4Jy twyfel nie daaroor dat die beelde wat hulle jou wys die werklikheid is nie. 5Jy stel jou vertroue in die duisternis, nie in die lig nie. 6Hoe kan dit omgekeer word? 7Vir jou is dit onmoontlik, maar jy is nie alleen hierin nie.

4. Jou pogings, hoe gering hulle ook al mag wees, word kragtig ondersteun. 2As jy maar besef hoe groot hierdie krag is, sal jou twyfel verdwyn. 3Ons gaan onsself vandag daaraan toewy om te probeer om jou hierdie krag te laat voel. 4Wanneer jy die krag wat alle wonders maklik binne jou bereik bring in jou gevoel het, sal jy nie twyfel nie. 5Die wonders, wat deur jou gevoel van swakheid verberg word, sal in jou bewussyn opduik sodra jy die krag in jou voel.

5. Sit vandag drie keer ongeveer tien minute opsy vir ’n stil tydjie waartydens jy probeer om jou swakheid agter jou te laat. 2Dit word heel eenvoudig bereik as jy jouself leer dat jy nie ’n liggaam is nie. 3Jy laat jou vertroue uitgaan na wat jy wil, en jy gee jou geestesdenke dienooreenkomstig opdrag. 4Jou wil bly jou onderwyser, en jou wil beskik oor al die krag om te doen wat dit begeer. 5Jy kan aan die liggaam ontsnap as jy dit so verkies. 6Jy kan die krag in jou ervaar.

6. Begin die langer oefenperiodes met die volgende formulering van werklike oorsaak-en-gevolgverhoudings:

2Wonders word in die lig gesien.

3Die liggaam se oë neem nie die lig waar nie.

4Maar ek is nie ’n liggaam nie. 5Wat is ek?

6Die vraag waarmee hierdie formulering eindig, staan sentraal vir ons oefeninge vandag. 7Wat jy dink jy is, is ’n oortuiging wat ongedaan gemaak moet word. 8Maar wat jy werklik is, moet aan jou geopenbaar word. 9Die oortuigings dat jy ’n liggaam is, vra om korreksie, omdat dit ’n fout is. 10Die waarheid oor wat jy is, doen ’n beroep op die krag in jou om jou bewus te maak van wat deur die fout verberg word.

7. As jy nie ’n liggaam is nie, wat is jy? 2Jy moet bewus wees van wat die Heilige Gees doen om die beeld van ’n liggaam in jou geestesdenke te vervang. 3Jy benodig iets waarin jy jou vertroue kan stel op daardie oomblik wanneer jy jou liggaam as identiteit opgee. 4Jy het ’n egte ervaring van iets anders nodig, iets meer solied en seker; iets wat jou vertroue meer waardig is, en iets wat werklik aanwesig is.

8. As jy nie ’n liggaam is nie, wat is jy dan? 2Vra dit in alle opregtheid en wy dan ’n paar minute daaraan om jou verkeerde gedagtes oor jou eienskappe te laat korrigeer en deur hulle teenoorgesteldes vervang te laat word. 3Sê byvoorbeeld:

4Ek is nie swak nie, maar sterk.

5Ek is nie hulpeloos nie, maar deur en deur kragtig.

6Ek is nie beperk nie, maar onbeperk.

7Ek ken geen twyfel nie, maar ek is seker.

8Ek is geen illusie nie, maar werklikheid.

9Ek kan nie in die duisternis sien nie, maar wel in die lig.

9. Probeer in die tweede fase van die oefenperiode om hierdie waarhede oor jouself te ervaar. 2Konsentreer veral op die ervaring van krag. 3Onthou dat alle gevoel van swakheid geassosieer word met die oortuiging dat jy ’n liggaam is, ’n oortuiging wat foutief is en geen vertroue verdien nie. 4Probeer om jou geloof daarin uit die weg te ruim, al is dit net vir ’n oomblik. 5Jy sal daaraan gewoond raak om soos ons voortgaan getrou te bly aan dit wat waardevoller in jou is.

10. Ontspan vir die res van die oefenperiode, vol vertroue dat jou pogings, hoe power ook al, volkome deur die krag van God en al Sy Gedagtes ondersteun word. 2Jou krag sal van Hulle kom. 3Deur Hulle sterk ondersteuning sal jy die krag in jou voel. 4Hulle is in hierdie oefenperiode met jou verenig, waarin jy ’n doel soos Hulle s’n deel. 5Dit is in Hulle lig dat jy wonders sal sien, want Hulle krag is joune. 6Hulle krag word jou oë, sodat jy kan sien.

11. Herinner jouself vyf of ses keer per uur, met redelik gereelde tussenposes daaraan dat wonders in die lig gesien word. 2Maak ook seker dat jy versoekings tegemoetgaan met vandag se idee. 3Die volgende vorm sal nuttig wees vir hierdie spesiale doel:

 4Wonders word in die lig gesien. 5Laat ek nie my oë vanweë versoekings sluit nie.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 91: Miracles are seen in light. (ACIM, W-91)

Les 90 – Hersiening (79-80)

Vir hierdie hersiening sal ons die volgende idees gebruik:

1. (79) Laat my sien wat die probleem is, sodat dit opgelos kan word.

2Laat ek vandag besef dat die probleem altyd ’n grief van een of ander aard is wat ek wil koester en vertroetel. 3Laat ek ook begryp dat die oplossing altyd ’n wonder is waarmee ek die grief laat vervang. 4Ek wil vandag die eenvoud van verlossing onthou deur die les te bekragtig dat daar net één probleem en één oplossing is. 5Die probleem is ’n grief, die oplossing is ’n wonder. 6En ek nooi die oplossing uit om na my te kom deur die grief te vergewe en die wonder te verwelkom wat die plek daarvan inneem.

2. Spesifieke toepassings van hierdie idee kan in die volgende vorms voorkom:

2Dit veroorsaak vir my ’n probleem wat ek opgelos sou wil sien.

3Die wonder agter hierdie grief sal dit vir my oplos.

4Die antwoord op hierdie probleem is die wonder wat dit verborge hou.

3. (80) Laat my sien dat my probleme opgelos is.

2Dit kom voor of ek probleme het slegs omdat ek tyd misbruik. 3Ek glo dat die probleem eerste kom en dat daar tyd moet verstryk voordat dit opgelos kan word. 4Ek sien nie dat die probleem en die antwoord gelyktydig voorkom nie. 5Dit is so omdat ek nog nie besef dat God die antwoord saam met die probleem verskaf het nie, sodat hulle nie deur tyd geskei kan word nie. 6Die Heilige Gees sal my dit leer, as ek Hom toelaat. 7En ek sal begryp dat dit onmoontlik is dat ek ’n probleem kan hê wat nie alreeds opgelos is nie.

4. Die volgende vorms van die idee sal bruikbaar wees vir spesifieke toepassing:

2Ek hoef nie te wag dat dit opgelos word nie.

3Die antwoord op hierdie probleem is alreeds vir my gegee, as ek dit wil aanvaar.

4Tyd kan nie hierdie probleem van sy oplossing skei nie.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 90: Review (79-80). (ACIM, W-90)

Les 89 – Hersiening (77-78)

Dit is ons hersieningsidees vir vandag:

1. (77) Ek is geregtig op wonders.

2Ek is geregtig op wonders omdat ek onder geen ander wette as die wette van God staan nie. 3Sy wette verlos my van alle griewe, en vervang hulle met wonders. 4En ek wil die wonders aanvaar in plaas van die griewe, wat maar net illusies is wat die wonders agter hulle versteek. 5Nou wil ek alleenlik dit aanvaar waarop die wette van God my geregtig maak sodat ek dit kan gebruik vir die funksie wat Hy my gegee het.

2. Jy sou die volgende wenke kon gebruik vir spesifieke toepassing van hierdie idee:

2Hieragter skuil ’n wonder waarop ek geregtig is.

3Laat ek geen griewe teen jou hou nie, (naam), maar jou in plaas daarvan die wonder wat jou toekom, aanbied.

4In die ware lig gesien, bied dit my ’n wonder aan.

3. (78) Laat wonders alle griewe vervang.

2Met hierdie idee verenig ek my wil met die Wil van die Heilige Gees en sien hulle as een. 3Met hierdie idee aanvaar ek my bevryding uit die hel. 4Met hierdie idee druk ek my gewilligheid uit om al my illusies met die waarheid te vervang, ooreenkomstig God se plan vir my verlossing. 5Ek sal geen uitsonderings of plaasvervangers maak nie. 6Ek wil die hele Hemel en slegs die Hemel hê, soos God dit vir my wil.

4. Bruikbare spesifieke toepassingsvorme van hierdie idee kan wees:

2Ek sal nie hierdie grief weghou van my verlossing nie.

3Laat ons griewe deur wonders vervang word, (naam).

4Hieragter skuil die wonder waardeur al my griewe vervang word.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 89: Review (77-78). (ACIM, W-89)

Les 88 – Hersiening (75-76)

Ons sal vandag hierdie idees hersien:

1. (75) Die lig het gekom.

2Deur verlossing in plaas van aanval te kies, verkies ek bloot om wat reeds bestaan, te herken. 3Verlossing is ’n besluit wat alreeds gemaak is. 4Aanval en griewe is nie opsies nie. 5Dit is waarom ek altyd tussen waarheid en illusie kies; tussen wat daar is en wat nie daar is nie. 6Die lig het gekom. 7Ek kan slegs die lig kies, want dit het nie ’n alternatief nie. 8Dit het die duisternis vervang en die duisternis het verdwyn.

2. Die volgende sou bruikbare vorms kon wees vir die spesifieke toepassing van hierdie idee:

2Dit kan my nie duisternis laat sien nie, want die lig het gekom.

3Die lig in jou is al wat ek wil sien, (naam).

4Ek wil hierin slegs sien wat daar is.

3. (76) Ek staan onder geen ander wette as die wette van God nie.

2Hier is die volmaakte verklaring van my vryheid. 3Ek staan onder geen ander wette as die wette van God nie. 4Ek is gedurig in die versoeking om ander wette op te maak en aan hulle mag oor my te gee. 5Ek ly slegs omdat ek hulle glo. 6Hulle het geen enkele werklike effek op my nie. 7Ek is volkome vry van die effek van alle wette buiten die wette van God. 8En Syne is die wette van vryheid.

4. Vir spesifieke vorms om die idee toe te pas, sal die volgende nuttig wees:

2My persepsie hiervan wys my dat ek in wette glo wat nie bestaan nie.

3Ek sien slegs God se wette hierin werksaam.

4Laat ek God se wette toelaat om hierin te werk, en nie my eie nie.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 88: Review (75-76). (ACIM, W-88)

Les 87 – Hersiening (73-74)

Ons hersiening sal vandag hierdie idees dek:

1. (73) Ek wil dat daar lig moet wees

2Ek sal vandag die krag van my wil gebruik. 3Dit is nie my wil om in die duister rond te tas, bang vir skaduwees en onsigbare en onwerklike dinge nie. 4Lig sal vandag my gids wees. 5Ek sal dit volg waarheen dit my lei, en ek sal slegs sien wat dit my wys. 6Vandag sal ek die vrede van ware persepsie ervaar.

2. Die volgende vorms van die idee sal nuttig wees vir konkrete toepassing:

2Dit kan die lig wat ek wil sien, nie wegsteek nie.

3Jy staan saam met my in die lig, (naam).

4In die lig sal dit anders lyk.

3. (74) Daar is geen ander wil as God se Wil nie.

2Ek is vandag veilig, want daar is geen ander wil as God se Wil nie. 3Ek kan net bang word as ek glo dat daar ’n ander wil is. 4Ek probeer aanval slegs wanneer ek bang is, en net wanneer ek probeer aanval, kan ek glo dat my ewige veiligheid bedreig word. 5Vandag sal ek insien dat dit alles nie gebeur het nie. 6Ek is veilig, want daar is geen ander wil as God se Wil nie.

4. Hier volg ’n paar nuttige vorms van hierdie idee vir konkrete toepassing:

2Laat ek dit in ooreenstemming met die Wil van God sien.

3Dit is God se Wil dat jy Sy Seun is, (naam), en dis ook my wil.

4Dit is deel van God se Wil vir my, hoe ek dit ook al mag sien.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 87: Review (73-74). (ACIM, W-87)

Les 86 – Hersiening (71-72)

Die volgende idees word vandag hersien:

1. (71) Slegs God se plan vir verlossing sal werk.

2Dit is sinloos vir my om rond en bont na verlossing te soek. 3Ek het dit in baie mense en in baie dinge gesien, maar toe ek daarna uitgereik het, was dit nie daar nie. 4Ek het my misgis oor waar dit is. 5Ek het my misgis oor wat dit is. 6Ek sal nie meer nutteloos soek nie. 7Slegs God se plan vir verlossing sal werk. 8En ek sal my verheug omdat Sy plan nooit kan misluk nie.

2. Hier is ’n paar voorgestelde vorms om hierdie idee spesifiek toe te pas:

2God se plan vir verlossing sal my verlos van my persepsie hiervan.

3Dit vorm geen uitsondering in God se plan vir my verlossing nie.

4Laat ek dit slegs in die lig van God se plan vir verlossing sien.

3. (72) Om griewe te koester, is ’n aanval op God se plan vir verlossing.

2Om griewe te koester is ’n poging om te bewys dat God se plan vir verlossing nie sal werk nie. 3Maar slegs Sy plan sal werk. 4Deur griewe te koester, sluit ek dus my enigste hoop op verlossing uit my bewussyn. 5Ek wil nie langer my hoogste belange op hierdie waansinnige wyse verydel nie. 6Ek wil God se plan vir verlossing aanvaar en gelukkig wees.

4. Konkrete toepassing van hierdie idee kan in dié vorms voorkom:

2Ek maak ’n keuse tussen verkeerde persepsie en verlossing terwyl ek hierna kyk.

3As ek rede vir griewe hierin sien, sal ek nie die redes vir my verlossing sien nie.

4Dit vra om verlossing, nie om aanval nie.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 86: Review (71-72). (ACIM, W-86)

« Older posts

© 2026 Hemelbewus

Theme by Anders Noren — Up ↑