Skrywer: admin (Page 3 of 8)

Les 55 – Hersiening (21-25)

Vandag se hersiening sluit die volgende in:

1.             (21) Ek is vasbeslote om dinge anders te sien.

2Wat ek nou sien, is slegs tekens van siekte, rampspoed en dood. 3Dit kan voorwaar nie wees wat God vir Sy geliefde Seun geskep het nie. 4Die blote feit dat ek sulke dinge sien, bewys dat ek God nie begryp nie. 5Daarom begryp ek ook nie Sy Seun nie. 6Wat ek sien, sê vir my dat ek nie weet wie ek is nie. 7Ek is vasbeslote om die getuies van waarheid in my te sien, eerder as dié wat my ’n illusie van myself wys.

2.             (22) Wat ek sien, is ’n vorm van wraak.

2Die wêreld wat ek sien, is beswaarlik ’n weergawe van liefdevolle gedagtes. 3Dit is ’n beeld van hoe alles mekaar aanval. 4Dit is alles behalwe ’n weerspieëling van die Liefde van God en die Liefde van Sy Seun. 5Dit is my eie aanvalsgedagtes wat tot hierdie beeld aanleiding gee. 6My liefdevolle gedagtes sal my van hierdie persepsie van die wêreld red, en my die vrede gee wat God vir my bestem het.

3.             (23) Ek kan aan hierdie wêreld ontsnap deur aanvalsgedagtes op te gee.

2Verlossing lê hierin, en nêrens anders nie. 3Sonder aanvalsgedagtes sou ek nie ’n wêreld van aanval kon sien nie. 4Soos vergifnis my weer bewus laat word van liefde, sal ek ’n wêreld van vrede, veiligheid en vreugde sien. 5En dít is wat ek verkies om te sien, in plaas van dit waarna ek nou kyk.

4.             (24) Ek sien nie wat in my eie beste belang is nie.

2Hoe kan ek my hoogste belang ken as ek nie weet wie ek is nie? 3Wat ek dink in my eie belang is, bind my bloot meer aan die wêreld van illusies vas. 4Ek is gewillig om die Gids wat God my verskaf het, te volg om uit te vind wat in my eie hoogste belang is, omdat ek besef dat ek hulle uit myself alleen nie kan sien nie.

5.             (25) Ek weet nie waarvóór enigiets daar is nie.

2Vir my is die doel van alles om te bewys dat my illusies oor myself werklik is. 3Vir hierdie doel probeer ek almal en alles gebruik. 4Dit is wat ek glo die doel van die wêreld is. 5Daarom herken ek nie sy werklike doel nie. 6Die doel wat ek aan die wêreld gegee het, het tot ’n vreesaanjaende beeld daarvan aanleiding gegee. 7Laat ek my geestesdenke vir die wêreld se werklike doel oopstel deur die een wat ek daaraan gegee het, te onttrek, en die waarheid daaroor te leer.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 55: Review (21-25). (ACIM, W-55)

Les 54 – Hersiening (16-20)

Vandag word die volgende idees hersien:

1.             (16) Ek het geen neutrale gedagtes nie.

2Neutrale gedagtes is onmoontlik, want alle gedagtes beskik oor krag. 3Hulle sal óf ’n vals wêreld maak óf hulle sal my na die werklike een lei. 4Maar gedagtes kan nie sonder gevolge wees nie. 5Soos die wêreld wat ek sien, voortspruit uit my denkfoute, sal die werklike wêreld voor my oë verrys as ek my foute laat korrigeer. 6My gedagtes kan nie nóg waar nóg onwaar wees nie. 7Hulle moet óf die een óf die ander wees. 8Wat ek sien, wys my wat hulle is.

2.             (17) Ek sien geen neutrale dinge nie.

2Wat ek sien, getuig van wat ek dink. 3As ek nie gedink het nie, sou ek nie bestaan het nie, want lewe is denke. 4Laat ek na die wêreld wat ek sien, kyk as ’n weerspieëling van my eie stand van geestesdenke. 5Ek weet dat die toestand van my geestesdenke kan verander. 6En dus weet ek verder dat die wêreld wat ek sien, ook kan verander.

3.             (18) Ek ervaar nie die gevolge van my sien alleen nie.

2As ek geen private gedagtes het nie, kan ek nie ’n private of afgesonderde wêreld sien nie. 3Selfs die dwase idee van skeiding moes gedeel word voordat dit die basis kon word van die wêreld wat ek sien. 4Maar daardie verdeling was die deling van niksheid. 5Ek kan egter ook ’n beroep doen op my werklike gedagtes, wat alles met almal deel. 6Net soos my gedagtes van skeiding ander se gedagtes van skeiding aanroep, laat my werklike gedagtes die werklike gedagtes in hulle ontwaak. 7En die wêreld wat my werklike gedagtes vir my wys, sal verrys voor sowel hulle oë as myne.

4.             (19) Ek ervaar nie die gevolge van my gedagtes alleen nie.

2Ek is in niks alleen nie. 3Alles wat ek dink of sê of doen, onderrig die hele universum. 4’n Seun van God kan nie vergeefs dink of praat of doen nie. 5Hy kan in niks alleen wees nie. 6Dit is dus binne my mag om elkeen se geestesdenke saam met myne te verander, want aan my behoort die krag van God.

5.             (20) Ek is vasbeslote om te sien.

2Omdat ek insien dat my gedagtes altyd met ander gedeel word, is ek vasbeslote om te sien. 3Ek wil na die getuies kyk wat my sal wys dat die denke van die wêreld verander het. 4Ek wil die bewys aanskou dat wat deur middel van my gedoen is, die liefde in staat gestel het om vrees te vervang, lag in staat gestel het om trane te vervang en oorvloed in staat gestel het om verlies te vervang. 5Ek wil die werklike wêreld sien, en my daardeur laat leer dat my wil en die Wil van God één is.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 54: Review (16-20). (ACIM, W-54)

Les 53 – Hersiening (11-15)

Ons sal vandag die volgende hersien:

1.             (11) My betekenislose gedagtes laat my ’n betekenislose wêreld sien.

2Aangesien die gedagtes waarvan ek bewus is, niks beteken nie, kan die wêreld wat deur hulle uitgebeeld word nie betekenis hê nie. 3Dit waardeur hierdie wêreld voortgebring is, is waansinnig, en dieselfde geld vir dit wat die wêreld voortbring. 4Die werklikheid is nie waansinnig nie, en ek het sowel werklike as waansinnige gedagtes. 5Ek kan daarom die werklike wêreld sien, as ek op my werklike gedagtes sou staatmaak as rigsnoer om te sien.

2.               (12) Ek voel ontsteld omdat ek ’n betekenislose wêreld sien.

2.Waansinnige gedagtes is ontstellend. 3Hulle bring ’n wêreld voort waarin daar nêrens orde is nie. 4Net chaos regeer ’n wêreld wat ’n weergawe is van chaotiese denke, en chaos ken geen wette nie. 5Ek kan nie in so ’n wêreld in vrede leef nie. 6Ek is dankbaar dat hierdie wêreld nie werklik is nie en ek dit hoegenaamd nie hoef te sien nie, tensy ek kies om waarde daaraan te verleen. 7En ek kies om nie waarde te verleen aan wat heeltemal waansinnig is en geen betekenis het nie.

3.             (13) ’n Betekenislose wêreld veroorsaak vrees.

2Wat totaal waansinnig is, veroorsaak vrees omdat dit heeltemal onbetroubaar is en geen basis vir vertroue bied nie. 3In waansin is niks te vertrou nie. 4Dit bied geen veiligheid en hoop nie. 5Maar so ’n wêreld is nie werklik nie. 6Ek het daaraan die illusie van werklikheid verskaf en het gely as gevolg van my geloof daarin. 7Nou verkies ek om hierdie geloof terug te trek, en my vertroue in die werklikheid te stel. 8Deur dit te kies, sal ek van al die gevolge van die wêreld van vrees ontsnap, want ek erken dat dit nie bestaan nie.

4.             (14) God het nie ’n betekenislose wêreld geskep nie.

2Hoe kan ’n betekenislose wêreld bestaan as God dit nie geskep het nie? 3Hy is die Bron van alle betekenis, en alles wat werklik is, is in Sy Geestesdenke. 4Dit is ook in my geestesdenke, want Hy het dit met my geskep. 5Waarom sal ek voortgaan om te ly aan die gevolge van my eie waansinnige gedagtes as die volmaaktheid van die skepping my tuiste is? 6Laat ek die krag van my keuse onthou en besef waar ek regtig woon.

5.             (15) My gedagtes is beelde wat ek gemaak het.

2Wat ek ook al sien, is ’n weerspieëling van my gedagtes. 3Dit is my gedagtes wat my vertel waar ek is en wat ek is. 4Die feit dat ek ’n wêreld van swaarkry, verlies en dood sien, wys my dat ek bloot ’n weergawe van my waansinnige gedagtes sien, en nie my werklike gedagtes toelaat om hulle weldadige lig te werp op wat ek sien nie. 5Tog is God se weg seker. 6Die beelde wat ek gemaak het, kan Hom nie oorweldig nie, want dit is nie my wil dat dit geskied nie. 7My wil is Syne, en ek sal geen ander gode voor Sy aangesig hê nie.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 53: Review (11-15). (ACIM, W-53)

Les 52 – Hersiening (6-10)

Vandag se hersiening omvat hierdie idees:

1.             (6) Ek is ontsteld omdat ek sien wat nie daar is nie.

2Die werklikheid is nooit vreesaanjaend nie. 3Dit kan my onmoontlik ontstel. 4Die werklikheid bring alleen volmaakte vrede. 5As ek ontsteld is, is dit altyd omdat ek die werklikheid vervang het met illusies wat ek self opgemaak het. 6Die illusies is ontstellend, want ek het aan hulle werklikheid verskaf, en beskou dus die werklikheid as ’n illusie. 7Niks in God se skepping word op enige wyse deur hierdie verwarring van my beïnvloed nie. 8Ek raak altyd ontsteld deur heeltemal niks.

2.             (7) Ek sien slegs die verlede.

2Wanneer ek om my heen kyk, veroordeel ek die wêreld waarna ek kyk. 3Ek noem dit sien. 4Ek hou die verlede teen almal en alles, en maak hulle my vyand. 5As ek myself vergewe het en onthou het Wie ek is, sal ek almal en alles wat ek sien, seën. 6Daar sal geen verlede, en dus geen vyande wees nie. 7En ek sal met liefde na alles wat ek voorheen nie gesien het nie, kyk.

3.             (8) My geestesdenke is behep met gedagtes uit die verlede.

2Ek sien slegs my eie gedagtes, en my geestesdenke is behep met die verlede. 3Wat kan ek dan sien, soos dit is? 4Laat ek onthou dat ek na die verlede kyk om te verhoed dat die hede vir my geestesdenke duidelik word. 5Laat ek begryp dat ek probeer om tyd teen God te gebruik. 6Laat ek leer om die verlede weg te gee, in die besef dat ek sodoende niks opgee nie.

4.               (9) Ek sien niks soos dit nou is nie.

2As ek niks sien soos dit nou is nie, kan inderdaad gesê word dat ek heeltemal niks sien nie. 3Ek kan slegs wat nou is, sien. 4Die keuse is nie om die verlede of die hede te sien nie, die keuse is bloot om te sien, of nie. 5Wat ek verkies het om te sien, het my my visie gekos. 6Nou wil ek weer kies, sodat ek kan sien.

5.             (10) My gedagtes beteken niks nie.

2Ek het geen private gedagtes nie. 3Nogtans is dit alleen private gedagtes waarvan ek bewus is. 4Wat kan hierdie gedagtes tog beteken? 5Hulle bestaan nie, en beteken dus niks nie. 6Tog is my geestesdenke deel van die skepping, en deel van sy Skepper. 7Wil ek my nie eerder by die denke van die universum aansluit, as om wat regtig myne is met armsalige en betekenislose “private” gedagtes te verdoesel nie?



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 52: Review (6-10). (ACIM, W-52)

Les 51 – Hersiening (1-5)

Vandag se hersiening omvat die volgende idees:

1.             (1) Niks wat ek sien, het enige betekenis nie.

2Dit is so omdat ek niks sien nie, en niks het nie betekenis nie. 3Dit is noodsaaklik dat ek dit insien, sodat ek kan leer om te sien. 4Wat ek dink ek nou sien, neem die plek van visie in. 5Ek moet dit los deur te besef dat dit nie betekenis het nie, sodat visie die plek daarvan kan inneem.

2.             (2) Ek het aan alles wat ek sien, al die betekenis gegee wat dit vir my het.

2Ek het alles waarna ek kyk beoordeel en dit, en dit alleen, is wat ek sien. 3Dit is nie visie nie. 4Dit is bloot ’n illusie van die werklikheid, want my beoordelings is heeltemal los van die werklikheid gemaak. 5Ek is gewillig om die gebrek aan geldigheid in my oordele te erken, want ek wil sien. 6My oordele het my seergemaak en ek wil nie daarvolgens sien nie.

3.             (3) Ek begryp niks wat ek sien nie.

2Hoe kan ek begryp wat ek sien as ek dit verkeerd beoordeel het? 3Wat ek sien, is die projeksie van my eie denkfoute. 4Ek begryp nie wat ek sien nie, want dit is onbegrypbaar. 5Dit het geen sin om te probeer om dit te begryp nie. 6Maar daar bestaan genoeg rede om dit te laat vaar en ruimte te maak vir wat gesien, begryp en liefgehê kan word. 7Ek kan wat ek nou sien hiervoor verruil deur bloot gewillig daartoe te wees. 8Is dit nie ’n beter keuse as die een wat ek voorheen gemaak het nie?

4.             (4) Hierdie gedagtes beteken niks nie.

2Die gedagtes waarvan ek bewus is, beteken niks nie omdat ek sonder God probeer dink. 3Wat ek “my” gedagtes noem, is nie my werklike gedagtes nie. 4My werklike gedagtes is die gedagtes wat ek met God dink. 5Ek is nie van hulle bewus nie, want ek het my eie gedagtes gemaak om hulle plek in te neem. 6Ek is gewillig om te erken dat my gedagtes niks beteken nie en hulle te laat vaar. 7Ek verkies om hulle te laat vervang deur wat hulle juis wou vervang. 8My gedagtes is betekenisloos, maar die hele skepping is teenwoordig in die gedagtes wat ek met God dink.

5.             (5) Ek is nooit ontsteld om die rede wat ek dink nie.

2Ek is nooit ontsteld om die rede wat ek dink nie, omdat ek voortdurend probeer om my gedagtes te regverdig. 3Ek probeer hulle voortdurend waar maak. 4Ek maak alle dinge my vyand, sodat my kwaadwees geregverdig en my aanvalle geoorloof kan word. 5Ek het nie besef hoeveel ek alles misbruik het deur hierdie rol daaraan toe te ken nie. 6Ek het dit gedoen om ’n denksisteem te verdedig wat my seergemaak het en wat ek nie langer wil hê nie. 7Ek is gewillig om dit te laat vaar.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 51: Review (1-5). (ACIM, W-51)

1ste Hersiening

Inleiding

1. Van vandag af sal ons ’n reeks hersieningsoefeninge doen. 2Elkeen van hulle bevat vyf van die idees wat reeds aangebied is, wat by een begin en by vyftig geëindig het. 3Daar sal ’n paar kort opmerkings, wat jy tydens jou hersiening in oorweging moet neem, na elke idee volg. 4Tydens die oefenperiodes moet die oefeninge as volg gedoen word:

2. Begin die dag deur die vyf idees, met die gepaardgaande kommentaar, te lees. 2Daarna hoef jy nie by enige spesifieke volgorde te hou wanneer jy hulle oordink nie, alhoewel elkeen ten minste een keer toegepas of geoefen moet word. 3Wy twee minute of langer aan elke oefenperiode om die idee en die verwante kommentaar te oordink nadat hulle deurgelees is. 4Doen dit so dikwels moontlik gedurende die dag. 5As enige van die vyf idees jou meer aantrek as die ander, konsentreer dan daarop. 6Maak egter aan die einde van die dag seker dat jy almal weereens hersien.

3. Dit is nie nodig om die opmerkings wat na elke idee volg, letterlik of deeglik tydens die oefenperiodes deur te gaan nie. 2Probeer eerder om die sentrale kern te beklemtoon en dink daaroor as ’n onderdeel van jou hersiening van die idee waarop dit betrekking het. 3Nadat jy die idee en verwante kommentaar gelees het, moet die oefeninge met geslote oë gedoen word wanneer jy, indien moontlik, alleen in ’n stil plek is.

4. Dit word veral vir die oefenperiodes in die leerstadium waarin jy nou verkeer, beklemtoon. 2Jy sal egter moet leer dat jy geen spesiale omstandighede benodig om te kan toepas wat jy geleer het nie. 3Jy sal leer eerder benodig in situasies wat ontstellend blyk te wees, as in situasies wat alreeds kalm en rustig voorkom. 4Die doel van alles wat jy leer, is om jou in staat te stel om die kalmte saam met jou te neem en angs en verwarring te genees. 5Dit word nie bereik deur hulle te ontwyk en ’n afgesonderde toevlugsoord vir jouself te soek nie.

5. Jy sal dan ook leer dat vrede ’n deel van jou is en slegs van jou vra dat jy elke situasie waarin jy jou bevind, omhels. 2En jy sal uiteindelik leer dat daar geen grense is waar jy is nie, sodat jou vrede oral is, net soos jy

6. Jy sal opmerk dat vir hersieningsdoeleindes sommige van die idees nie in hulle oorspronklike vorm aangebied word nie. 2Gebruik hulle soos hulle hier gegee word. 3Dit is nie nodig om na die oorspronklike stellings terug te keer, of die idees toe te pas soos toe voorgestel was nie. 4Ons beklemtoon nou die verbande tussen die eerste vyftig idees wat ons behandel het, asook die samehang van die denksisteem waarheen hulle jou lei.

Les 50 – Ek word deur die Liefde van God gedra.

1. Hier is die antwoord op elke probleem waarvoor jy te staan mag kom, vandag en môre en deur alle tye heen. 2In hierdie wêreld glo jy dat jy deur alles, behalwe God, gesteun word. 3Jou vertroue word gestel in die mees onbenullige en banale simbole: pille, geld, “beskermende” klere, invloed, status, gewildheid, die “regte” mense ken, en ’n eindelose lys van allerhande vorms van nietighede wat jy met magiese krag beklee.

2. Al hierdie dinge is jou plaasvervangers vir God se Liefde. 2Al hierdie dinge word gekoester om te verseker dat jy met jou liggaam identifiseer. 3Hulle is lofsange vir die ego. 4Moenie jou vertroue op die waardelose vestig nie. 5Dit sal jou nie onderskraag nie.

3. Net die Liefde van God sal jou in alle omstandighede beskerm. 2Dit sal jou uit elke beproewing lig, jou hoog bo al die gewaande gevare van hierdie wêreld verhef tot ’n sfeer van volmaakte vrede en veiligheid. 3Dit sal jou na ’n toestand van die geestesdenke voer wat deur niks bedreig en ontstel kan word nie, en waar niks die ewige kalmte van die Seun van God kan verbreek nie.

4. Moenie op illusies vertrou nie. 2Hulle sal jou in die steek laat. 3Vestig al jou vertroue op die Liefde van God binne jou: ewig, onveranderlik en vir altyd onfeilbaar. 4Dit is die antwoord op wat jou ook al vandag konfronteer. 5Deur die Liefde van God in jou kan jy alle oënskynlike probleme sonder moeite en in die volste vertroue oplos. 6Sê dit vandag dikwels vir jouself. 7Dit is ’n verklaring waarmee jy jou van die geloof in afgode bevry. 8Dit is jou erkenning van die waarheid oor jouself.

5. Laat die idee, twee keer vandag, oggend en aand, vir tien minute elk diep in jou bewuste insink. 2Herhaal dit, dink daaroor na, laat verwante gedagtes jou kom help om die waarheid daarvan te erken, en laat vrede oor jou vloei soos ’n kombers van beskerming en geborgenheid. 3Laat geen beuselagtige en dwase gedagtes binne om die heilige geestesdenke van die Seun van God te versteur nie. 4Dit is die Koninkryk van die Hemele. 5Dit is die rusplek wat die Vader jou vir ewig toebedeel het.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 50: I am sustained by the Love of God. (ACIM, W-50)

Les 49 – God se Stem praat met my, die hele dag deur.

1. Dit is heeltemal moontlik om die hele dag deur na God se Stem te luister sonder om jou gewone bedrywighede op enigerlei wyse te onderbreek. 2Die deel van jou geestesdenke waarin die waarheid woon, is in voortdurende kommunikasie met God, of jy hiervan bewus is of nie. 3Die ander gedeelte van jou geestesdenke is die een wat in die wêreld funksioneer en die wêreld se wette gehoorsaam. 4Dit is hierdie gedeelte wat voortdurend deurmekaar, ontwrig en uiters onseker is.

2. Die deel wat na die Stem namens God luister, is kalm, altyd rustig en heeltemal seker. 2Dit is in werklikheid die enigste deel wat daar is. 3Die ander deel is ’n onbeheerste illusie, waansinnig en dol, maar sonder werklikheid van enige aard. 4Probeer om nie vandag daarna te luister nie. 5Probeer om jou met die deel van jou geestesdenke te vereenselwig waar stilte en vrede altyd heers. 6Probeer om God se Stem te hoor wat jou liefdevol roep en jou daaraan herinner dat jou Skepper nie Sy Seun vergeet het nie.

3. Ons sal vandag ten minste vier oefenperiodes van vyf minute elke benodig, en meer indien moontlik. 2Ons sal werklik probeer om God se Stem te hoor wat jou aan Hom en aan jou Self herinner. 3Ons sal hierdie hoogs vreugdevolle en hoogs heilige gedagtes met vertroue nader, in die wete dat ons hiermee ons wil met die Wil van God verbind. 4Hy wil hê dat jy Sy Stem hoor. 5Hy het dit vir jou gegee om gehoor te word.

4. Luister in diepe stilte. 2Wees heeltemal stil en open jou geestesdenke. 3Gaan verby al die skrille gegil en siek fantasieë wat jou werklike gedagtes verberg en jou ewige verbinding met God versluier. 4Sink diep in die vrede in wat verby die waansinnige, rumoerige gedagtes, taferele en geluide van hierdie kranksinnige wêreld wag. 5Jy woon nie hier nie. 6Ons probeer jou werklike tuiste te bereik. 7Ons probeer die plek bereik waar jy waarlik welkom is. 8Ons probeer God bereik.

5. Moenie vergeet om vandag se idee dikwels te herhaal nie. 2Doen dit met oop oë waar nodig, maar met toe oë waar moontlik. 3En maak seker om rustig te sit en die idee vir vandag te herhaal wanneer jy ook al kan, deur jou oë vir die wêreld te sluit, en te weet dat jy God se Stem uitnooi om met jou te praat.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 49: God’s Voice speaks to me all through the day. (ACIM, W-49)

Les 48 – Daar is niks om te vrees nie.

1. Vandag se idee konstateer eenvoudig ’n feit. 2Dit is nie ’n feit vir diegene wat in illusies glo nie, maar illusies is nie feite nie. 3In waarheid is daar niks om te vrees nie. 4Dit is baie maklik om in te sien. 5Maar dit is baie moeilik om in te sien vir diegene wat wil hê dat illusies waar moet wees.

2. Vandag se oefenperiodes sal baie kort, baie eenvoudig en baie gereeld wees. 2Herhaal bloot die idee so dikwels as moontlik. 3Jy kan dit met oop oë gebruik op enige oomblik en in enige situasie. 4Dit word egter sterk aanbeveel dat jy ’n minuut of langer gebruik om jou oë te sluit, wanneer dit ook al moontlik is, en die idee stadig ’n paar keer vir jouself te herhaal. 5Dit is veral belangrik om die idee onmiddellik te gebruik, sou enigiets die vrede van jou geestesdenke versteur.

3. Die teenwoordigheid van vrees is ’n duidelike teken dat jy op jou eie krag vertrou. 2Die bewustheid dat daar niks is om te vrees nie, toon dat jy iewers in jou geestesdenke, alhoewel nie noodwendig op ’n plek wat jy nou reeds herken nie, God onthou het en Sy krag toelaat om die plek van jou swakheid in te neem. 3Die oomblik dat jy gewillig is om dit te doen, is daar inderdaad niks om te vrees nie.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 48: There is nothing to fear. (ACIM, W-48)

Les 47 – God is die krag waarop ek vertrou.

1. As jy op jou eie krag vertrou, het jy genoeg rede om onrustig, angstig en bang te wees. 2Wat kan jy voorspel of beheer? 3Wat is daar in jou waarop gereken kan word? 4Wat kan jou die vermoë verskaf om van alle fasette van enige probleem bewus te wees, en dit op sodanige wyse op te los dat daar slegs goed van kan kom? 5Wat is daar in jou wat jou die regte oplossing laat insien, en jou die waarborg gee dat dit bereik sal word?

2. Uit jouself kan jy niks van hierdie dinge doen nie. 2Om te glo dat jy kan, beteken om jou vertroue te plaas waar daar geen gronde vir vertroue is nie, en om vrees, angs, depressie, woede en verdriet te regverdig. 3Wie kan sy vertroue in swakheid stel en veilig voel? 4Maar wie kan sy vertroue in krag stel en swak voel?

3. God is onder alle omstandighede jou veiligheid. 2Sy Stem praat namens Hom in alle situasies en in elke aspek van alle situasies, en sê presies vir jou wat jou te doen staan om ’n beroep te doen op Sy krag en Sy beskerming. 3Daar is geen uitsonderings nie, want God ken geen uitsonderings nie. 4En die Stem Wat namens Hom praat, dink soos Hy dink.

4. Vandag sal ons probeer om by jou eie swakheid verby te reik na die Bron van werklike krag. 2Vier oefenperiodes van vyf minute elk is vandag nodig, en langer en meer gereelde tye word sterk aanbeveel. 3Sluit jou oë en begin, soos gewoonlik, met ’n herhaling van die idee vir die dag. 4Bestee dan ’n minuut of twee om na situasies in jou lewe te soek wat jy met vrees belaai het, en laat vaar elkeen deur vir jouself te sê:

              5God is die Krag waarop ek vertrou.

5. Probeer nou om by alle besorgdhede wat met jou eie gevoel van ontoereikendheid verband hou, verby te glip. 2Dit is duidelik dat elke situasie wat jou besorgd maak, gepaard gaan met gevoelens van ontoereikendheid, want anders sou jy geglo het dat jy die situasie suksesvol kan hanteer. 3Jy sal nie selfvertroue kry deur bloot op jouself te vertrou nie. 4Maar die krag van God in jou laat alles altyd suksesvol verloop.

6. Die erkenning van jou eie swakheid is ’n noodsaaklike stap om jou foute te herstel, maar dit is nouliks voldoende om jou die selfvertroue te gee wat jy nodig het, en waarop jy geregtig is. 2Jy moet ook daarvan bewus word dat vertroue in jou werklike krag ten volle geregverdig is in alle opsigte en in alle omstandighede.

7. Probeer tydens die laaste fase van die oefenperiode om diep in jou geestesdenke ’n plek van ware veiligheid te bereik. 2Jy sal weet dat jy dit bereik het as jy ’n gevoel van diepe vrede, hoe kortstondig ook al, ervaar. 3Laat los alle onbenullighede wat aan die oppervlakte van jou geestesdenke borrel en kook, en reik in die diepte daaronder na die Koninkryk van die Hemele. 4Daar is ’n plek in jou waar daar volmaakte vrede heers. 5Daar is ’n plek in jou waar niks onmoontlik is nie. 6Daar is ’n plek in jou waar die krag van God vir ewig vertoef.

8. Herhaal die idee dikwels gedurende die dag. 2Gebruik dit as jou antwoord op enige versteuring. 3Onthou dat vrede jou reg is, want jy vestig jou vertroue op die krag van God.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 47: God is the strength in which I trust. (ACIM, W-47)

« Older posts Newer posts »

All quotes are from A Course in Miracles, Third Edition.
Copyright © 2007 by the Foundation for Inner Peace, copyright holder and publisher.
448 Ignacio Blvd., #306, Novato, CA 94949, acim.org, used with permission.

© 2026 Hemelbewus

Patternstorm Designs