1. Vandag se idee beskryf noukeurig hoe enigeen wat aanvalsgedagtes in sy geestesdenke vashou, die wêreld moet sien. 2Aangesien hy sy gevoel van kwaadwees op die wêreld geprojekteer het, sal hy aanhoudend wraak sien wat hom enige oomblik kan tref. 3Sy eie aanval word dus as selfverdediging gesien. 4Dit word ’n toenemende bose kringloop totdat hy gewillig is om sy manier van sien te verander. 5Andersins sal aanvalsgedagtes en teenaanvalle hom heeltemal in beslag neem en sy hele wêreld vul. 6Welke vrede van geestesdenke is dan nog vir hom moontlik?

2. Dit is uit hierdie barbaarse fantasie dat jy wil ontsnap. 2Is dit nie vreugdevolle nuus om te hoor dat dit nie werklik is nie? 3Is dit nie ’n blye ontdekking om uit te vind jy kan ontsnap nie? 4Dit wat jy wil vernietig, is jou eie maaksel: alles wat jy haat en wil aanval en doodmaak. 5Niks wat jy vrees, bestaan nie.

3. Kyk vandag ten minste vyf keer na die wêreld om jou, ten minste ’n minuut elke keer. 2Sê vir jouself, terwyl jou oë stadig van een voorwerp na die ander en van een liggaam na die ander beweeg:

              3Ek sien slegs die verganklike.

              4Ek sien niks wat blywend is nie.

              5Wat ek sien, is nie werklik nie.

              6Wat ek sien, is ’n vorm van wraak.

7Vra jouself aan die einde van elke oefenperiode af:

              8Is dit die wêreld wat ek werklik wil sien?

9Die antwoord is tog vanselfsprekend.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 22: What I see is a form of vengeance. (ACIM, W-22)