Etiket: Kursus in Wonders (Page 2 of 2)

Les 26 – My aanvalsgedagtes val my onkwetsbaarheid aan.

1. Dit is ongetwyfeld duidelik dat as jy aangeval kan word, jy nie onkwetsbaar is nie. 2Jy sien aanval as ’n wesenlike bedreiging. 3Dit is omdat jy glo dat jy werklik kan aanval. 4En wat déúr jou gevolge het, moet ook óp jou gevolge hê. 5Hierdie wet sal jou uiteindelik red, maar tans misbruik jy dit. 6Jy moet dus leer hoe om dit in jou beste belang te gebruik, in plaas van daarteen.

2. Omdat jou aanvalsgedagtes geprojekteer word, sal jy aanval vrees. 2En as jy aanval vrees, moet jy glo dat jy nie onkwetsbaar is nie. 3Aanvalsgedagtes maak jou dus kwetsbaar in jou eie geestesdenke, want dit is waar die aanvalsgedagtes is. 4Aanvalsgedagtes en onkwetsbaarheid kan nie tegelyk aanvaar word nie. 5Hulle weerspreek mekaar.

3. Vandag se idee stel die gedagte bekend dat jy jouself altyd eerste aanval. 2As aanvalsgedagtes onvermydelik die oortuiging meebring dat jy kwetsbaar is, dan is die gevolg daarvan dat hulle jou in jou eie oë verswak. 3Dus het hulle jou persepsie van jouself aangeval. 4En omdat jy in hulle glo, kan jy nie meer in jouself glo nie. 5’n Vals beeld van jouself het die plek van wat jy is, ingeneem.

4. Oefening met vandag se idee sal jou help begryp dat kwetsbaarheid of onkwetsbaarheid die resultaat van jou eie gedagtes is. 2Niks anders as jou gedagtes kan jou aanval nie. 3Niks anders as jou gedagtes kan jou laat dink dat jy kwetsbaar is nie. 4En niks anders as jou gedagtes kan aan jou bewys dat dit nie so is nie.

5. Ses oefenperiodes word benodig om vandag se idee toe te pas. 2’n Volle twee minute kan vir elk probeer word, alhoewel die tyd na ’n minuut verminder kan word as daar te veel ongemak is. 3Moenie dit verder verminder nie.

6. Die oefenperiode moet begin deur vandag se idee te herhaal, jou oë dan te sluit en weer te kyk na onopgeloste probleme, waarvan die uitkoms jou bekommer. 2Die bekommernis mag die vorm van depressie, besorgdheid, woede, neerdrukkende gevoelens, vrees, voorgevoelens of beheptheid aanneem. 3Enige probleem wat nog nie opgelos is nie en deur die dag by herhaling in jou gedagtes opduik, is ’n geskikte onderwerp. 4Jy sal nie in een enkele oefenperiode baie kan gebruik nie omdat meer tyd as gewoonlik aan elkeen bestee moet word. 5Vandag se idee moet soos volg toegepas word:

7. Noem eers die situasie by die naam:

              2Ek is bekommerd oor __________.

3Gaan dan deur elke moontlike gevolg wat in dié verband by jou opgekom het en vir jou bekommernis veroorsaak het, en verwys redelik spesifiek na elkeen deur te sê:

              4Ek is bang dat __________ sal gebeur.

8. As jy die oefeninge deeglik doen, sal jy omtrent oor vyf of ses kwellende moontlikhede beskik vir elke situasie wat jy behandel, en moontlik selfs meer. 2Dit is veel nuttiger om ’n paar situasies deeglik te dek as om ’n groot aantal net aan te roer. 3Soos die lys van verwagte uitkomste vir elke situasie groei, sal jy heelwaarskynlik sommige daarvan, veral die wat aan die einde by jou opkom, minder aanvaarbaar vind. 4Probeer egter om hulle almal, sover jy kan, gelyk te behandel.

9. Nadat jy elke uitkoms waarvoor jy bang is, opgenoem het, sê vir jouself:

              2Daardie gedagte is ’n aanval op myself.

3Sluit elke oefenperiode af deur vandag se idee weereens vir jouself te herhaal.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 26: My attack thoughts are attacking my invulnerability. (ACIM, W-26)

Les 25 – Ek weet nie waarvóór enigiets daar is nie.

1. Die betekenis lê in die doel. 2Vandag se idee verduidelik waarom niks wat jy sien enigiets beteken nie. 3Jy weet nie waarvóór dit hoegenaamd daar is nie. 4Daarom is dit vir jou betekenisloos. 5Alles is in jou beste belang. 6Dit is waarvoor dit daar is; dit is die doel daarvan; dit is wat dit beteken. 7Deur dit in te sien, word al jou doelstellings één gemaak. 8Dit is deur dit in te sien, dat wát jy sien, betekenis kry.

2. Jy neem die wêreld en alles daarin as betekenisvol waar in terme van die ego se doeleindes. 2Hierdie doeleindes het niks te doen met jou hoogste of beste belang nie, want jy is nie die ego nie. 3Hierdie vals identifikasie ontneem jou van die vermoë om te begryp waarvoor iets daar is. 4Gevolglik sal jy dit misbruik. 5As jy hiervan oortuig is, sal jy probeer om die doeleindes wat jy aan die wêreld toegeken het, te onttrek, in plaas van om hulle te probeer versterk.

3. ’n Ander manier om die doeleindes wat jy nou waarneem, te beskryf, is om te sê dat hulle almal om “persoonlike” belange draai. 2Aangesien jy geen persoonlike belange het nie, draai jou doeleindes in werklikheid om niks nie. 3Deur hulle te koester, het jy sodoende geen doelstellings hoegenaamd nie. 4En dus weet jy nie waarvoor enigiets daar is nie.

4. Voordat jy enige sin kan maak uit vandag se oefening, is nog ’n gedagte nodig. 2Op selfs die oppervlakkigste vlakke herken jy wel doel en bedoeling. 3Maar doel kan nie op hierdie vlakke begryp word nie. 4Jy weet byvoorbeeld dat die doel van ’n telefoon is om met iemand te praat wat nie fisies in jou onmiddellike omgewing is nie. 5Wat jy nie begryp nie, is waarvoor jy hom wil bereik. 6En dít is wat jou kontak met hom betekenisvol maak, aldan nie.

5. Dit is noodsaaklik vir jou om te leer om gewillig te wees om die doeleindes wat jy vir alles vasgestel het, op te gee. 2Die erkenning dat hulle betekenisloos is, eerder as “goed” of “sleg”, is die enigste manier om dit te vermag. 3Vandag se idee is ’n stap in hierdie rigting.

6. Ses oefenperiodes, elk twee minute lank, word vereis. 2Elke oefenperiode moet begin met ’n stadige herhaling van vandag se idee, waarna jy rondom jou kyk en jou blik laat rus op enigiets wat jou aandag trek, naby of ver, “belangrik” of “onbelangrik”, “menslik” of “onmenslik”. 3Met jou oë wat rus op elke voorwerp wat jy so kies, sê byvoorbeeld:

              4Ek weet nie waarvoor hierdie stoel daar is nie.

              5Ek weet nie waarvoor hierdie potlood daar is nie.

              6Ek weet nie waarvoor hierdie hand daar is nie.

7Sê dit redelik stadig, sonder om jou oë van die voorwerp af te haal, totdat jy die stelling daaroor voltooi het. 8Gaan dan voort met die volgende voorwerp en pas vandag se idee soos voorheen toe.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 25: I do not know what anything is for. (ACIM, W-25)

Les 24 – Ek sien nie wat in my eie beste belang is nie.

1. In geen situasie wat ontstaan, weet jy watter uitkoms jou gelukkig sal maak nie. 2Jy beskik dus oor geen leiding vir gepaste optrede, en oor geen maatstaf om die resultaat te beoordeel nie. 3Wat jy doen, word bepaal deur jou persepsie van die situasie, en daardie persepsie is verkeerd. 4Dit is dus onvermydelik dat jy nie jou hoogste en beste belang dien nie. 5Nogtans is dit jou enigste doel in elke situasie wat korrek waargeneem word. 6Anders sal jy nie insien wat dit is nie.

2. As jy ingesien het dat jy nie sien wat jou hoogste of beste belang is nie, sou jy dit geleer kon word. 2Maar as jy daarvan oortuig is dat jy wél weet wat dit is, kan jy nie leer nie. 3Vandag se idee is ’n stap op pad na die oopmaking van jou geestesdenke sodat die leerproses kan begin.

3. Vandag se oefeninge vereis baie meer eerlikheid as waaraan jy gewoond is. 2’n Paar onderwerpe wat eerlik en versigtig oorweeg word in elk van die vyf oefenperiodes wat vandag gedoen moet word, sal van groter hulp wees as die oppervlakkige verkenning van ’n groot hoeveelheid. 3Twee minute word voorgestel vir elke periode van geestesdenke-ondersoek wat die oefeninge behels.

4. Die oefenperiodes moet begin deur vandag se idee te herhaal, gevolg deur ’n ondersoek van die geestesdenke met geslote oë na onopgeloste situasies waaroor jy tans bekommerd is. 2Die klem moet val op die blootlegging van die uitkoms wat jy verlang. 3Jy sal gou agterkom dat jy ’n hele aantal doeleindes in gedagte het as deel van die gewenste uitkoms, en ook dat hierdie doeleindes op verskillende vlakke lê en dikwels konflikteer.

5. Noem in die toepassing van vandag se idee elke situasie wat by jou opkom, en som dan versigtig soveel doeleindes as moontlik op wat jy wil hê bereik moet word vir die oplossing daarvan. 2Die vorm van elke toepassing kan naastenby soos volg wees:

            3In die situasie met betrekking tot __________ sou ek graag wil hê dat _________             gebeur, en _________ gebeur,

ensovoorts. 4Probeer om soveel verskillende soorte uitkomste te dek soos wat eerlik by jou opkom, selfs al lyk dit of sommige nie direk met die situasie verband hou, of selfs heeltemal daarby hoort nie.

6. As hierdie oefeninge korrek gedoen word, sal jy gou insien dat jy ’n groot aantal eise aan die situasie stel wat niks daarmee te doen het nie. 2Jy sal ook insien dat baie van jou doelstellings teenstrydig is, dat jy geen eenduidige uitkoms in gedagte het nie en dat jy, hoe die situasie ook al mag verloop, teleurgesteld sal voel met sommige van jou doelstellings.

7. Nadat jy die lys van soveel hoopvolle doelstellings as moontlik, gedek het, sê vir jouself met elke onopgeloste situasie wat deur jou geestesdenke gaan:

              2Ek sien nie wat my beste belang is in hierdie situasie nie,

en gaan dan voort met die volgende een.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 24: I do not perceive my own best interests. (ACIM, W-24)

Newer posts »

All quotes are from A Course in Miracles, Third Edition.
Copyright © 2007 by the Foundation for Inner Peace, copyright holder and publisher.
448 Ignacio Blvd., #306, Novato, CA 94949, acim.org, used with permission.

© 2026 Hemelbewus

Patternstorm Designs