Etiket: genesing

Les 43 – God is my Bron. Los van Hom kan ek nie sien nie.

1. Persepsie is nie ’n eienskap van God nie. 2Aan Hom behoort die koninkryk van kennis. 3Maar Hy het die Heilige Gees geskep as die Middelaar tussen persepsie en kennis. 4Sonder hierdie skakel met God sou persepsie vir ewig die plek van kennis in jou geestesdenke ingeneem het. 5Met hierdie skakel met God sal persepsie so verander en gesuiwer word dat dit na kennis lei. 6Dit is sy funksie soos die Heilige Gees dit sien. 7Daarom is dit in waarheid sy funksie.

2. In God kan jy nie sien nie. 2Persepsie het nie ’n funksie in God nie en bestaan nie. 3Maar in verlossing, wat die ongedaanmaking behels van wat nooit was nie, het persepsie ’n grootse doel. 4Deur die Seun van God vir ’n onheilige doel gemaak, moet dit die middel word waarmee hy weer van sy heiligheid bewus word. 5Persepsie het geen betekenis nie. 6Nogtans gee die Heilige Gees ’n betekenis daaraan wat baie na aan die betekenis van God Self is. 7Geneesde persepsie word die middel waardeur die Seun van God sy broer en dus homself vergewe.

3. Los van God kan jy nie sien nie, want jy kan nie los van God bestaan nie. 2Wat jy ook al doen, doen jy in Hom, want wat jy ook al dink, dink jy met Sy Geestesdenke. 3As visie werklik is, en dit is slegs werklik in die mate waarin dit die Heilige Gees se doel deel, kan jy nie apart van God sien nie.

4. Drie oefenperiodes van vyf minute elk word vandag benodig, een so vroeg moontlik en die ander so laat moontlik in die dag. 2Die derde een kan onderneem word op die gunstigste en geskikste tyd binne jou omstandighede en gereedheid. 3Herhaal die idee vir die dag aan jouself met oop oë aan die begin van hierdie oefenperiodes. 4Kyk dan vir ’n kort rukkie om jou heen terwyl jy die idee spesifiek op wat jy sien, toepas. 5Vier of vyf onderwerpe vir hierdie fase van die oefenperiode is voldoende. 6Jy kan byvoorbeeld sê:

              7God is my Bron. 8Ek kan nie hierdie lessenaar los van hom sien nie.

              9God is my Bron. 10Ek kan nie daardie skildery los van hom sien nie.

5. Alhoewel hierdie deel van die oefening relatief kort moet wees, moet jy seker maak dat jy die onderwerpe vir hierdie oefenfase willekeurig kies, sonder dat jy self besluit wat jy in- of uitsluit. 2Vir die tweede en langer fase moet jy jou oë sluit, vandag se idee weer herhaal en dan alle relevante gedagtes wat by jou opkom, op jou eie persoonlike manier by die idee voeg. 3Gedagtes soos:

            4Ek sien deur oë van vergifnis.

              5Ek sien die wêreld as geseënd.

              6Die wêreld kan my myself laat sien.

              7Ek sien my eie gedagtes, wat soos die Gedagtes van God Self is.

8Enige gedagte wat min of meer aan vandag se idee verwant is, is geskik. 9Die gedagtes hoef nie ’n duidelike verwantskap met die idee te hê nie, maar hulle moet nie daarmee in stryd wees nie.

6. As jy vind dat jou geestesdenke afdwaal, as jy begin bewus word van gedagtes wat duidelik nie met vandag se idee verband hou nie, of as dit voorkom of jy aan niks kan dink nie, maak dan jou oë oop, herhaal die eerste fase van die oefenperiode en probeer dan weer die tweede fase. 2Moenie ’n lang uitgerekte periode waartydens jy behep raak met onverwante gedagtes, toelaat nie. 3Keer so dikwels as wat nodig is na die eerste fase van die oefeninge terug om dit te voorkom.

7. By die toepassing van vandag se idee in die korter oefenperiodes, kan die vorm varieer volgens die omstandighede en situasies waarin jy jouself gedurende die dag bevind. 2As jy byvoorbeeld saam met iemand anders is, probeer onthou om saggies vir hom te sê:

              3God is my Bron. 4Los van Hom kan ek jou nie sien nie.

5Hierdie vorm is net so van toepassing op vreemdelinge as wat dit is op diegene wat jy dink nader aan jou is. 6Probeer trouens om hoegenaamd geen onderskeidings van hierdie aard te maak nie.

8. Vandag se idee behoort ook die hele dag deur toegepas te word op verskillende situasies en gebeure wat mag voorkom, veral op dié wat skyn om jou op een of ander manier te ontstel. 2Pas die idee vir hierdie doel in hierdie vorm toe:

            3God is my Bron. 4Los van Hom kan ek dit nie sien nie.

9. As geen spesifieke onderwerp op ’n gegewe tyd by jou opkom nie, herhaal bloot die idee in sy oorspronklike vorm. 2Probeer vandag om nie enige lang tye te laat verby gaan sonder om aan die idee van die dag en dus aan jou funksie te dink nie.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 43: God is my Source. I cannot see apart from Him. (ACIM, W-43)

Les 38 – Daar is niks wat my heiligheid nie kan doen nie.

1. Jou heiligheid draai al die wette van die wêreld om. 2Dit gaan enige tyd, ruimte, afstand en grense van enige aard te bowe. 3Jou heiligheid is totaal onbeperk in die mag daarvan, want dit bevestig jou as ’n Seun van God, één met die Geestesdenke van sy Skepper.

2. Deur jou heiligheid word die mag van God gemanifesteer. 2Deur jou heiligheid word die mag van God beskikbaar gestel. 3En daar is niks wat die mag van God nie kan doen nie. 4Jou heiligheid kan gevolglik alle pyn verwyder, alle smart en leed beëindig, en alle probleme oplos. 5Dit kan hy doen met betrekking tot jouself en enigiemand anders. 6Dit het dieselfde mag om elkeen te help omdat dit dieselfde mag het om iedereen te verlos.

3. As jy heilig is, is alles wat God geskep het ook heilig. 2Jy is heilig, omdat alle dinge wat Hy geskep het heilig is. 3En alle dinge wat Hy geskep het, is heilig, omdat jy heilig is. 4In vandag se oefeninge sal ons die mag van jou heiligheid benut vir alle probleme, moeilikhede of lyding van enige aard waaraan jy mag dink, in jouself of in iemand anders. 5Ons sal geen onderskeid tref nie, want daar is geen onderskeid nie.

4. Herhaal tydens die vier langer oefenperiodes, wat elk verkieslik ’n volle vyf minute moet duur, die idee vir vandag, sluit jou oë en ondersoek dan jou geestesdenke vir enige gevoel van verlies of ongelukkigheid van enige aard, soos jy dit sien. 2Probeer so min onderskeid as moontlik maak tussen situasies wat vir jou moeilik is en situasies wat vir iemand anders moeilik is. 3Dui die situasie spesifiek aan, en ook die naam van die betrokke persoon. 4Gebruik die volgende vorm om die idee vir vandag toe te pas:

              5In die situasie met betrekking tot __________ waarin ek myself sien, is daar

              niks wat my heiligheid nie kan doen nie.

              6In die situasie met betrekking tot __________ waarin __________ homself

              sien, is daar niks wat my heiligheid nie kan doen nie.

5. Miskien wil jy van tyd tot tyd hierdie werkswyse varieer en enkele verbandhoudende gedagtes van jou eie byvoeg. 2Jy sou byvoorbeeld gedagtes kon insluit soos:

              3Daar is niks wat my heiligheid nie kan doen nie, want die mag van God lê                         daarin.

4Bring enige variasies in waarvan jy hou, maar fokus die oefeninge op die tema: “Daar is niks wat my heiligheid nie kan doen nie.” 5Die doel van vandag se oefeninge is om die gevoel geleidelik in te prent dat jy heerskappy oor alle dinge het, as gevolg van wat jy is.

6. Pas die idee tydens die veelvuldige korter oefeninge toe in sy oorspronklike vorm, tensy ’n spesifieke probleem ten opsigte van jouself of iemand anders opduik, of in jou geestesdenke opkom. 2Gebruik in dié geval die meer spesifieke vorm van die idee en pas dit daarop toe.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 38: There is nothing my holiness cannot do. (ACIM, W-38)

Les 5 – Ek is nooit ontsteld om die rede wat ek dink nie.

1. Hierdie idee kan, soos die vorige een, gebruik word ten opsigte van enige persoon, situasie of gebeurtenis wat jy dink jou pyn veroorsaak. 2Pas dit spesifiek toe op wat jy ook al glo die oorsaak van jou ontsteltenis is, en gebruik die beskrywing van die gevoel op enige wyse wat vir jou reg lyk. 3Die ontsteltenis mag voorkom as vrees, bekommernis, depressie, angs, woede, haat, jaloesie of etlike ander vorme, wat jy almal as verskillend sal waarneem. 4Dit is nie waar nie. 5Voordat jy egter geleer het dat die vorm nie saak maak nie, is elke vorm ’n geskikte onderwerp vir vandag se oefeninge. 6Die toepassing van dieselfde idee op elkeen afsonderlik is die eerste stap na die uiteindelike erkenning dat hulle almal dieselfde is.

2. Wanneer jy vandag se idee gebruik vir die oorsaak van ’n ontsteltenis, in enige vorm wat jy waargeneem het, gebruik dan sowel die naam van die vorm waarin jy die ontsteltenis sien, asook die oorsaak wat jy daaraan toeskryf. 2Byvoorbeeld:

              3Ek is nie kwaad vir __________ om die redes wat ek dink nie.

            4Ek is nie bang vir __________ om die redes wat ek dink nie.

3. Maar weereens, dit moet nie vervang word met oefenperiodes waartydens jy jou geestesdenke eers ondersoek vir, wat jy glo, die “oorsake” van jou ontsteltenis is nie, en die vorms van ontsteltenis wat jy dink daaruit voortvloei nie.

4. Jy mag dit in hierdie oefeninge, meer as in voriges, moeilik vind om nie te diskrimineer nie, en te verhoed om aan sommige onderwerpe meer gewig toe te ken as aan ander. 2Dit kan help om die oefeninge met die volgende stelling vooraf te gaan:

            3Daar is geen klein vorme van ontsteltenis nie. 4Hulle is almal ewe steurend vir my             innerlike vrede.

5. Ondersoek dan jou geestesdenke vir wat jou ook al bekommer, ongeag hoeveel of hoe min jy dink dit jou bekommer.

6. Jy mag ook vind dat jy minder gewillig is om vandag se idee toe te pas op sekere vermeende oorsake van ontsteltenis as op ander. 2As dit gebeur, dink eers hieraan:

            3Ek kan nie hierdie vorm van ontsteltenis behou en die ander laat gaan nie. 4Vir             die doel van hierdie oefeninge sal ek hulle dus almal as dieselfde beskou.

7. Ondersoek jou geestesdenke dan vir nie langer as ongeveer ’n minuut nie, en probeer om ’n aantal verskillende vorms van ontsteltenis wat jou bekommer, te identifiseer, ongeag die relatiewe belangrikheid wat jy miskien aan hulle toeken. 2Pas vandag se idee op elkeen van hulle toe deur beide die naam van die bron van ontsteltenis te noem, soos jy dit sien, asook die gevoel, soos jy dit ervaar. 3Verdere voorbeelde is:

              4Ek is nie bekommerd oor _________ om die redes wat ek dink nie.

              5Ek is nie depressief oor __________om die redes wat ek dink nie.

6Drie of vier keer gedurende die dag is genoeg.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 5: I am never upset for the reason I think. (ACIM, W-5)

All quotes are from A Course in Miracles, Third Edition.
Copyright © 2007 by the Foundation for Inner Peace, copyright holder and publisher.
448 Ignacio Blvd., #306, Novato, CA 94949, acim.org, used with permission.

© 2026 Hemelbewus

Patternstorm Designs