Etiket: Afrikaans ACIM

Les 39 – My heiligheid is my verlossing.

1. As skuld die hel self is, wat is die teenoorgestelde daarvan? 2Net soos die teks waarvoor hierdie werkboek geskryf is, is die idees wat vir die oefeninge gebruik word eenvoudig, baie duidelik en geheel en al ondubbelsinnig. 3Dit gaan nie vir ons oor intellektuele prestasies of speletjies met die logika nie. 4Ons hou ons slegs besig met die heel voor die hand liggende wat in die waas van ingewikkeldheid waarin jy dink jy dink, nie raakgesien word nie.

2. As skuld die hel is, wat is die teenoorgestelde daarvan? 2Dit is tog sekerlik nie moeilik nie. 3Jou aarseling om te antwoord is nie te wyte aan die dubbelsinnigheid van die vraag nie. 4Maar glo jy wel dat skuld die hel is? 5Indien wel, sou jy dadelik sien hoe direk en eenvoudig die teks is, en sal jy glad nie ’n werkboek nodig hê nie. 6Niemand hoef te oefen om te verwerf wat alreeds syne is nie.

3. Ons het alreeds gesê dat jou heiligheid die verlosssing van die wêreld is. 2Wat dan van jou eie verlossing? 3Jy kan nie gee wat jy nie het nie. 4’n Verlosser moet verlos wees. 5Hoe kan hy anders verlossing onderrig? 6Vandag se oefeninge geld vir jou, in die besef dat jou verlossing noodsaaklik vir die verlossing van die wêreld is. 7Wanneer jy die oefeninge op jou wêreld toepas, sal die hele wêreld baat vind.

4. Jou heiligheid is die antwoord op elke vraag wat ooit gestel was, wat nou gestel word of in die toekoms gestel sal word. 2Jou heiligheid beteken die einde van skuld, en daarom die einde van hel. 3Jou heiligheid is die verlossing van die wêreld, en jou eie. 4Hoe kan jy, aan wie jou heiligheid behoort, daarvan uitgesluit wees? 5God ken nie onheiligheid nie. 6Kan dit wees dat Hy nie Sy Seun ken nie?

5. ’n Volle vyf minute vir die vier langer oefenperiodes van vandag word aangeraai, en langer en meer herhaaldelike oefensessies word aangemoedig. 2As jy die minimum vereiste wil oorskry, word eerder méér as langer sessies aanbeveel, alhoewel beide voorgestel word.

6. Begin die oefenperiodes soos gewoonlik deur vandag se idee vir jouself te herhaal. 2Spoor dan met geslote oë jou liefdelose gedagtes op, in watter vorm hulle ook al mag verskyn: ongemak, depressie, woede, vrees, bekommernis, aggressie, onsekerheid, ensovoorts. 3Watter vorm hulle ook al aanneem, hulle is liefdeloos en daarom angswekkend. 4En dit is dus hulle waarvan jy verlos moet word.

7. Spesifieke situasies, gebeure of persoonlikhede wat jy met allerlei liefdelose gedagtes assosieer, is geskikte onderwerpe vir vandag se oefeninge. 2Dit is noodsaaklik vir jou verlossing dat jy hulle anders sien. 3En dit is jou seën oor hulle wat jou sal verlos en aan jou visie sal verskaf.

8. Ondersoek jou geestesdenke stadig, sonder om bewustelik te kies en sonder om een spesiaal te beklemtoon, vir elke gedagte wat tussen jou en jou verlossing staan. 2Pas die idee vir vandag op elkeen van hulle soos volg toe:

              3My liefdelose gedagtes oor __________ hou my in die hel.

               4 My heiligheid is my verlossing.

9. Jy mag hierdie oefenperiodes makliker vind as jy dit afwissel met verskeie kort oefenperiodes waartydens jy bloot vandag se idee ’n paar keer stadig vir jouself herhaal. 2Jy mag dit ook nuttig vind om ’n paar kort tussenposes in te sluit waartydens jy net ontspan en skynbaar aan niks dink nie. 3Volgehoue konsentrasie is aan die begin baie moeilik. 4Dit sal baie makliker word soos jou geestesdenke meer gedissiplineerd en minder verstrooid raak.

10. Intussen behoort jy vry te voel om enige variasie tydens die oefenperiodes in te bring, wat ook al by jou ingang vind. 2Moet egter nie die idee self, soos jy die toepassingsmetode varieer, verander nie. 3Hoe jy ook al verkies om dit te gebruik, moet die idee só gestel word dat die betekenis daarvan ’n feit bly dat jou heiligheid jou verlossing is. 4Beëindig elke oefenperiode deur weereens die idee in sy oorspronklike vorm te herhaal, en daaraan toe te voeg:

              5As skuld hel is, wat is die teenoorgestelde daarvan?

11. Tydens die korter toepassings wat indien moontlik drie of vier keer ’n uur gedoen moet word, kan jy jouself hierdie vraag stel, vandag se idee herhaal, en liefs beide doen. 2As versoekings ontstaan, is die volgende ’n besondere nuttige vorm van die idee:

              3My heiligheid is my verlossing hiervan.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 39: My holiness is my salvation. (ACIM, W-39)

Les 10 – My gedagtes beteken niks nie.

1. Hierdie idee is van toepassing op al die gedagtes waarvan jy bewus is, of bewus van word tydens die oefenperiodes. 2Die rede waarom die idee op hulle almal van toepassing is, is dat hulle nie jou werklike gedagtes is nie. 3Ons het al voorheen hierdie onderskeid gemaak, en sal dit weer doen. 4Jy het tot nog toe nog nie ’n basis vir vergelyking nie. 5Sodra jy het, sal jy geen twyfel daaroor hê dat wat jy eers geglo het jou gedagtes was, niks beteken het nie.

2. Dit is die tweede keer dat ons hierdie soort idee gebruik. 2Die vorm alleen is ’n bietjie anders. 3Hierdie keer word die idee begin met “My gedagtes” in plaas van “Hierdie gedagtes”, en word nie uiterlik en by name verbind met die dinge rondom jou nie. 4Die klem is nou op die gebrek aan werklikheid van wat jy dink jy dink.

3. Hierdie aspek van die korreksieproses het begin met die idee dat die gedagtes waarvan jy bewus is, betekenisloos is, en eerder buite jou as binne jou was; en daarna is beklemtoon dat hulle status in die verlede gelê het eerder as in die hede. 2Nou beklemtoon ons dat die teenwoordigheid van hierdie “gedagtes” juis beteken dat jy nie dink nie. 3Dit is bloot ’n ander manier om ons vorige stelling te herhaal dat jou geestesdenke in werklikheid leeg is. 4Om dit te erken, beteken om te erken dat jy niks sien nie, as jy dink dat jy dit sien. 5As sodanig is hierdie erkenning die voorwaarde vir visie.

4. Sluit jou oë vir hierdie oefeninge, en begin hulle deur vandag se idee redelik stadig vir jouself te herhaal. 2Voeg dan by:

              3Hierdie idee sal help om my te bevry van alles wat ek nou glo.

4Die oefeninge bestaan, soos voorheen, daaruit om jou geestesdenke te ondersoek vir alle gedagtes wat daar beskikbaar is, sonder om te kies of te oordeel. 5Probeer om enige soort indelings te vermy. 6As dit jou sou help, kon jy jou trouens voorstel dat jy ’n eienaardig saamgestelde optog sien verbybeweeg wat vir jou min of geen persoonlike betekenis het nie. 7En soos elke gedagte deur jou geestesdenke gaan, sê jy:

              8My gedagte oor __________ beteken niks nie.

              9My gedagte oor __________ beteken niks nie.

5. Vandag se idee kan vanselfsprekend nuttig wees vir enige gedagtes wat jou op ’n gegewe tydstip kwel. 2Vyf oefenperiodes word bykomend aanbeveel, nie een langer as ongeveer ’n minuut se ondersoek van die geestesdenke nie. 3Dit word nie aanbeveel dat hierdie tydsduur oorskry word nie, en dit moet na ’n halwe minuut of korter verminder word as jy ongemak ervaar. 4Onthou egter om die idee stadig te herhaal voordat dit spesifiek toegepas word, en ook om by te voeg:

            5Hierdie idee sal help om my te bevry van alles wat ek nou glo.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 10: My thoughts do not mean anything. (ACIM, W-10)

All quotes are from A Course in Miracles, Third Edition.
Copyright © 2007 by the Foundation for Inner Peace, copyright holder and publisher.
448 Ignacio Blvd., #306, Novato, CA 94949, acim.org, used with permission.

© 2026 Hemelbewus

Patternstorm Designs