Kategorie: Uncategorized

Les 60 – Hersiening (46-50)

Die volgende idees word vandag hersien:

1.             (46) God is die Liefde waarin ek vergewe.

2God vergewe nie, want Hy het nooit veroordeel nie. 3Wie onskuldig is, kan nie beskuldig nie, en wie hulle onskuld aanvaar het, sien niks om te vergewe nie. 4Tog is vergifnis die middel waardeur ek my onskuld sal herken. 5Dit is die weerspieëling van God se Liefde op aarde. 6Dit sal my na genoeg aan die Hemel bring sodat die Liefde van God na my kan neerbuig en my na Hom toe kan ophef.

2.            (47) God is die krag waarop ek vertrou.

2Dit is nie my eie krag waarmee ek vergewe nie. 3Dit is die krag van God in my wat ek onthou as ek vergewe. 4Soos ek begin sien, herken ek Sy weerspieëling op aarde. 5Ek vergewe alle dinge omdat ek Sy Krag in my voel ontwaak. 6En ek begin om die Liefde te onthou wat ek verkies het om te vergeet, maar wat my nie vergeet het nie.

3.             (48) Daar is niks om te vrees nie.

2Hoe veilig sal die wêreld nie vir my lyk wanneer ek dit kan sien nie! 3Dit sal hoegenaamd nie lyk soos dit wat ek nou dink ek sien nie. 4Alles en almal wat ek sien, sal hulle na my wend om my te seën. 5Ek sal in almal my beste Vriend herken. 6Wat sou daar kon wees om te vrees in ’n wêreld wat ek vergewe het, en wat my vergewe het?

4.            (49) God se Stem praat met my die hele dag deur.

2Daar is nie ’n oomblik dat God se Stem ophou om ’n oproep te doen op my bereidheid tot vergifnis ten einde my te verlos nie. 3Daar is nie ’n oomblik dat Sy Stem nie my gedagtes lei, my handelinge rig, en my voete stuur nie. 4Ek stap gestadig en doelgerig die waarheid tegemoet. 5Ek kan nêrens anders gaan nie, want God se Stem is die enigste Stem en die enigste Gids wat aan Sy Seun gegee is.

5. (50) Ek word deur die Liefde van God gedra.

2Soos ek na God se Stem luister, word ek deur Sy Liefde gedra. 3Soos ek my oë oopmaak, verlig Sy Liefde die wêreld sodat ek kan sien. 4Soos ek vergewe, herinner Sy Liefde my dat Sy Seun sonder sonde is. 5En soos ek die wêreld aanskou met die visie wat Hy my gegee het, onthou ek dat ek Sy Seun is.

✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”

Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 60: Review (46-50). (ACIM, W-60)

Les 59 – Hersiening (41-45)

Hier is die volgende idees om vandag te hersien:

1.             (41) God gaan met my, waar ek ook al gaan.

2Hoe kan ek alleen wees as God altyd saam met my gaan? 3Hoe kan ek twyfelagtig en onseker oor myself wees as daar volmaakte sekerheid in Hom rus? 4Hoe kan ek deur enigiets ontstel word as Hy in my woon in absolute vrede? 5Hoe kan ek ly as liefde en vreugde my, danksy Hom, omring. 6Laat ek geen illusies oor myself koester nie. 7Ek is volmaak, want God gaan met my, waar ek ook al gaan.

2.             (42) God is my Krag. 2Visie is Sy geskenk.

3Laat ek nie vandag op my eie oë staatmaak om te sien nie. 4Laat ek gewillig wees om my jammerlike illusie van wat sien is, te verruil vir die visie wat deur God gegee word. 5Christus se visie is Sy geskenk, en Hy het dit vir my gegee. 6Laat ek my vandag op hierdie geskenk beroep, sodat hierdie dag my kan help om die ewigheid te begryp.

3.             (43) God is my Bron. 2Los van Hom kan ek nie sien nie.

3Ek kan sien wat God wil hê ek moet sien. 4Ek kan nie enigiets anders sien nie. 5Buite Sy Wil is daar slegs illusies. 6Dít is wat ek kies wanneer ek dink ek los van Hom kan sien. 7Dít is wat ek kies wanneer ek probeer om met die liggaam se oë te sien. 8Tog is die visie van Christus vir my gegee om hulle te vervang. 9Dit is met hierdie visie dat ek wil sien.

4.             (44) God is die lig waarin ek sien.

2Ek kan nie in die duisternis sien nie. 3God is die enigste lig. 4As ek dus wil sien, moet dit deur Hom wees. 5Ek het probeer bepaal wat sig is, en ek was verkeerd. 6Nou word dit my gegee om te begryp dat God die Lig is waarin ek sien. 7Laat ek visie, en die gelukkige wêreld wat dit my sal wys, verwelkom.

5.             (45) God is die Geestesdenke waarmee ek dink.

2Ek het geen gedagtes wat ek nie met God deel nie. 3Ek het apart van Hom geen gedagtes nie, want ek het geen geestesdenke apart van Syne nie. 4As deel van Sy Geestesdenke is my gedagtes Syne en Sy Gedagtes myne.

✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”

Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 59: Review (41-45). (ACIM, W-59)

Les 58 – Hersiening (36-40)

Die volgende idees word vandag hersien:

1.             (36) My heiligheid omvou alles wat ek sien.

2Vanuit my heiligheid kom my persepsie van die werklike wêreld. 3Nou dat ek vergewe het, sien ek myself nie meer as skuldig nie. 4Ek kan die onskuld wat die waarheid oor my is, aanvaar. 5Gesien deur begrypende oë, is die heiligheid van die wêreld al wat ek sien, want ek kan maar net die gedagtes wat ek oor myself koester, uitbeeld.

2.             (37) My heiligheid seën die wêreld.

2My persepsie van my heiligheid seën my nie alleen nie. 3Almal en alles wat ek in die lig daarvan sien, deel in die vreugde wat dit my bring. 4Daar is niks buite en behalwe vreugde nie, want daar is niks wat nie my heiligheid deel nie. 5Soos ek my heiligheid herken, skyn die heiligheid van die wêreld al verder uit vir almal om te sien.

3.             (38) Daar is niks wat my heiligheid nie kan doen nie.

2My heiligheid is in sy krag van genesing onbeperk, omdat dit onbeperk is in die krag van sy verlossing. 3Wat is daar om van verlos te word, behalwe illusies? 4En wat is alle illusies anders as vals idees oor myself? 5My heiligheid maak hulle almal ongedaan deur die waarheid oor my te bevestig. 6In die teenwoordigheid van my heiligheid, wat ek met God Self deel, verdwyn alle afgode.

4.             (39) My heiligheid is my verlossing.

2Aangesien my heiligheid my van alle skuld verlos, beteken ’n erkenning van my heiligheid ’n erkenning van my verlossing. 3Dit is ook ’n erkenning van die verlossing van die wêreld. 4As ek eenmaal my heiligheid aanvaar het, kan niks my bang maak nie. 5En omdat ek nie bang is nie, moet iedereen my insig deel, wat die geskenk is van God aan my en die wêreld.

5.             (40) Ek is geseënd as ’n Seun van God.

2Hierin lê my aanspraak op al die goeie en alleenlik die goeie. 3Ek is geseënd as ’n Seun van God. 4Alle goeie dinge is myne, want God het hulle vir my bedoel. 5Ek kan geen verlies, ontbering of pyn ly nie, dit alles op grond van Wie ek is. 6My Vader ondersteun, beskerm en lei my in alle dinge. 7Sy sorg vir my is oneindig, en vergesel my altyd. 8Ek is vir ewig geseënd as Sy Seun.

✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”

Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 58: Review (36-40). (ACIM, W-58)

Les 57 – Hersiening (31-35)

Laat ons vandag die volgende idees hersien:

1.             (31) Ek is nie ’n slagoffer van die wêreld wat ek sien nie.

2Hoe kan ek die slagoffer van ’n wêreld wees wat volledig ongedaan gemaak kan word as ek so verkies? 3My kettings is losgemaak. 4Ek kan hulle laat afval deur bloot so te wens. 5Die tronkdeur staan oop. 6Ek kan vertrek deur eenvoudig uit te loop. 7Niks hou my in hierdie wêreld vas nie. 8Slegs my wens om te bly, hou my gevange. 9Ek sal my waansinnige wense opgee en uiteindelik die sonlig in loop.

2.             (32) Ek het die wêreld wat ek sien, self uitgedink.

2Die tronk, waarin ek myself sien, is my eie maaksel. 3Al wat ek hoef te doen, is om dit in te sien, en ek is vry. 4Ek het myself wysgemaak dat dit moontlik is om die Seun van God gevange te neem. 5Ek het my bitterlik in hierdie oortuiging wat ek nie langer wil hê nie, misgis. 6Die Seun van God moet vir ewig vry wees. 7Hy is soos God hom geskep het en nie wat ek van hom wil maak nie. 8Hy is waar God wil hê hy moet wees, en nie waar ek gedink het om hom gevange te hou nie.

3.             (33) Daar is ’n ander manier om na die wêreld te kyk.

2Aangesien die doel van die wêreld nie die een is wat ek daaraan toegeken het nie, moet daar ’n ander manier wees om daarna te kyk. 3Ek sien alles onderstebo, en my gedagtes is die teenoorgestelde van die waarheid. 4Ek sien die wêreld as ’n gevangenis vir God se Seun. 5Dan moet dit dus so wees dat die wêreld in werklikheid ’n plek is waar hy bevry kan word. 6Ek wil die wêreld beskou soos dit is, en dit sien as ’n plek waar die Seun van God sy vryheid vind.

4.             (34) Ek sou vrede in plaas hiervan kan sien.

2Wanneer ek die wêreld as ’n plek van vryheid sien, besef ek dit weerspieël die wette van God in plaas van die reëls wat ek daarvoor opgemaak het waaraan hy moet gehoorsaam. 3Ek sal begryp dat vrede daarin woon, en nie stryd nie. 4En dan sal ek sien dat vrede ook woon in die harte van almal wat hierdie plek met my deel.

5.             (35) My geestesdenke is deel van God se Geestesdenke. 2Ek is baie heilig.

3Soos ek die vrede van die wêreld met my broers deel, begin ek begryp dat hierdie vrede van diep binne myself kom. 4Die wêreld waarna ek kyk, het die lig van my vergifnis aangeneem, en straal vergifnis na my terug. 5In hierdie lig begin ek sien wat my illusies oor myself verborge gehou het. 6Ek begin die heiligheid van al wat leef, myself ingeslote, en hulle éénheid met my, te begryp.

✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”

Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 57: Review (31-35). (ACIM, W-57)

Les 56 – Hersiening (26-30)

Ons hersiening omvat vandag die volgende:

1.             (26) My aanvalsgedagtes val my onkwetsbaarheid aan.

2Hoe kan ek weet wie ek is wanneer ek myself voortdurend as ’n slagoffer van aanval sien. 3Dit lyk of pyn, siekte, verlies, ouderdom en dood my bedreig. 4Dit kom voor of al my hoop, wense en planne aan die genade oorgelewer is van ’n wêreld waaroor ek geen beheer het nie. 5Tog is volmaakte veiligheid en volledige vervulling my erfenis. 6Ek het probeer om my erfenis weg te gee in ruil vir die wêreld wat ek sien. 7Maar God het my erfenis vir my veilig bewaar. 8My eie werklike gedagtes sal my leer wat dit is.

2. (27) Meer as enigiets anders, wil ek tog net kan sien.

2Omdat ek insien dat dit wat ek sien, ’n weerspieëling is van wat ek dink ek is, besef ek dat visie my grootste behoefte is. 3Die wêreld wat ek sien, getuig van die angswekkende aard van die selfbeeld wat ek gemaak het. 4As ek wil onthou wie ek is, is dit noodsaaklik dat ek hierdie beeld van myself laat vaar. 5Soos dit deur waarheid vervang word, sal visie sekerlik aan my geskenk word. 6En met hierdie visie sal ek met mildheid en liefde die wêreld en myself aanskou.

3.             (28) Ek wil, meer as enigiets anders, dinge anders sien.

2Die wêreld wat ek sien, hou my angswekkende selfbeeld in stand, en waarborg die voortsetting daarvan. 3Terwyl ek die wêreld sien soos ek dit nou sien, kan die waarheid nie tot my bewussyn deurdring nie. 4Ek wil graag dat die deur agter hierdie wêreld vir my oopgemaak word, sodat ek daaragter die wêreld kan sien wat die Liefde van God weerspieël.

4.             (29) God is in alles wat ek sien.

2Agter elke beeld wat ek gevorm het, bly die waarheid onveranderd. 3Agter elke sluier wat ek oor die gelaat van die liefde getrek het, het die lig helder en onverdof gebly. 4Agter al my waansinnige wense is my wil verenig met die Wil van my Vader. 5God is steeds oral en vir ewig in alles. 6En ons, wat deel van Hom is, sal uiteindelik verby alle uiterlike verskyningsvorms verby kyk en die volle waarheid daaragter herken.

5.             (30) God is alles wat ek sien, want God is in my geestesdenke.

2In my eie geestesdenke, agter al my waansinnige skeidings- en aanvalsgedagtes, is die kennis dat alles vir ewig een is. 3Ek het nie die kennis van Wie ek is verloor deur dit te vergeet nie. 4Dit het vir my behoue gebly in die Geestesdenke van God wat nie Sy Gedagtes verlaat het nie. 5En ek, wat daartoe behoort, is één daarmee en één met Hom.

✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”

Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 56: Review (26-30). (ACIM, W-56)

Les 55 – Hersiening (21-25)

Vandag se hersiening sluit die volgende in:

1.             (21) Ek is vasbeslote om dinge anders te sien.

2Wat ek nou sien, is slegs tekens van siekte, rampspoed en dood. 3Dit kan voorwaar nie wees wat God vir Sy geliefde Seun geskep het nie. 4Die blote feit dat ek sulke dinge sien, bewys dat ek God nie begryp nie. 5Daarom begryp ek ook nie Sy Seun nie. 6Wat ek sien, sê vir my dat ek nie weet wie ek is nie. 7Ek is vasbeslote om die getuies van waarheid in my te sien, eerder as dié wat my ’n illusie van myself wys.

2.             (22) Wat ek sien, is ’n vorm van wraak.

2Die wêreld wat ek sien, is beswaarlik ’n weergawe van liefdevolle gedagtes. 3Dit is ’n beeld van hoe alles mekaar aanval. 4Dit is alles behalwe ’n weerspieëling van die Liefde van God en die Liefde van Sy Seun. 5Dit is my eie aanvalsgedagtes wat tot hierdie beeld aanleiding gee. 6My liefdevolle gedagtes sal my van hierdie persepsie van die wêreld red, en my die vrede gee wat God vir my bestem het.

3.             (23) Ek kan aan hierdie wêreld ontsnap deur aanvalsgedagtes op te gee.

2Verlossing lê hierin, en nêrens anders nie. 3Sonder aanvalsgedagtes sou ek nie ’n wêreld van aanval kon sien nie. 4Soos vergifnis my weer bewus laat word van liefde, sal ek ’n wêreld van vrede, veiligheid en vreugde sien. 5En dít is wat ek verkies om te sien, in plaas van dit waarna ek nou kyk.

4.             (24) Ek sien nie wat in my eie beste belang is nie.

2Hoe kan ek my hoogste belang ken as ek nie weet wie ek is nie? 3Wat ek dink in my eie belang is, bind my bloot meer aan die wêreld van illusies vas. 4Ek is gewillig om die Gids wat God my verskaf het, te volg om uit te vind wat in my eie hoogste belang is, omdat ek besef dat ek hulle uit myself alleen nie kan sien nie.

5.             (25) Ek weet nie waarvóór enigiets daar is nie.

2Vir my is die doel van alles om te bewys dat my illusies oor myself werklik is. 3Vir hierdie doel probeer ek almal en alles gebruik. 4Dit is wat ek glo die doel van die wêreld is. 5Daarom herken ek nie sy werklike doel nie. 6Die doel wat ek aan die wêreld gegee het, het tot ’n vreesaanjaende beeld daarvan aanleiding gegee. 7Laat ek my geestesdenke vir die wêreld se werklike doel oopstel deur die een wat ek daaraan gegee het, te onttrek, en die waarheid daaroor te leer.

✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”

Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 55: Review (21-25). (ACIM, W-55)

Les 54 – Hersiening (16-20)

Vandag word die volgende idees hersien:

1.             (16) Ek het geen neutrale gedagtes nie.

2Neutrale gedagtes is onmoontlik, want alle gedagtes beskik oor krag. 3Hulle sal óf ’n vals wêreld maak óf hulle sal my na die werklike een lei. 4Maar gedagtes kan nie sonder gevolge wees nie. 5Soos die wêreld wat ek sien, voortspruit uit my denkfoute, sal die werklike wêreld voor my oë verrys as ek my foute laat korrigeer. 6My gedagtes kan nie nóg waar nóg onwaar wees nie. 7Hulle moet óf die een óf die ander wees. 8Wat ek sien, wys my wat hulle is.

2.             (17) Ek sien geen neutrale dinge nie.

2Wat ek sien, getuig van wat ek dink. 3As ek nie gedink het nie, sou ek nie bestaan het nie, want lewe is denke. 4Laat ek na die wêreld wat ek sien, kyk as ’n weerspieëling van my eie stand van geestesdenke. 5Ek weet dat die toestand van my geestesdenke kan verander. 6En dus weet ek verder dat die wêreld wat ek sien, ook kan verander.

3.             (18) Ek ervaar nie die gevolge van my sien alleen nie.

2As ek geen private gedagtes het nie, kan ek nie ’n private of afgesonderde wêreld sien nie. 3Selfs die dwase idee van skeiding moes gedeel word voordat dit die basis kon word van die wêreld wat ek sien. 4Maar daardie verdeling was die deling van niksheid. 5Ek kan egter ook ’n beroep doen op my werklike gedagtes, wat alles met almal deel. 6Net soos my gedagtes van skeiding ander se gedagtes van skeiding aanroep, laat my werklike gedagtes die werklike gedagtes in hulle ontwaak. 7En die wêreld wat my werklike gedagtes vir my wys, sal verrys voor sowel hulle oë as myne.

4.             (19) Ek ervaar nie die gevolge van my gedagtes alleen nie.

2Ek is in niks alleen nie. 3Alles wat ek dink of sê of doen, onderrig die hele universum. 4’n Seun van God kan nie vergeefs dink of praat of doen nie. 5Hy kan in niks alleen wees nie. 6Dit is dus binne my mag om elkeen se geestesdenke saam met myne te verander, want aan my behoort die krag van God.

5.             (20) Ek is vasbeslote om te sien.

2Omdat ek insien dat my gedagtes altyd met ander gedeel word, is ek vasbeslote om te sien. 3Ek wil na die getuies kyk wat my sal wys dat die denke van die wêreld verander het. 4Ek wil die bewys aanskou dat wat deur middel van my gedoen is, die liefde in staat gestel het om vrees te vervang, lag in staat gestel het om trane te vervang en oorvloed in staat gestel het om verlies te vervang. 5Ek wil die werklike wêreld sien, en my daardeur laat leer dat my wil en die Wil van God één is.

✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”

Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 54: Review (16-20). (ACIM, W-54)

Les 53 – Hersiening (11-15)

Ons sal vandag die volgende hersien:

1.             (11) My betekenislose gedagtes laat my ’n betekenislose wêreld sien.

2Aangesien die gedagtes waarvan ek bewus is, niks beteken nie, kan die wêreld wat deur hulle uitgebeeld word nie betekenis hê nie. 3Dit waardeur hierdie wêreld voortgebring is, is waansinnig, en dieselfde geld vir dit wat die wêreld voortbring. 4Die werklikheid is nie waansinnig nie, en ek het sowel werklike as waansinnige gedagtes. 5Ek kan daarom die werklike wêreld sien, as ek op my werklike gedagtes sou staatmaak as rigsnoer om te sien.

2.               (12) Ek voel ontsteld omdat ek ’n betekenislose wêreld sien.

2.Waansinnige gedagtes is ontstellend. 3Hulle bring ’n wêreld voort waarin daar nêrens orde is nie. 4Net chaos regeer ’n wêreld wat ’n weergawe is van chaotiese denke, en chaos ken geen wette nie. 5Ek kan nie in so ’n wêreld in vrede leef nie. 6Ek is dankbaar dat hierdie wêreld nie werklik is nie en ek dit hoegenaamd nie hoef te sien nie, tensy ek kies om waarde daaraan te verleen. 7En ek kies om nie waarde te verleen aan wat heeltemal waansinnig is en geen betekenis het nie.

3.             (13) ’n Betekenislose wêreld veroorsaak vrees.

2Wat totaal waansinnig is, veroorsaak vrees omdat dit heeltemal onbetroubaar is en geen basis vir vertroue bied nie. 3In waansin is niks te vertrou nie. 4Dit bied geen veiligheid en hoop nie. 5Maar so ’n wêreld is nie werklik nie. 6Ek het daaraan die illusie van werklikheid verskaf en het gely as gevolg van my geloof daarin. 7Nou verkies ek om hierdie geloof terug te trek, en my vertroue in die werklikheid te stel. 8Deur dit te kies, sal ek van al die gevolge van die wêreld van vrees ontsnap, want ek erken dat dit nie bestaan nie.

4.             (14) God het nie ’n betekenislose wêreld geskep nie.

2Hoe kan ’n betekenislose wêreld bestaan as God dit nie geskep het nie? 3Hy is die Bron van alle betekenis, en alles wat werklik is, is in Sy Geestesdenke. 4Dit is ook in my geestesdenke, want Hy het dit met my geskep. 5Waarom sal ek voortgaan om te ly aan die gevolge van my eie waansinnige gedagtes as die volmaaktheid van die skepping my tuiste is? 6Laat ek die krag van my keuse onthou en besef waar ek regtig woon.

5.             (15) My gedagtes is beelde wat ek gemaak het.

2Wat ek ook al sien, is ’n weerspieëling van my gedagtes. 3Dit is my gedagtes wat my vertel waar ek is en wat ek is. 4Die feit dat ek ’n wêreld van swaarkry, verlies en dood sien, wys my dat ek bloot ’n weergawe van my waansinnige gedagtes sien, en nie my werklike gedagtes toelaat om hulle weldadige lig te werp op wat ek sien nie. 5Tog is God se weg seker. 6Die beelde wat ek gemaak het, kan Hom nie oorweldig nie, want dit is nie my wil dat dit geskied nie. 7My wil is Syne, en ek sal geen ander gode voor Sy aangesig hê nie.

✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”

Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 53: Review (11-15). (ACIM, W-53)

Les 52 – Hersiening (6-10)

Vandag se hersiening omvat hierdie idees:

1.             (6) Ek is ontsteld omdat ek sien wat nie daar is nie.

2Die werklikheid is nooit vreesaanjaend nie. 3Dit kan my onmoontlik ontstel. 4Die werklikheid bring alleen volmaakte vrede. 5As ek ontsteld is, is dit altyd omdat ek die werklikheid vervang het met illusies wat ek self opgemaak het. 6Die illusies is ontstellend, want ek het aan hulle werklikheid verskaf, en beskou dus die werklikheid as ’n illusie. 7Niks in God se skepping word op enige wyse deur hierdie verwarring van my beïnvloed nie. 8Ek raak altyd ontsteld deur heeltemal niks.

2.             (7) Ek sien slegs die verlede.

2Wanneer ek om my heen kyk, veroordeel ek die wêreld waarna ek kyk. 3Ek noem dit sien. 4Ek hou die verlede teen almal en alles, en maak hulle my vyand. 5As ek myself vergewe het en onthou het Wie ek is, sal ek almal en alles wat ek sien, seën. 6Daar sal geen verlede, en dus geen vyande wees nie. 7En ek sal met liefde na alles wat ek voorheen nie gesien het nie, kyk.

3.             (8) My geestesdenke is behep met gedagtes uit die verlede.

2Ek sien slegs my eie gedagtes, en my geestesdenke is behep met die verlede. 3Wat kan ek dan sien, soos dit is? 4Laat ek onthou dat ek na die verlede kyk om te verhoed dat die hede vir my geestesdenke duidelik word. 5Laat ek begryp dat ek probeer om tyd teen God te gebruik. 6Laat ek leer om die verlede weg te gee, in die besef dat ek sodoende niks opgee nie.

4.               (9) Ek sien niks soos dit nou is nie.

2As ek niks sien soos dit nou is nie, kan inderdaad gesê word dat ek heeltemal niks sien nie. 3Ek kan slegs wat nou is, sien. 4Die keuse is nie om die verlede of die hede te sien nie, die keuse is bloot om te sien, of nie. 5Wat ek verkies het om te sien, het my my visie gekos. 6Nou wil ek weer kies, sodat ek kan sien.

5.             (10) My gedagtes beteken niks nie.

2Ek het geen private gedagtes nie. 3Nogtans is dit alleen private gedagtes waarvan ek bewus is. 4Wat kan hierdie gedagtes tog beteken? 5Hulle bestaan nie, en beteken dus niks nie. 6Tog is my geestesdenke deel van die skepping, en deel van sy Skepper. 7Wil ek my nie eerder by die denke van die universum aansluit, as om wat regtig myne is met armsalige en betekenislose “private” gedagtes te verdoesel nie?

✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”

Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 52: Review (6-10). (ACIM, W-52)

All quotes are from A Course in Miracles, Third Edition.
Copyright © 2007 by the Foundation for Inner Peace, copyright holder and publisher.
448 Ignacio Blvd., #306, Novato, CA 94949, acim.org, used with permission.

© 2026 Hemelbewus

Patternstorm Designs