Die volgende idees word vandag hersien:
1. (46) God is die Liefde waarin ek vergewe.
2God vergewe nie, want Hy het nooit veroordeel nie. 3Wie onskuldig is, kan nie beskuldig nie, en wie hulle onskuld aanvaar het, sien niks om te vergewe nie. 4Tog is vergifnis die middel waardeur ek my onskuld sal herken. 5Dit is die weerspieëling van God se Liefde op aarde. 6Dit sal my na genoeg aan die Hemel bring sodat die Liefde van God na my kan neerbuig en my na Hom toe kan ophef.
2. (47) God is die krag waarop ek vertrou.
2Dit is nie my eie krag waarmee ek vergewe nie. 3Dit is die krag van God in my wat ek onthou as ek vergewe. 4Soos ek begin sien, herken ek Sy weerspieëling op aarde. 5Ek vergewe alle dinge omdat ek Sy Krag in my voel ontwaak. 6En ek begin om die Liefde te onthou wat ek verkies het om te vergeet, maar wat my nie vergeet het nie.
3. (48) Daar is niks om te vrees nie.
2Hoe veilig sal die wêreld nie vir my lyk wanneer ek dit kan sien nie! 3Dit sal hoegenaamd nie lyk soos dit wat ek nou dink ek sien nie. 4Alles en almal wat ek sien, sal hulle na my wend om my te seën. 5Ek sal in almal my beste Vriend herken. 6Wat sou daar kon wees om te vrees in ’n wêreld wat ek vergewe het, en wat my vergewe het?
4. (49) God se Stem praat met my die hele dag deur.
2Daar is nie ’n oomblik dat God se Stem ophou om ’n oproep te doen op my bereidheid tot vergifnis ten einde my te verlos nie. 3Daar is nie ’n oomblik dat Sy Stem nie my gedagtes lei, my handelinge rig, en my voete stuur nie. 4Ek stap gestadig en doelgerig die waarheid tegemoet. 5Ek kan nêrens anders gaan nie, want God se Stem is die enigste Stem en die enigste Gids wat aan Sy Seun gegee is.
5. (50) Ek word deur die Liefde van God gedra.
2Soos ek na God se Stem luister, word ek deur Sy Liefde gedra. 3Soos ek my oë oopmaak, verlig Sy Liefde die wêreld sodat ek kan sien. 4Soos ek vergewe, herinner Sy Liefde my dat Sy Seun sonder sonde is. 5En soos ek die wêreld aanskou met die visie wat Hy my gegee het, onthou ek dat ek Sy Seun is.
✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:
“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”
Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.
Lesson 60: Review (46-50). (ACIM, W-60)


