Die volgende idees word vandag hersien:
1. (36) My heiligheid omvou alles wat ek sien.
2Vanuit my heiligheid kom my persepsie van die werklike wêreld. 3Nou dat ek vergewe het, sien ek myself nie meer as skuldig nie. 4Ek kan die onskuld wat die waarheid oor my is, aanvaar. 5Gesien deur begrypende oë, is die heiligheid van die wêreld al wat ek sien, want ek kan maar net die gedagtes wat ek oor myself koester, uitbeeld.
2. (37) My heiligheid seën die wêreld.
2My persepsie van my heiligheid seën my nie alleen nie. 3Almal en alles wat ek in die lig daarvan sien, deel in die vreugde wat dit my bring. 4Daar is niks buite en behalwe vreugde nie, want daar is niks wat nie my heiligheid deel nie. 5Soos ek my heiligheid herken, skyn die heiligheid van die wêreld al verder uit vir almal om te sien.
3. (38) Daar is niks wat my heiligheid nie kan doen nie.
2My heiligheid is in sy krag van genesing onbeperk, omdat dit onbeperk is in die krag van sy verlossing. 3Wat is daar om van verlos te word, behalwe illusies? 4En wat is alle illusies anders as vals idees oor myself? 5My heiligheid maak hulle almal ongedaan deur die waarheid oor my te bevestig. 6In die teenwoordigheid van my heiligheid, wat ek met God Self deel, verdwyn alle afgode.
4. (39) My heiligheid is my verlossing.
2Aangesien my heiligheid my van alle skuld verlos, beteken ’n erkenning van my heiligheid ’n erkenning van my verlossing. 3Dit is ook ’n erkenning van die verlossing van die wêreld. 4As ek eenmaal my heiligheid aanvaar het, kan niks my bang maak nie. 5En omdat ek nie bang is nie, moet iedereen my insig deel, wat die geskenk is van God aan my en die wêreld.
5. (40) Ek is geseënd as ’n Seun van God.
2Hierin lê my aanspraak op al die goeie en alleenlik die goeie. 3Ek is geseënd as ’n Seun van God. 4Alle goeie dinge is myne, want God het hulle vir my bedoel. 5Ek kan geen verlies, ontbering of pyn ly nie, dit alles op grond van Wie ek is. 6My Vader ondersteun, beskerm en lei my in alle dinge. 7Sy sorg vir my is oneindig, en vergesel my altyd. 8Ek is vir ewig geseënd as Sy Seun.
✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:
“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”
Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.
Lesson 58: Review (36-40). (ACIM, W-58)


