Vandag se hersiening omvat hierdie idees:

1.             (6) Ek is ontsteld omdat ek sien wat nie daar is nie.

2Die werklikheid is nooit vreesaanjaend nie. 3Dit kan my onmoontlik ontstel. 4Die werklikheid bring alleen volmaakte vrede. 5As ek ontsteld is, is dit altyd omdat ek die werklikheid vervang het met illusies wat ek self opgemaak het. 6Die illusies is ontstellend, want ek het aan hulle werklikheid verskaf, en beskou dus die werklikheid as ’n illusie. 7Niks in God se skepping word op enige wyse deur hierdie verwarring van my beïnvloed nie. 8Ek raak altyd ontsteld deur heeltemal niks.

2.             (7) Ek sien slegs die verlede.

2Wanneer ek om my heen kyk, veroordeel ek die wêreld waarna ek kyk. 3Ek noem dit sien. 4Ek hou die verlede teen almal en alles, en maak hulle my vyand. 5As ek myself vergewe het en onthou het Wie ek is, sal ek almal en alles wat ek sien, seën. 6Daar sal geen verlede, en dus geen vyande wees nie. 7En ek sal met liefde na alles wat ek voorheen nie gesien het nie, kyk.

3.             (8) My geestesdenke is behep met gedagtes uit die verlede.

2Ek sien slegs my eie gedagtes, en my geestesdenke is behep met die verlede. 3Wat kan ek dan sien, soos dit is? 4Laat ek onthou dat ek na die verlede kyk om te verhoed dat die hede vir my geestesdenke duidelik word. 5Laat ek begryp dat ek probeer om tyd teen God te gebruik. 6Laat ek leer om die verlede weg te gee, in die besef dat ek sodoende niks opgee nie.

4.               (9) Ek sien niks soos dit nou is nie.

2As ek niks sien soos dit nou is nie, kan inderdaad gesê word dat ek heeltemal niks sien nie. 3Ek kan slegs wat nou is, sien. 4Die keuse is nie om die verlede of die hede te sien nie, die keuse is bloot om te sien, of nie. 5Wat ek verkies het om te sien, het my my visie gekos. 6Nou wil ek weer kies, sodat ek kan sien.

5.             (10) My gedagtes beteken niks nie.

2Ek het geen private gedagtes nie. 3Nogtans is dit alleen private gedagtes waarvan ek bewus is. 4Wat kan hierdie gedagtes tog beteken? 5Hulle bestaan nie, en beteken dus niks nie. 6Tog is my geestesdenke deel van die skepping, en deel van sy Skepper. 7Wil ek my nie eerder by die denke van die universum aansluit, as om wat regtig myne is met armsalige en betekenislose “private” gedagtes te verdoesel nie?



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 52: Review (6-10). (ACIM, W-52)