Etiket: Wonders

Les 33 – Daar is ’n ander manier om na die wêreld te kyk.

1. Vandag se idee is ’n poging om in te sien dat jy jou persepsie van die wêreld kan verander, in sowel sy uiterlike as sy innerlike aspek. 2’n Volle vyf minute behoort in die oggend en aand aan die toepassing bestee te word. 3Herhaal tydens hierdie oefenperiodes die idee so dikwels as wat jy dit gemaklik vind, alhoewel toepassings sonder gejaagdheid noodsaaklik bly. 4Wissel die ondersoek van jou uiterlike en innerlike persepsies af, maar sonder om die afwisseling as te skielik te ervaar.

2. Kyk bloot ongedwonge rond in die wêreld wat jy as buite jouself waarneem, sluit dan jou oë en ondersoek jou innerlike gedagtes met dieselfde ongedwongenheid. 2Probeer om teenoor beide ewe onbetrokke te bly, en hierdie onbetrokkenheid te behou terwyl jy die idee deur die dag herhaal.

3. Die korter oefenperiodes moet so veelvuldig moontlik wees. 2Spesifieke toepassings van vandag se idee moet ook onmiddellik gemaak word sodra enige situasie ontstaan wat jou in die versoeking bring om ontsteld te raak. 3Sê by sulke toepassings:

              4Daar is ’n ander manier om hierna te kyk.

4. Onthou om vandag se idee toe te pas sodra jy bewus word van ’n kwelling. 2Dit mag nodig wees om ’n minuut of langer stil te sit en die idee verskeie kere vir jouself te herhaal. 3Dit sal tydens hierdie soort toepassings heelwaarskynlik help om jou oë te sluit.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 33: There is another way of looking at the world. (ACIM, W-33)

Les 23 – Ek kan ontsnap aan die wêreld wat ek sien deur aanvalsgedagtes op te gee.

1. Vandag se idee bevat die enigste uitweg uit vrees wat ooit suksesvol sal wees. 2Niks anders sal werk nie; alles anders is betekenisloos. 3Maar hierdie manier kan nie misluk nie. 4Elke gedagte wat jy het, bou ’n gedeelte van die wêreld wat jy sien. 5Dit is dus met jou gedagtes wat ons moet werk om jou persepsie van die wêreld te verander.

2. As die oorsaak van die wêreld wat jy sien aanvalsgedagtes is, moet jy leer dat dit hierdie gedagtes is wat jy nie wil hê nie. 2Dit is nie sinvol om oor die wêreld te bly kerm en kla nie. 3Dit het geen sin om te probeer om die wêreld te verander nie. 4Dit is nie in staat om te verander nie, want dit is bloot ’n gevolg. 5Maar dit het weliswaar sin om jou gedagtes oor die wêreld te verander. 6Hiermee verander jy die oorsaak. 7Die gevolg sal vanself verander.

3. Die wêreld wat jy sien, is ’n wraaksugtige wêreld, en alles daarin is ’n simbool van wraak. 2Elkeen van jou persepsies omtrent die “eksterne werklikheid” is ’n voorstellingsprentjie van jou eie aanvalsgedagtes. 3’n Mens kan wel vra of dit sien genoem kan word. 4Is fantasie nie ’n beter woord vir so ’n proses, en hallusinasie ’n toepasliker term vir die resultaat nie?

4. Jy sien die wêreld wat jy gemaak het, maar jy sien jouself nie as die maker van die beeld nie. 2Jy kan nie van die wêreld verlos word nie, maar jy kan aan sy oorsaak ontkom. 3Dit is wat verlossing beteken, want waar is die wêreld wat jy sien, as sy oorsaak weg is? 4Visie het reeds ’n plaasvervanger vir alles wat jy dink jy nou sien. 5Lieflikheid kan jou beelde verlig en sodanig transformeer dat jy hulle sal liefhê, selfs al is hulle uit haat gemaak. 6Want jy sal hulle nie alleen maak nie.

5. Vandag se idee stel die gedagte bekend dat jy nie hulpeloos vasgevang is in die wêreld wat jy sien nie, want die oorsaak daarvan kan verander word. 2Dit vereis eerstens dat die oorsaak geïdentifiseer en daarna verwyder word, sodat dit vervang kan word. 3Die eerste twee stappe in hierdie proses vra jou samewerking. 4Die finale een vra dit nie. 5Jou beelde is alreeds vervang. 6Deur die eerste twee stappe te neem, sal jy sien dat dit so is.

6. Naas die gebruik van die idee dwarsdeur die dag wanneer die behoefte ontstaan, word nog vyf oefenperiodes benodig vir die toepassing daarvan. 2Terwyl jy om jou heen kyk, herhaal die idee eers stadig vir jouself, maak dan jou oë toe en bestee ongeveer ’n minuut om jou geestesdenke te ondersoek vir soveel aanvalsgedagtes as wat opduik. 3Soos elkeen deur jou geestesdenke gaan, sê:

            4Ek kan ontsnap aan die wêreld wat ek sien deur aanvalsgedagtes oor __________ op             te gee.

5Hou elke aanvalsgedagte in jou geestesdenke vas terwyl jy dit sê; laat daardie gedagte dan gaan en gaan voort met die volgende een.

7. Maak tydens die oefenperiodes seker om sowel jou gedagtes dat jy aanval, as dat jy aangeval word, in te sluit. 2Hulle gevolge is presies dieselfde, want hulle is presies dieselfde. 3Jy sien dit bloot nog nie in nie en word nou slegs gevra om dit tydens vandag se oefenperiodes as dieselfde te hanteer. 4Ons is nog steeds in dié stadium waar die oorsaak van die wêreld wat jy sien, geïdentifiseer word. 5Sodra jy uiteindelik leer dat gedagtes om aan te val en gedagtes dat jy aangeval word nie verskillend is nie, sal jy gereed wees om die oorsaak te los.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 23: I can escape from the world I see by giving up attack thoughts. (ACIM, W-23)

All quotes are from A Course in Miracles, Third Edition.
Copyright © 2007 by the Foundation for Inner Peace, copyright holder and publisher.
448 Ignacio Blvd., #306, Novato, CA 94949, acim.org, used with permission.

© 2026 Hemelbewus

Patternstorm Designs