1. Vandag se idee is natuurlik die rede waarom ’n betekenislose wêreld onmoontlik is. 2Wat God nie geskep het nie, bestaan nie. 3En alles wat bestaan, bestaan soos Hy dit geskep het. 4Die wêreld wat jy sien, het niks met die werklikheid te maak nie. 5Dit is jou eie maaksel en dit bestaan nie.

2. Vandag se oefeninge moet deurgaans met geslote oë gedoen word. 2Die tydperk waarin jy jou geestesdenke ondersoek, behoort kort te wees, hoogstens ’n minuut. 3Moenie meer as drie oefenperiodes met vandag se idee hou nie, tensy jy hulle gemaklik vind. 4Indien wel, sal dit wees omdat jy werklik begryp waartoe hulle dien.

3. Vandag se idee is ’n verdere stap om te leer om die gedagtes wat jy op die wêreld geskryf het, te laat vaar en in hulle plek die Woord van God te sien. 2Die eerste stappe in hierdie omruiling, wat in werklikheid verlossing genoem kan word, mag redelik moeilik en selfs behoorlik pynlik wees. 3Sommiges sal jou prontuit vreesbevange maak. 4Maar jy sal nie daar gelos word nie. 5Jy sal ver daarby verbygaan. 6Ons pad lei na volmaakte veiligheid en volmaakte vrede.

4. Dink met geslote oë aan al die afgryslikhede in die wêreld wat jou geestesdenke te binne skiet. 2Noem elkeen by die naam soos dit by jou opkom, en ontken dan die werklikheid daarvan. 3God het dit nie geskep nie, en dus is dit nie werklik nie. 4Sê byvoorbeeld:

              5God het nie daardie oorlog geskep nie, en dit is dus nie werklik nie.

              6God het nie daardie vliegtuigongeluk geskep nie, en dus is dit nie werklik nie.

            7God het nie daardie ramp (spesifiseer) geskep nie, en dit is dus nie werklik nie.

5. Geskikte onderwerpe vir die toepassing van vandag se idee sluit ook enigiets in wat jy bang is met jou mag gebeur, of met enigeen oor wie jy besorgd is. 2Die “ramp” moet in elke geval spesifiek omskryf word. 3Moenie algemene terme gebruik nie. 4Moet byvoorbeeld nie sê: “God het nie siekte geskep nie,” maar: “God het nie kanker geskep nie,” of hartaanvalle, of wat ook al vrees by jou ontlok.

6. Dit is jou persoonlike repertoire van afgryslikhede waarna jy kyk. 2Hierdie dinge is deel van die wêreld wat jy sien. 3Sommige daarvan is gemeenskaplike illusies, en ander is deel van jou persoonlike hel. 4Dit maak nie saak nie. 5Wat God nie geskep het nie, kan slegs in jou eie geestesdenke, apart van Syne, bestaan. 6Daarom het dit geen betekenis nie. 7Sluit, ter erkenning van hierdie feit, die oefenperiodes af met ’n herhaling van vandag se idee:

              8God het nie ’n betekenislose wêreld geskep nie.

7. Vandag se idee kan natuurlik op enigiets toegepas word wat, buite die oefenperiodes, jou gedurende die dag ontstel. 2Wees baie spesifiek in die toepassing daarvan. 3Sê:

4God het nie ’n betekenislose wêreld geskep nie. 5Hy het nie (spesifiseer die situasie wat jou ontstel) geskep nie en dit is dus nie werklik nie.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 14: God did not create a meaningless world. (ACIM, W-14)