Ons hersiening sal vandag hierdie idees dek:
1. (73) Ek wil dat daar lig moet wees
2Ek sal vandag die krag van my wil gebruik. 3Dit is nie my wil om in die duister rond te tas, bang vir skaduwees en onsigbare en onwerklike dinge nie. 4Lig sal vandag my gids wees. 5Ek sal dit volg waarheen dit my lei, en ek sal slegs sien wat dit my wys. 6Vandag sal ek die vrede van ware persepsie ervaar.
2. Die volgende vorms van die idee sal nuttig wees vir konkrete toepassing:
2Dit kan die lig wat ek wil sien, nie wegsteek nie.
3Jy staan saam met my in die lig, (naam).
4In die lig sal dit anders lyk.
3. (74) Daar is geen ander wil as God se Wil nie.
2Ek is vandag veilig, want daar is geen ander wil as God se Wil nie. 3Ek kan net bang word as ek glo dat daar ’n ander wil is. 4Ek probeer aanval slegs wanneer ek bang is, en net wanneer ek probeer aanval, kan ek glo dat my ewige veiligheid bedreig word. 5Vandag sal ek insien dat dit alles nie gebeur het nie. 6Ek is veilig, want daar is geen ander wil as God se Wil nie.
4. Hier volg ’n paar nuttige vorms van hierdie idee vir konkrete toepassing:
2Laat ek dit in ooreenstemming met die Wil van God sien.
3Dit is God se Wil dat jy Sy Seun is, (naam), en dis ook my wil.
4Dit is deel van God se Wil vir my, hoe ek dit ook al mag sien.
✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:
“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”
Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.
Lesson 87: Review (73-74). (ACIM, W-87)



