1. Vandag se idee is die eerste stap om die oortuiging dat jou gedagtes geen gevolge het nie, uit die weg te ruim. 2Alles wat jy sien, is die resultaat van jou gedagtes. 3Daar bestaan geen uitsondering op hierdie feit nie. 4Gedagtes is nie groot of klein, sterk of swak nie. 5Hulle is bloot waar of onwaar. 6Dié wat waar is, skep na hulle eie beeld. 7Dié wat onwaar is, maak hulle s’n.
2. Geen enkele begrip weerspreek homself meer as dié een oor “ledige gedagtes” nie. 2Wat aanleiding gee tot die persepsie van ’n hele wêreld kan beswaarlik ledig genoem word. 3Elke gedagte wat jy het, dra by tot waarheid of illusie: óf dit brei die waarheid uit, óf dit vermenigvuldig illusies. 4Jy kan inderdaad niks vermenigvuldig nie, maar jy sal dit sodoende ook nie uitbrei nie.
3. Naas jou erkenning dat gedagtes nooit ledig is nie, is dit vir verlossing ook nodig dat jy erken dat elke gedagte wat jy het jou óf vrede óf oorlog besorg, óf liefde óf vrees. 2’n Neutrale resultaat is onmoontlik omdat ’n neutrale gedagte onmoontlik is. 3Daar bestaan so ’n groot versoeking om vreesgedagtes af te maak as onbelangrik, onbenullig en nie die moeite werd om jou oor te bekommer nie, dat dit noodsaaklik is dat jy insien dat hulle almal ewe destruktief, maar ewe onwerklik is. 4Ons sal hierdie idee in vele vorms oefen voordat jy dit regtig begryp.
4. Wanneer jy vandag se idee toepas, ondersoek jy jou geestesdenke eers vir ongeveer ’n minuut lank met geslote oë, en probeer bewustelik geen enkele “klein” gedagtetjie oor te slaan wat neig om die soektog te ontwyk nie. 2Dit is nogal moeilik totdat jy daaraan gewoond raak. 3Jy sal vind dat dit steeds vir jou moeilik is om nie tog ’n kunsmatige onderskeid te tref nie. 4Elke gedagte wat by jou opkom, afgesien van die waarde wat jy daaraan heg, is geskik om vandag se idee op toe te pas.
5. Herhaal tydens die oefenperiodes eers die idee vir jouself, en hou elke gedagte vas soos dit jou geestesdenke te binne skiet, terwyl jy vir jouself sê:
2Hierdie gedagte oor __________ is nie ’n neutrale gedagte nie.
3Daardie gedagte oor __________ is nie ’n neutrale gedagte nie.
4Gebruik vandag se idee soos gewoonlik, wanneer jy ook al bewus word van ’n spesifieke gedagte wat ongemak veroorsaak. 5Die volgende vorm word voorgestel vir hierdie doel:
6Hierdie gedagte oor __________ is nie ’n neutrale gedagte nie, want ek het nie neutrale gedagtes nie.
6. Vier of vyf oefenperiodes word aanbeveel, as jy hulle relatief maklik vind. 2As spanning ervaar word, sal drie genoeg wees. 3Die lengte van die oefenperiode behoort ook verminder te word as daar ongemak voorkom.
✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:
“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”
Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.
📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org
Lesson 16: I have no neutral thoughts. (ACIM, W-16)


