Etiket: Spirituele oefeninge

Les 38 – Daar is niks wat my heiligheid nie kan doen nie.

1. Jou heiligheid draai al die wette van die wêreld om. 2Dit gaan enige tyd, ruimte, afstand en grense van enige aard te bowe. 3Jou heiligheid is totaal onbeperk in die mag daarvan, want dit bevestig jou as ’n Seun van God, één met die Geestesdenke van sy Skepper.

2. Deur jou heiligheid word die mag van God gemanifesteer. 2Deur jou heiligheid word die mag van God beskikbaar gestel. 3En daar is niks wat die mag van God nie kan doen nie. 4Jou heiligheid kan gevolglik alle pyn verwyder, alle smart en leed beëindig, en alle probleme oplos. 5Dit kan hy doen met betrekking tot jouself en enigiemand anders. 6Dit het dieselfde mag om elkeen te help omdat dit dieselfde mag het om iedereen te verlos.

3. As jy heilig is, is alles wat God geskep het ook heilig. 2Jy is heilig, omdat alle dinge wat Hy geskep het heilig is. 3En alle dinge wat Hy geskep het, is heilig, omdat jy heilig is. 4In vandag se oefeninge sal ons die mag van jou heiligheid benut vir alle probleme, moeilikhede of lyding van enige aard waaraan jy mag dink, in jouself of in iemand anders. 5Ons sal geen onderskeid tref nie, want daar is geen onderskeid nie.

4. Herhaal tydens die vier langer oefenperiodes, wat elk verkieslik ’n volle vyf minute moet duur, die idee vir vandag, sluit jou oë en ondersoek dan jou geestesdenke vir enige gevoel van verlies of ongelukkigheid van enige aard, soos jy dit sien. 2Probeer so min onderskeid as moontlik maak tussen situasies wat vir jou moeilik is en situasies wat vir iemand anders moeilik is. 3Dui die situasie spesifiek aan, en ook die naam van die betrokke persoon. 4Gebruik die volgende vorm om die idee vir vandag toe te pas:

              5In die situasie met betrekking tot __________ waarin ek myself sien, is daar

              niks wat my heiligheid nie kan doen nie.

              6In die situasie met betrekking tot __________ waarin __________ homself

              sien, is daar niks wat my heiligheid nie kan doen nie.

5. Miskien wil jy van tyd tot tyd hierdie werkswyse varieer en enkele verbandhoudende gedagtes van jou eie byvoeg. 2Jy sou byvoorbeeld gedagtes kon insluit soos:

              3Daar is niks wat my heiligheid nie kan doen nie, want die mag van God lê                         daarin.

4Bring enige variasies in waarvan jy hou, maar fokus die oefeninge op die tema: “Daar is niks wat my heiligheid nie kan doen nie.” 5Die doel van vandag se oefeninge is om die gevoel geleidelik in te prent dat jy heerskappy oor alle dinge het, as gevolg van wat jy is.

6. Pas die idee tydens die veelvuldige korter oefeninge toe in sy oorspronklike vorm, tensy ’n spesifieke probleem ten opsigte van jouself of iemand anders opduik, of in jou geestesdenke opkom. 2Gebruik in dié geval die meer spesifieke vorm van die idee en pas dit daarop toe.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 38: There is nothing my holiness cannot do. (ACIM, W-38)

Les 18 – Ek ervaar nie die gevolge van my sien alleen nie.

1. Vandag se idee is nog ’n verdere stap om te leer dat gedagtes wat aanleiding gee tot wat jy sien, nooit neutraal of onbelangrik is nie. 2Dit beklemtoon ook die idee dat almal se geestesdenke met mekaar verbind is, wat later toenemend benadruk sal word.

2. Vandag se idee verwys nie soseer na wát jy sien as hóé jy dit sien nie. 2Vandag se oefeninge beklemtoon dus hierdie aspek van jou persepsie. 3Die drie of vier aanbevele oefenperiodes moet soos volg gedoen word:

3. Kyk om jou heen, kies so willekeurig as moontlik onderwerpe vir die toepassing van vandag se idee, en hou jou oë lank genoeg op elkeen om te sê:

              2Ek ervaar nie die gevolge van hoe ek __________ sien alléén nie.

3Sluit elke oefenperiode af deur die meer algemene stelling te herhaal:

              4Ek ervaar nie die gevolge van my sien alléén nie.

5Ongeveer ’n minuut, of selfs minder, sal voldoende wees vir elke oefenperiode.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 18: I am not alone in experiencing the effects of my seeing. (ACIM, W-18)

Les 14 – God het nie ’n betekenislose wêreld geskep nie.

1. Vandag se idee is natuurlik die rede waarom ’n betekenislose wêreld onmoontlik is. 2Wat God nie geskep het nie, bestaan nie. 3En alles wat bestaan, bestaan soos Hy dit geskep het. 4Die wêreld wat jy sien, het niks met die werklikheid te maak nie. 5Dit is jou eie maaksel en dit bestaan nie.

2. Vandag se oefeninge moet deurgaans met geslote oë gedoen word. 2Die tydperk waarin jy jou geestesdenke ondersoek, behoort kort te wees, hoogstens ’n minuut. 3Moenie meer as drie oefenperiodes met vandag se idee hou nie, tensy jy hulle gemaklik vind. 4Indien wel, sal dit wees omdat jy werklik begryp waartoe hulle dien.

3. Vandag se idee is ’n verdere stap om te leer om die gedagtes wat jy op die wêreld geskryf het, te laat vaar en in hulle plek die Woord van God te sien. 2Die eerste stappe in hierdie omruiling, wat in werklikheid verlossing genoem kan word, mag redelik moeilik en selfs behoorlik pynlik wees. 3Sommiges sal jou prontuit vreesbevange maak. 4Maar jy sal nie daar gelos word nie. 5Jy sal ver daarby verbygaan. 6Ons pad lei na volmaakte veiligheid en volmaakte vrede.

4. Dink met geslote oë aan al die afgryslikhede in die wêreld wat jou geestesdenke te binne skiet. 2Noem elkeen by die naam soos dit by jou opkom, en ontken dan die werklikheid daarvan. 3God het dit nie geskep nie, en dus is dit nie werklik nie. 4Sê byvoorbeeld:

              5God het nie daardie oorlog geskep nie, en dit is dus nie werklik nie.

              6God het nie daardie vliegtuigongeluk geskep nie, en dus is dit nie werklik nie.

            7God het nie daardie ramp (spesifiseer) geskep nie, en dit is dus nie werklik nie.

5. Geskikte onderwerpe vir die toepassing van vandag se idee sluit ook enigiets in wat jy bang is met jou mag gebeur, of met enigeen oor wie jy besorgd is. 2Die “ramp” moet in elke geval spesifiek omskryf word. 3Moenie algemene terme gebruik nie. 4Moet byvoorbeeld nie sê: “God het nie siekte geskep nie,” maar: “God het nie kanker geskep nie,” of hartaanvalle, of wat ook al vrees by jou ontlok.

6. Dit is jou persoonlike repertoire van afgryslikhede waarna jy kyk. 2Hierdie dinge is deel van die wêreld wat jy sien. 3Sommige daarvan is gemeenskaplike illusies, en ander is deel van jou persoonlike hel. 4Dit maak nie saak nie. 5Wat God nie geskep het nie, kan slegs in jou eie geestesdenke, apart van Syne, bestaan. 6Daarom het dit geen betekenis nie. 7Sluit, ter erkenning van hierdie feit, die oefenperiodes af met ’n herhaling van vandag se idee:

              8God het nie ’n betekenislose wêreld geskep nie.

7. Vandag se idee kan natuurlik op enigiets toegepas word wat, buite die oefenperiodes, jou gedurende die dag ontstel. 2Wees baie spesifiek in die toepassing daarvan. 3Sê:

4God het nie ’n betekenislose wêreld geskep nie. 5Hy het nie (spesifiseer die situasie wat jou ontstel) geskep nie en dit is dus nie werklik nie.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 14: God did not create a meaningless world. (ACIM, W-14)

All quotes are from A Course in Miracles, Third Edition.
Copyright © 2007 by the Foundation for Inner Peace, copyright holder and publisher.
448 Ignacio Blvd., #306, Novato, CA 94949, acim.org, used with permission.

© 2026 Hemelbewus

Patternstorm Designs